Drie maal is skeepsreg. So lui die spreekwoord. Wel, ek en Tokkie het nou drie maal goue bruilof gevier.
Wat die begrip “skeepsreg” in die spreekwoord ookal beduie; ons kan gewis nou daarop aanspraak maak, glo ek.
Die eerste viering was ietwat prematuur. Op 26 Maart 2016 al het ons tent opgeslaan op die gras voor ons huis hier in Melkbos.
Ons goue bruilof op 31 Desember was een van die drie bakens in 2016 wat gevier is. (Die ander was my 75ste op 3 Januarie en Tokkie se 70ste op 15 Maart).
Die “tent van samekoms”, het Johan van Wyk ons tent genoem.
Op die groot dag self, oujaarsdag, het ons ‘n speenvarkie op die tafel gehad. Die Claassensgesin was hier vir die ongewone ete. ‘n Gedenkwaardige oomblik was toe Chistopher (7) se oog die eerste keer op die brosgebraaide varkie val. “‘n Wolf!” het hy dit uitgekreet.
Maar fees nommer drie – die “skeepsreg”-ene.
Wel, dit was ten minste op ‘n skip: te wete op die MSC Sinfonia op pad na Walvisbaai. Op Vrydag 21 April – 13 maande ná ons drie-baken-fees in die tent van samekoms.
Om 10:00 was daar ‘n kloppie aan die deur van kajuit 8152 op dek 8, die Bach-dek. ‘n Kelner in ‘n wit baadjie. Op die silwer skinkbord in sy hand was ‘n bottel Moët et Chandon, twee sjampanjeglase (vergeet van vonkelwyn!), twee glase met vars lemoensap en ‘n bordjie met ‘n croissante-keur.
Dis MSC se geskenk aan mense wat binne ses maande van hul vaart af goue bruilof gevier het. Nogal nie ‘n geskenk om te versmaai nie. Op die skip se wynlys in sy verskeidenheid sitkamers en kroegies is Moët et Chandon die duurste artikel: 70 dollar ‘n bottel!
Nietemin, ek en Tokkie het die lemoensap en die elegante croissante in die kajuit in ons alleenheid geniet. Die middag is ons met die ysemmer en ons kosbare feesbotteltjie na die Manhattankroeg op dek 5, die Beethovendek.
Die een glasie na die ander word geteug, en dit raak heeltemal ‘n okkasie toe Hermie Zietsman van die Oos-Kaap en sy vriend Charl Joubert langs ons op die bank inskuif terwyl die son begin water trek en twee nooientjies op die verhoog al hoe dromeriger sing.
Die romantiese geleentheid gaan nie ongedokumenteer verby nie. Die mooi foto hierbo van my en Tokkie met ons geskenkglasies vol Moët voor die patryspoort is deur Hermie. Sy aanspraak dat hy ‘n student in die fotografie was, word daarmee bevestig, meen ek.
Later is ons met die laaste bietjie in die bottel eetsaal toe, die Ile Galeone, ook op dek 5.
Die voggies het tot die eerste gereg gehou. Ook maar net. Maar wat ‘n spesiale aand was dit nie vir ons twee nie. Dat ons 50 jaar getroud is, sal ons ná dese nimmer kan vergeet nie.
As iemand ‘n definisie soek vir “skeepsreg” – ‘n botteltjie yskoue “Moët” skemeraand in die Manhattankroeg van die Sinfonia; dis die Van D’s se voorstel met algemene akklamasie uit Penguin Place 11.
Comments