Kan ons die wetenskap vertrou in die tyd van die gloeiende resensie? Ek is nogal au fait met somme en het die afgelope weke, toe daar weinig wetenswaardig gebeur het op die koerante se boekeblaaie, probeer vasstel hoeveel negatiewe resensies daar die afgelope twee jaar oor Afrikaanse boeke gepubliseer is.
Laat ek die resultaat van my navorsing dadelik met julle deel, want dit is aardskuddend. Nie ’n enkele voluit negatiewe resensie nie.
Nada.
Daar is ’n paar waarin die resensent wil-wil laat deurskemer dat alles nie pluis is nie, dat die dinge nie klop nie. Maar in die algemeen is die duim wat ondertoe sak oor die boek so skaars soos ’n tilde op ’n orgie vir umlauts en cedillas.
Kan ek enigiets anders aflei dat dit uitermate goed gaan met Afrikaanse boeke? Boekwinkels loop oor met boeke wat ten hemele aangeprys is, en skrywers is die glansganse van die dag. Wanneer die tantièmestate van die uitgewers af uitgestuur word, word baie noukeurige sekuriteitsmaatreëls in werking gestel. En die uitgewers presteer ook op hierdie gebied - nog nie ’n enkele skrywer het sy geld of lewe verloor in ’n transitoroof nie.
En sowaar as Carl Niehaus paisley-hemde dra, as die uitgewers oop kaarte speel oor hul prestasies, sal ons moontlik agterkom dat al die lofliedere in resensies gelei het tot goeie besigheid en lekker winste. Intussen kan mens maar net diep nadink oor die feit dat Afrikaanse resensente altyd die goeie in boeke raaksien. Ons is só geseënd!
Tot 14 Oktober, toe LitNet ’n resensie geplaas het oor Koos Kombuis se Help! My dorp hou ’n kunstefees. Die resensent is die amper ikoniese Jean Meiring. Sedert Meiring op die resensie-toneel verskyn het, hoor ’n mens by skrywers dat daar niks meer sielsvervullend is as om deur Meiring geprys te word nie. Ek bewonder hom vir sy taalvernuf, en die logiese samehang van sy resensies. Skrywers, op hul beurt, weet dat as Meiring hul goeie hoedanighede raaksien, dan bly dit raakgesien.
Sal Piet Croucamp se rolmodel gesjarmeer wees deur die aandag wat hy van Meiring se kritiese oë kry? Ek wonder. Dis vir my welig interessant om die resensie te lees én te probeer agterkom hoe Meiring vrede maak met die ewige tiener in Koos Kombuis se skryfwerk.
In die begin van die resensie steek hy sy vingers onder die Kombuisiaanse bandana in en kielie die kale knikker. Dan, met die finesse van ’n goeie advokaat wat ’n steeks getuie in ’n lokval van woorde lei, verklap hy een en ander oor die inhoud.
Nie alles nie. Min genoeg te geld as humoradvetensie.
As mens mooi daaroor nadink, is Meiring besig om sy lesers ’n idee te probeer gee van al die dinge wat snaaks is in die boek - en op watter vlak van snaaksigheid ’n mens dit moet takseer. Hy weet ook dat ’n mens ophou om ’n resensie te lees die oomblik wanneer dit voorspelbaar en vervelig word.
Daarom begin hy oral dingetjies plant wat ’n heeltemal ander verhaal vertel. Dinge soos “Maar, dit is snaaks, soms,” en “Ek het ook lekker gelag”. Jy kan sulke opmerkings op sigwaarde aanvaar, maar jou gesonde verstand sê vir jou dat soms nie gereeld genoeg kan wees nie, en dat as jy ook lekker gelag het, jy nie wil sê wat jou meer gereelde reaksie was nie.
Hoe ‘n mens ookal na die resensie kyk, dit smeer vir Kombuis. Meiring versag sy slotsom deur sy styl; Koos Kombuis sal die resensie lees en waarskynlik skaam kry.
En ons, die cognoscenti, sal weet dat Meiring vir Kombuis met gemomde vriendelikheid ’n groot guns bewys het. Meiring kon die hele resensie gereduseer het tot net een woord, maar hy het aan die troebadoer se goegemeente ook ’n sein gegee dat Koos steeds hul Koos is.
Ek lees sulke resensies met ’n groot mate van afstandigheid. Ek weet Jean Meiring is die Lewis Hamilton van die resepsiologie, en uit die dinge wat hy sê, kan ek aflei dat hy nie dink mens kan go-karts met F1 vergelyk nie.
In essensie gaan dit hier oor ’n vrot boek wat tog, vir daardie onbewaakte oomblikke in die binnekamer, genoeg skop het om mens van fatsoenlikheid te laat vergeet en te lag asof jou adult nappy jou gaan red. As resensie is dit ’n verfynde intellektuele oefening. Meiring is sowel kolporteur as verdoemer. Teleurstelling is ’n baie moeilike emosionele sleutel in die hande van enige resensent; Jean Meiring het ’n baie vindingryke oplossing gevind vir die verwoording daarvan.
Ontroering is ook moeilik om te hanteer, veral omdat ’n resensent baie maklik verlei word deur oorbeklemtoning. In baie van die afgelope twee jaar se resensies het ek kon raaksien hoe ontroering ’n leser baie maklik agterdogtig kan maak oor die opregtheid van die resensent wat probeer om die ontroering onder woorde te bring.
Die resensie wat Juliana Coetzer verlede Sondag in Rapport gelewer het oor Erika Murray-Theron se Kom ons loop weg, is nie in alle opsigte goed aangepak nie. Ek het ’n hekel aan resensente wat die hele boek probeer opsom, veral by in ’n niefiksie-werk soos hierdie. Maar die irritasie wyk taamlik gou. Coetzer weet wat sy met die resensie wil doen, en stel alles in werking om haar doel te bereik: Om die leser met min en eenvoudige woorde te oortuig dat die boeke haar tot in die diepste van haar wese getref het.
Die opbou is informatief, maar die twee sinne waarmee sy die resensie afsluit, stroop dit alles weg. Jy weet dat sy die sinne sê omdat hulle so bitterlik baie beteken, maar langs die sinne sien jy die ontredderde resensent sit, moontlik met betraande wange, moontlik verslae, beslis wyser: “Kom ons loop weg het my diep geraak. Erika Murray-Theron is ’n sterk en dapper vrou.”
Jy sal nie weet presies hoe raak daardie twee sinne is, hoe swaar hule weeg, as jy nie die aanloop goed gelees het nie.
Ja, ek het nog hoop vir Afrikaans.
Comments