- Die ouers was geskei, of die ouers was op pad om te skei.- Die tiener is moerig, maar omdat jy nie vloek in Afrikaans nie, praat hulle keurig Afrikaans.- Omdat Afrikaanse kinders nooit aan seks dink voor hulle trou nie, was hormone nooit in die prentjie nie. Kortom, “jeuglektuur” in die ou Suid-Afrika was nie altyd suksesvol nie. Wie wil nou wroeg as jy Hammond Innes, Wilbur Smith en Dick Francis het? En so het ek begin glo dat dit ’n mite is dat daar nooit ’n goeie “tienerboek” geskryf gaan word nie. My kontensie was (is?) dat jy kinderboeke kry, en dan, daarna, goeie leesstof wat deur intelligente jongmense, of volwassenes, gelees gaan word. Selfs die werk wat deur NB en die Sanlamprys vir jeuglektuur gekies is, het dit moeilik gemaak om van dié standpunt af te sien. Waar pas Barry Hough in? Streng vir kinders? Ek weet nie. Ek glo egter nie. Kyk wie lees Marita van der Vyver se jeugboeke – laerskoolkinders. Wat lees hoërskoolkinders? As hulle lees, lees hulle Marita se boeke vir volwassenes. Meer onlangs het mense soos Fanie Viljoen (Breinbkliksem) en Francois Bloemhof (Liefs nie vir kinders nie) dié idee begin uitdaag, maar, ek vrees, nie alle tieners was mal oor Bloemhof se boek nie. En Viljoen? Ek ken baie volwassenes wat sy boek baie geniet het. Lapa-uitgewers het my egter bekendgestel aan ’n paar baie interessante boeke. Een van die heerlikste boeke wat ek in ’n moewiese lang tyd gelees het, is Suurlemoen van Jaco Jacobs. Dís fantasties en ek weet jong tieners verslind dit. Toko, van Leon de Villiers, is ook ’n grootse teks. Ek wonder wat tieners daarvan sal dink? Dis ’n bietjie soos Lord of the flies. Ek is mal daaroor, en intelligente (volwasse) tieners sal ook wees. Verder is Anzil Kulsen se Zita reg in die kraal van tienermeisies. Die punt is egter dat al drie Lapa-boeke wat ek hier genoem het, wel deur grootmense ook geniet sal word. En hoekom sou Kulsen se Zita vir tieners wees en Irma Joubert se Tussen stasies net vir volwassenes? Is dit net omdat Kulsen se boek dunner is en die hoofkarakters tieners is? Joubert se vrouekarakter is baie onskuldiger as Kulsen s’n. So, die vraag bly: Is daar werklik tienerlektuur, of is dit ’n mite? Is alle goeie tienerlektuur nie dalk alreeds “cross-over lit” nie? Ek dink dat dit eerder onnies is, wat bang is om oor seks te praat, wat die idee van “tienerstories” aanhang. En dis juis daar waar Toko en Zita so uitstekend die bordjies verhang. In albei is daar verkragting en word openlik gepraat oor seks. Die feit is egter dit word baie fyn, en baie netjies, hanteer. Ek moet ook op dié stadium dit duidelik maak dat ek deel is van die “conspiracy” omdat ek Lapa gehelp het met die saamstel van onniegidse by van hierdie boeke. Ek is dus geensins teen hierdie soort boek nie, inteendeel. Tog, is dit werklik vir tieners? Lapa adverteer self Suurlemoen met die teken 13+, hoewel ek weet dat vele intelligente jonger kinders dit wel baie gaan geniet. En ek sou ook nie té veel plusse aanlas nie, veral as jy dit in klas wil hanteer. Graad 8 (standerd 6), of net daarna, sal werk vir díe boek. As jy met ’n addisioneletaalklas werk, kan jy nog na graad 10 toe gaan. Maar, dís al redelik ver geplus. Die Thomas-reeks Carina Diedericks-Hugo sal onthou word as die skrywer wat vir ons aan Thomas bekendgestel het. Dis ’n prettige reeks en ek het elke boek gekoop soos hulle verskyn het. Later het ek ook onniegidse gehelp skryf vir ’n hele aantal van hierdie boeke. Lapa adverteer hulle as 11+. Ek stem saam. Ek dink dat addisoneletaalklasse hulle tot en met graad 8 kan lees, dalk graad 9, maar nie verder nie. Waarom werk die Thomas-reeks? Die Thomas-dude werk, want sy stiefma is oulik en sy pa is nice; hulle is dus normaal. Duh. Geen geskeide ouers wat mekaar verneuk nie. Die ouens speel met rekenaars, hulle het selfone, hulle loer na meisies, hulle ... (asem op) ... soen selfs teen die einde van die reeks ’n paar meisies. In die tweede laaste een wat verskyn het, is daar ’n suggestie dat die wilde meisie dalk, wel, jy weet, um, hoe sal ek nou sê, um, nogal tyd spandeer in die geselskap van mans, ag jy weet ... Maar dis dit. Iewers is daar ’n suggestie dat Thomas so snaaks voel toe Alex hom soen, maar ... nee, nee, niks meer nie. TERLOOPS: Ek is verlief op Alex. Daai girltjie kan, as sy sestien is ... Verder moet ons ook sê dat elkeen van Thomas se boeke tjokvol spanning is. En dís hoekom kinders van Thomas hou. Hy is die tipiese buurkind, en die spanning is uitstekend. Wat meer is, die skurke is olierig en lelik, die goeie ouens is goed. Daar is verassings, soos in die geval van Aqua.net, maar oor die algemeen is dit nie moeilik om kwaad van goed te onderskei nie. Leesbaarheid en tieners ... Ek dink die ding wat Lapa se jeugboeke so suksesvol maak, is dat hulle juis so toeganklik is. Hulle lees vinnig en maklik. Dit is beslis so van die Thomas-reeks. Toko is egter ’n moeiliker boek en Zita is nie maklike leesstof nie (en die mense vloek dat die biesies bewe). Tog, albei is dunner, en die hoofkarakters is tieners. In die Thomas-reeks is die karakters nie almal altyd “volrond” nie (dis ou term, maar dit werk hier). Dit maak egter nie saak nie, want dis vir jonger kinders geskryf. Hoewel ek weer sê, as julle Alex se adres het... Zita, Kunsel se hoofkarakter, is egter volledig geskets, en Toko, De Villiers se karakter, is baie, baie sterk geteken. Lees ook weer Jan Rabie, Chris Barnard en George Weideman se verhale, dan sien jy dat verhale oor tieners nie minder karaktersketse hóéf in te hou nie. Lees ook gerus Naomi Meyer se Ruik jy die filmster. Daai meisiekind groei nogal in die loop van die boek. Oor die algemeen, egter, sou Thomas vir die spanning onthou word, nie vir die karaktersketse nie. Terug na Josua van Eden Dalk is Thomas Josua se grootste vyand. Ek kon nie help om Thomas te hoor praat terwyl ek Josua gelees het nie. Ek kan dink dat Thomas so sal uitdraai as Alex hom sou los. Verder voel ek ook dat nie een van die karakters wérklik duidelik genoeg geskets is nie. Maak geen fout nie. Die verleidingstoneel is pragtig. En meisie is werklik oulik. (Sy sê vir die eens onskuldige Josua dat hy moet vat wat hy kry, want daar was al mans voor hom, en daar sal ander na hom wees.) Dêmit, dís die ding. Dis ’n meisie wat soms met die stem van ’n vrou praat, en dan sit en Purity eet. Okay, ek weet, daar is redes voor, en Carina spel hierdie redes duidelik uit. Tog ... Soos gewoonlik is haar uitbeelding van tieners baie raak, ook van tieners as seksuele wesens. En dis hier, net hier, waar ek gekierang gevoel het. Ek sou meer wou weet. Dalk het Carina dit uiteindelik reggekry om die ware tienerboek te skryf. Die stem breek, die hormone bruis, die gedagtes is werklik interessant, maar ... ’n deel van die lyf is nog jonk. Lees dit. Veral as jy iets van tieners wil weet. As tieners jou egter irriteer, sal die boek ook. Ek het die boek geniet, maar ek sien ook uit na Carina se eerste GROOTMENSBOEK. Ek dink dit kan wonderlik wees.
Izak de Vries
Comments