Op die dek van die QM2.
Takseer gerus maar vir Tokkie op die rooi baadjie waarmee sy hier op die dek van die Queen Mary 2 by ‘n reddingsboei kniel. Sy en daardie baadjie kom ‘n lang pad. Dis ‘n baadjie met ‘n “peddiegrie”; die veteraan van ver paaie. Sy spore lê wyd op hierdie aardbol.
Die baadjie is in die 80’s deur ons seun, Johan, aangeskaf om hom teen wind en weer te beskerm toe hy as hoërskoolseun sy pa se koerant, Die Volksblad, afgelewer het. Met van die eerste geldjies wat hy so verdien het, het hy vir sy pa ‘n swarthoutkierie laat maak en die waterdigte rooi baadjie gekoop. Dit kan giet in Bloemfontein.
Kierie en baadjie was nou saam op die QM2 via Durban. Mauritius, Perth, en Melbourne na Sydney. Daarna natuurlik terug via Kuala Lumpur, Hong Kong en Dubai na Kaapstad. Die kierie lê na aan my hart en was ook al die wêreld vol. Vandag se storie is egter oor die baadjie.
Johan met sy rooi baadjie op sy fiets in Bloemfontein.
Anders as wat gewoonlik gebeur, is die baadjie nie van ma na seun aangegee nie, maar andersom. My vrou het ‘n wyd bekende voorkeur vir rooi. Johan se baadjie het uit die staanspoor haar oog gevang. Toe dit vir hom ietwat knap raak, was sy die dankbare ontvanger.
Dit was in die jare 80’s in Bloemfontein. Ons moes die Kaap dikwels weens werkverpligtinge besoek. Aprilmaande het ons op Buffelsbaai vakansie gehou. Elke keer is die rooi baadjie saam. Sy reputasie as betroubare reisgenoot het vinnig toegeneem.
In die jare 90 het werks- en vakansiereise die Van Deventers na Amerika, Europa, Japan, Israel, Zimbabwe en Mauritius geneem. Die baadjie was telkens van die eerste kledingstukke wat ingepak is.
Die rooi baadjie is ‘n baadjie met status en het nie in die verband hupstote nodig nie. Tog het ons gemeen ‘n foto op die QM2 sou van waarde kon wees. TvD het verskeie kere haar kniele by hierdie nimlike reddingsboei hierbo gaan kniel totdat die fotograaf tevrede wees dat die see blou genoeg is en die son presies reg val. Mense het ons naderhand skeef aangekyk.
Ongelukkig het ons nie daaraan gedink om die baadjie by een van Sydney se ikone, die Operahuis en die brug (plaaslik bekend as die “coat hanger”), af te neem nie. Wel darem bo op die top van Hong Kong se Victoria Peak (waar ‘n geniepsige windjie gestoot het) met daardie merkwaardige stad van wolkekrabbers voor haar uitgestrek.
Die rooi baadjie voor Crimson Court, ons woonstel in die 70’s in Cambridge; by ‘n Amsterdamse grag; in die Oostenrykse Alpe, in die Grossglockner-pas; en op Victoria Peak in Hong Kong.
Toe ons die idée kry om ‘n foto-collage te maak van waar die rooi baadjie al oral rondgeloop het, het ons in ‘n japtrap foto’s uitgedolwe van my vrou en haar baadjie in Amsterdam, in die Oostensrykse Alpe, in Cambridge, Massachusetts, in Brussel en in Lynmouth aan skone Exmoorkus in Engeland.
Die baadjie was o.m. ook in Kobe, Japan, Londen, Wenen en New York. Kry ongelukkig nie foto’s van daardie besoekies raakgevat nie. Dalk was die weer nie daarna nie. Dalk het sy die baadjie wel aangetrek, maar bestaan net nie foto’s van die betrokke okkasies nie. Sou ‘n mooi foto op Piccadilly Circus in Londen kon uitmaak. Of op die uitkykdek van die Empire Stategebou in New York. Maar nou-ja …
Kon natuurlik nie al die foto’s hier plaas nie. Gaan kyk gerus ook in die album Rooi baadjie by www.picasaweb.google.com/hennievandeventer
Naskrif: Nog ‘n geheimpie uit my vrou se klerekas moet ek darem hier verklap. Dit raak die African Ball wat op een van die QM2 se formele aande gehou is. Die passasiers trek, so ver moontlik, temadrag aan. TvD was in ‘n bloesie geklee wat veral een Australiese heer na sy asem laat snak het. Pure Afrika. In ‘n moedswillige oomblik het sy die stomme man se seepbelletjie geprik. Afrika se voet – die ryklik geborduurde bloese het sy 38 jaar gelede in Jerusalem gekoop. Oor dié openbaring het hy telkens opnuut gegiggel as ons hom op die dek raakloop.
Yorumlar