Elkeen van ons, selfs die lofwaardigste, klim soms met die verkeerde voet uit die bed. Hoeveel keer Nelson Mandela met die verkeerde voet uit die bed geklim het, sal ek nie weet nie. Een keer, 16 jaar gelede, was Naspers aan die ontvangkant van sy onvergenoegdheid.
Leidsliede van die Pers is as ‘t ware ook daardie dag, 9 Oktober 1997, op die verkeerde voet gevang. Hulle het verslae in hul eie eetkamer op die 18de verdieping van die Naspers-sentrum aan die Heerengracht vasgekeer gesit terwyl hul eregas hulle oor die sondes van die Afrikaanse pers striem.
Dit was ‘n dag wat die Pers nie lig sou vergeet nie. Om mee te begin, is die eetkamer die vorige nag oorstroom nadat ‘n warmwatertoestel gebars het (die derduiwels doen dit mos altyd op die onmoontlikste tye). Die matte was deurweek. Daar is koorsagtig gewerk sodat die ete kon voortgaan.
Ten tweede is almal op die 18de verdieping die oggend uit hul kantore geboender vir ‘n “veiligheidskontrole” – iets wat in die “ou dae” met Staatspresidente uit “bevriende” kamp ongekend was. Nie almal was ingenome nie!
In die straat en in die voorportaal was ‘n ontvangs soos nog nie by die Naspers-sentrum gesien is nie. Die President het sy charisma met ‘n hoofletter C ten volle aangeskakel. Net daarna volg toe die korrelrige toespraak. Uit die vuis, terwyl die voorbereide teks op die tafel bly lê waar dit neergesit is.
Die koerante is veral gekap oor, wat ‘n driftige Madiba genoem het, ”’n onrealistiese terughunkering na ‘n verlede wat nooit weer kan wees nie”. Dit terwyl die Afrikanerdom, volgens die kwaai President, “baie had om oor nederig te wees.” Sy tema het die spreker só meegevoer dat die horlosie ver verbygeloop het by wat die gewone duur van ‘n etenstafel-toespraak is.
Ton Vosloo het verbaas, maar waardig, geantwoord. Ek het hom vir sy kalmte bewonder. As draer van die koerantehoed was ekself maar bra ongemaklik. Ek het gedink pres. Mandela kon ten minste na ons swart blad “City Press”, wat hom altyd net op die hande gedra het, ‘n buiging gemaak het. En wat van “Beeld”? Vir die noordelike dagblad was daar voorheen lof. Daardie dag is almal oor een kam geskeer.
Terwyl Madiba praat en praat, had hierdie arme drommel sy eie persoonlike nood, aangebring deur ‘n jenewertjie vooraf en een of twee glase voortreflike wit uit Naspers se kelder (deur skakelhoof Andrew Marais altyd eksie-perfeksie gehou). Ek was aan ‘n tafel in die verste hoek, en intens bewus dat om uit te stap vir die vertolking van ‘n protesdaad vatbaar sou wees. Al raad was dus maar vasbyt tot die bittereinde – wat net betyds aangebreek het!
Om sout in te vryf, het die geskenk waarmee baie moeite gedoen is, met die vertrek eers vergete gebly. Dit was ‘n geraamde collage van vier historiese koerante wat die verhaal van die ANC se magsverowering stap vir stap uitbeeld, ‘n replika van een wat ek vroeër vir my kantoor laat maak het.
Bo links in die montasie is “City Press” van 1 Mei 1994. Opskrif: “ANC smells victory”. Langsaan is “Die Volksblad” van 2 Mei, terwyl die stemme nog getel is. Die opskrif is: “ANC is stewig in saal”. Die hooffoto is Mosua Lekota voor die historiese Raadsaal in Bloemfontein met die ruiterbeeld van genl. C.R. de Wet op die agtergrond. Dan volg “Die Burger” van 10 Mei, ná die eerste sitting van die nasionale vergadering. Die opskrifte is: “Die nuwe era begin/ Mandela eenparig verkies”. Die hooffoto is Mandela wat ‘n wit vredesduif los laat. Koerant nommer vier is “Beeld” van 11 Mei, ná die indrukwekkende inhuldiging by die Uniegebou. Die opskrif is: “Laat vryheid regeer”. Die hooffoto wys Pres. Mandela waar hy die ampseed neem. Dit was nie ‘n klein pakkie nie!
Daardie spesiale geskenk is wel later by die regte adres besorg. Wat daarna daarvan geword het, weet ek nie. Teenoor kollegas het ek opgemerk ek hoop darem dat dit van tyd tot tyd die President se oog sal vang – dit behoort hom te laat wonder waarom juis so ‘n collage in die kantoor van Naspers se koerantebaas hang. Tog seker nie uit weerstand teen die nuwe bedeling en ‘n “hunkering” na ‘n verlede wat dood en begrawe is nie!
Later was daar ander besoeke wat gemoedelik verloop het, het ek later verneem. Maar sjoe, daardie dag is ons behoorlik gelooi. Vandag is eintlik die eerste keer dat ek daaroor glimlag – as ek dink hoe ons in ons donker pakke soos stout kinders tjoepstil in ons hoekies gesit en bitter medisyne sluk het!
Comments