top of page
Uitmelkbos

Die volle verhaal

Jou naam hoef nie Bob te wees om te weet dat koerante dwarsoor die wêreld sukkel nie. Sirkulasies daal, diepte van beriggewing neem af. Ook in Suid-Afrika: Min plaaslike publikasies kan byvoorbeeld op sakegebied die soort analise en verslaggewing doen wat die Financial Mail oorsee doen, om maar een te noem. Ons onvermoë om by die kern van die Steinhoff-saak te kom, kan herlei word na sakejoernaliste wat net so onverhoeds daardeur betrap is as die man op die straat. Ons soek verklarings, maar die koerante sukkel om behoorlik agter die kap van die byl te kom. Terwyl ek persoonlik in baie onaangename gesprekke met my makelaar daaroor gewikkel is, is Steinhoff en die Stellenbosse Boys (geskryf deur James-Brent Styan, en deur Nellie Brand-Jonker vir Rapport Boeke geresenseer) ’n boek wat nogal baie van my vrae help beantwoord het. Of dit wel verduidelik, soos in die lokparagraaf by hierdie resensie beweer word, wat presies by Steinhoff gebeur het, en hoe dit so ongemerk kon plaasvind, is moeiliker om te konstateer. Nellie Brand-Jonker het ’n baie interessante besluit geneem toe sy hierdie resensie geskryf het: Sy wou nie al die pêrels in die boek blootlê nie, maar wou wel oor die Steinhoff-fenomeen skryf aan die hand van James-Brent Styan se boek. Die fondse, die wetenswaardige geheime, na dié word verwys sonder om dit te identifiseer of by die naam te noem. Mens sal oppervlakkig kan saamgesels oor die Steinhoff-dinge as jy haar resensie gelees het, want dit gee ’n baie deeglike voëlvlug oor die inhoud van die boek. Maar jy weet nie wie die Stellenbosse Boys is nie, jy weet nie aan watter koshuis Jooste ’n Jaguar gegee het nie, jy weet nie wie die bekende inwoners van Stellenbosch is met wie Jooste bevriend geraak het nie, jy weet nie wat Christo Wiese van Markus Jooste se stukkie skelm gesê het nie. Hierdie dinge sal jy kry as jy die boek lees. Vir my gevoel is dit ’n baie sterk resensie. Brand-Jonker staan uit die aard van haar beroep binne die stroom inligting wat sedert verlede Desember oor Steinhoff en Markkus Jooste in vloed gekom het. Sy weet wat om uit te lig, hoe om die koerantleser presies genoeg te gee om verder, soos sy dit stel, by daardie skindersessies langs die vleisbraaivuur te kan uithaal en saampraat. Maar daarin lê ook haar kwesbaarheid. Dit is een ding om te kan sê dat James-Brent Styan sy inligting saamgestel het uit die honderde nuusberigte wat sedert Desember oor die maatskappy en Jooste verskyn het. Dit is ’n ander ding om te kan aandui of hy bronne oorgeslaan het, of weens tydsbeperking vir die publikasie nie in berekening kon bring nie. Dit verg sekerlik heelwat insig en konsentrasie om uit die magdom inligting ’n boek te vorm wat alle beskikbare feite orden – en dan nog deur eie navorsing dinge by te voeg wat mense nie weet nie. Wat Brand-Jonker nie sê nie, is of James-Brent Styan ook gaan delf het in daardie bodemlose put van wonderlike inligting, naamlik hofstukke van regsgedinge. Kyk byvoorbeeld wat het in die dae voor die veskyning van die resensie aan die lig gekom oor SARS en Christo Wiese (al was daar foute in die beriggewing). Natuurlik was daardie inligting te laat vir die boek, maar ’n goeie ondersoekende joernalis met tyd ophande sou wel in ’n verskeidenheid dokumentasie in die jare wat die Steinhoff-ineenstorting voorafgegaan het, ryke stof gevind het. Christo Wiese het verlede week in ’n radio-onderhoud gesê dat joernaliste nie weet wat hulle doen nie. Dit is skerp taal – en ’n wonderlike uitdaging aan ondersoekende joernaliste. Maar in hierdie resensie se konteks dink ek moes Brand-Jonker vir ’n oomblik buite die stroom van sakeberiggewing getree het en ’n aanduiding gegee het van die beperkinge waarbinne die publikasie van Steinhoff en die Stellenbosse Boys geskied het, en wat die dinge is wat buite die loep val. Sy is duidelik deeglik bewus van die vlietende aard van nuusberigte, en die feit dat mense vergeet wat hulle deur die jare in koerante gelees het. Haar waardering vir die boek spruit dan ook oor haar respek vir die ordenende vernuf van James-Brent Styan. Intussen bly die verhouding tussen my en my makelaar gespanne, en wag ek, tesame met James-Brent Styan en die res van Suid-Afrika se seer getroffenes op die verlossende woord wat PWC einde van die jaar gaan spreek. Styan kan hom seker gereed maak, daar is nog boeke te skryf.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comentarios


bottom of page