top of page
Izak de Vries

Die prinses en die e-boek

Ons eie prinses het ’n paar slapelose nagte gehad oor Amazon se Kindle. Lees gerus self wat sy wou weet.

Nou, om mee te begin, Hoogheid, ek het op 14 Augustus reeds ’n stuk oor die Kindle geplaas. Hier is die skakel.

Maar, goed. Wat is die Kindle? As julle op hierdie skakel kliek, sal dit julle neem na ’n uitstekende verduideliking van hoe die Kindle werk, wat dit kan doen en wat dit nie kan doen nie. Daar is selfs video’s wat julle kan kyk om te sien hoe die Kindle werk.

Ek dink dié tipe tegnologie is die toekoms (al sal ek julle later vertel wat my groot probleem is daarmee.)

Hoekom? As Tant Sussa nou laataand klaar gelees het, en steeds lus is vir ’n volgende boek, maar sy is nou nie lus om onder die karos uit te kruip en na die buitekamer te gaan vir nog ’n lekker leesding nie, dan kan sy eenvoudig die Kindle ’n tikkie gee, en woeps, laai sy nog ’n boek af, al die pad van Amerika af. Dan kan ons tannie lekker daar in Middelburg begin lees aan die volgende boek.

Of dink ’n bietjie, as ons prinses daardie dekselse ertjie uit die bed kry en sy is lus vir nog ’n kortverhaal, dan tik sy net die Kindle, en woeps, soos met ’n towerstaffie, verskyn die verhaal, bo-op al veertien matrasse. Onse majesteit hoef dan glad nie eens die Engelse koue aan te durf, uit die bed te klim en ’n glasskoentjie aan te trek nie. Die Kindle se towerstokkie doen alles.

Die probleem is egter dat nóg Tant Sussa daar in die literêre Middelwêreld, nóg die Prinses, daar in die koue Noorde, op hierdie stadium die Kindle se magiese kragte kan ontgin. Hoekom? Wel, die Yanks weier om dit buite die VSA te verkoop.

Iemand wat ek ken is besig om (skelm-skelm) ’n Kindle in te voer, so as ek meer weet, sal ek met plesier daaroor blog. Op hierdie stadium is ek egter nie seker dat ons in Suid-Afrika die Kindle sal kan laat werk nie. Dis waarskynlik net ’n kwessie van tyd.

Wat dan vir Suid-Afrika?

Wel, ons het reeds uitstekende selfoontegnologie. Net soos jy deesdae enige iets van Bybelversies tot eksplisiete pornografie kan koop op jy selfoon, kan jy ook boeke aflaai. Ek weet byvoorbeeld dat Angus Buchan se Faith like potatoes waarskynlik baie binnekort te koop gaan wees op jou selfoon.

En weet julle wat? Dis iets wat jy gaan koop en nie sal kan aanstuur nie. Dis dus nie iets wat jy kan aflaai en deel, soos ’n MP3 nie. As jy dus wil aartappels plant saam met die KZN-boer, koop jy die teks en net jy kan dit lees. Al hoe ek jóú teks kan lees, is as jy vir my jou selfoon gee.

En dis tegnologie wat reeds in Suid-Afrika in werking is. (In Suid-Afrika verkoop daar reeds duisende Bybels per selfoon!)

Ek weet egter nie of ek lus is om ’n roman op ’n selfoon te lees nie. Maar, dan, ek sal baie maklik ’n hele aand met my liewe vriendin in Ierland klets via Skype (op die toetsbord), maar MiXit pes ek nog, want ek hou nie van selfone se hopelose toetsborde nie. Ek is dus outyds. Kyk na vandag se jongmense. Hulle MiXit en SMS die hele dag lank. Hulle kom dus reg met daardie skermpies.

Prinses. Ek weet ek het nie al jou vrae beantwoord nie, kortliks, egter, die volgende: ’n Goeie uitgewer spandeer baie geld op ’n boek. Die drukproses is maar ’n deel van die boek se prys. E-boeke sal dus nie die prys drasties verlaag nie, hoewel dit baie sal help met voorraad. (Om voorraad te laat klop is ’n hele lesing op sigself!)

E-boeke sal beteken dat ons minder bome hoef af te kap, maar dit sal nie noodwendig op baie ander gebiede bespaar nie. En, moet ek sê, Suid-Afrikaanse drukkers het enorme hoeveelhede geld spandeer aan kragopwekkers. Ek was die ander dag by ’n drukker wat ’n opwekker gekoop het wat lyk soos tuinwoonstel. Eskom maak ons dus nie dood nie, ons betaal net meer!

Ek skat die e-boek kan die jongklomp aan die lees kry, maar ons moet eers mense laat glo dis cool om te lees!

’n Hele paar mense het interessante kommentaar gelewer op my kommentaar op Prinses se ruimte.

Earl Botha oor ’n papierlose samelewing gesê: “Zak, wat jy sê klink logies – maar dis al meer as veertig (40) jaar gelede voorspel en dit het nie gebeur nie!”

Earl, baie reg, maar weet jy dat meer mense deesdae vriende en familie per SMS Geseënde Kersfees toewens as met Kerskaartjies? Sou hulle dit 40 jaar gelede geglo het?

En weet jy dat meer e-posse gestuur word as briewe?

Die interessante ding is dat meer mense nou meer gereeld kommunikeer, danksy SMS, e-pos, Skype en Google-chat.

Mense skryf, jong! Hulle skryf verwoed.

En weet jy dat daar deesdae elke jaar meer foto’s geneem word as wat daar geneem is vandat die kamera uitgevind is, tot die eerste digitale kamera uitgekom het? En kyk na jou een-uurfotoplekke. Hulle het nie toegemaak nie, hulle floreer!

’n Skuif van een platform na ’n ander beteken dus nie die einde van ’n sekere aktiwiteit nie.

Maar, jy’s reg, vir ’n volkome papierlose sal ons nog ’n rukkie wag. (Die wet maak deesdae egter voorsiening vir kontrakte wat elektronies geteken word, en dies meer. ’n PDF is ook al, in sommige kategorieë, ’n wettige dokument.)

Die nimlike Ant Sussa het gesê: “Wat gaan van ant Sussa se boekrakke word? Nee wat, Prinsessa, so lank as wat ant Sussa in die lewe is, sal sy die reuk van 'n nuwe boek wil hê.”

Tannie, ek stem, hoor! My biblioteek staan die mure van die sitkamer vol, en daar is nog in baie ander kamers.

En, jy’s reg, Ant Sussa. Ek het Byna Liefde in PDF gekry net voor dit drukker toe is. Alles mooi uitgelê, de lot. Maar ek het eers geweet dis werklik toe daardie eerste boek in my arms lê. Toe wéét ek, my tien jaar van harde werk was die moeite werd.

(lu)x2 het gesê: Ek het maar 'n ding vir daai harde kopie wat my arm swaar en lam maak as ek op my rug in die bed lê. Die gewig het definitief my respek. En die reuk is romanties. En Lou het gevra: Sal ek daai ding bed toe kan neem? Of by of op die swembad?

Aan julle albei: Inderdaad, hoor! Die Kindle gaan ewe lekker in die bed lees! Of op die opblaasmatras in die swembad ...

Lorinda sê: Ek dink dit sal tyd neem om baie gewild te word, dit sal nog lank neem voor dit boekwinkels bedreig, ek dink omdat baie mense steeds graag browse in 'n boekwinkel en dis nie heeltemaal dieselfde met e-boeke nie, al probeer amazon dit deesdae namaak met die "look-inside" opsie. Maar ek dink ons staan beslis aan die begin van 'n verandering - noudat dit in die e-rigting begin gaan het sal dit uitbrei.

Inderdaad, weet jy dat baie uitgewers deesdae al boekwinkels het op Second Life? Jy kan op Second Life rondloop en deur boeke blaai, soos jy in enige ander boekwinkel kan gaan rondloop.

En, wat meer is, die uitgewers maak deesdae van blogs, die internet en e-pos gebruik om boeke aan mense bekend te stel, hulle doen dus veel meer as net die plaas van ’n advertensie agterin die Tydskrif vir letterkunde.

Amazon byvoorbeeld het ’n daaglikse blog oor gebeure in die musiek en boekwêreld. (Hulle boekblog staan, terloops, bekend as die blog oor “Old Media”.)

Ludwig het gesê: Die probleem met e-boeke is dat dit so maklik verniet versprei kan word. Wie gaan betaal as jy dit verniet kan kry? Bitter min mense ... glo my. Ek het 'n wavrag boeke wat ek so deur die jare gekoop het. Soveel dat dit nou al 'n hele kamer opneem en daar is nog wat gestoor is in die motorhuis. Deesdae laai ek alles elektronies van die Net af. Dit is vinnig, dadelik en goedkoop.

Hierdie troep ken dus van! Ludwig, jy’t ’n punt, maar weet jy dat daar deesdae uitstekende kodering bestaan? Natuurlik kan kodes gekraak word, maar baie van die platforms gee vir jou ’n eienaarskap wat soortgelyk is aan eienaarskap van die gedrukte boek. PDF’s en teksformaat is nie hoe jy boeke gaan koop in die toekoms nie.

My grootste probleem is egter steeds dat ons moet besluit op ’n platform. Ek het al so baie van hulle onder oë gehad, en selfs mee gewerk. Daar was GlassBook en Contentlot het op ’n stadium ’n oulike een gehad waarin jy selfs kon aantekeninge maak... Daar is ook MicroSoft eReader, Mobipocket, ePaper, Hanlin eReader, Palm eReader, Psp eReader, Iliad eReader en Adobe eReader.

Presies. Dis die grootste gevaar.

Dus?

Ek het boeke op my boekrak wat al meer as 100 jaar oud is. Ek het van Totius se eerste digbundels. Ek het drukkersproewe van my oupa se novelle. Niks nonsens van platforms nie. Hierdie boeke het die langspeler oorleef. Hulle het Beta- en VHS-video’s oorleef. Hulle sal cd’s oorleef, DVD’s en BlueRay.

Hulle is boeke. Van papier.

’n Laaste woord uit die artikel waarna die Prinses verwys het. The futurist writer Ray Bradbury, author of the sci-fi classic Farenheit 451, told a convention lunch before BookExpo: "There is no future for ebooks, because they are not books."

1 view

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

Comments

Couldn’t Load Comments
It looks like there was a technical problem. Try reconnecting or refreshing the page.
bottom of page