Die foto in die vorige inskrywing het eintlik gebeur ná ’n vriendin my gevra het hoe om sulke foto’s te neem.
Die ware antwoord is: Ek weet nie.
Die tweede antwoord is: Jy kroek.
Dis anders as die maan op is gedurende die dag. Dan skiet jy gewoon volgens die lig wat bestaan. Heelwat fotograwe het die maan al baie mooi afgeneem in die dag.
In die nag is dit ’n ander storie. Ten eerste moet jy die maan met ’n baie lang lens afneem (ek het al baie goeie resultate gekry met ’n Sigma 170 – 500 en ’n Canon 300mm f4 L IS – laasgenoemde ook selfs gekoppel aan ’n Canon 1.4 verlenger). As jy ’n kort lens gebruik, is die maan maar klein in die prentjie.
Ten tweede moet ’n mens die foto onderbelig. As jy dit gewoon belig, is die maan ’n helder blob in die middel van ’n swart niks.
Ek onderbelig gewoonlik 3 tot 4 stops as ek die maan afneem.
Die tweede rede waarom ’n foto soos die een in die vorige blog so moeilik is, lê by die ouderdom van die knaap. Die sukses van enige foto van hom hang ten nouste saam met die jong man se bui, ten tweede besluit hý waar hy wil staan en hý besluit hoe om die maan “vas te hou”. Dan het jy enkele sekondes om in die (stikdonker) te fokus en die flits reg te stel sodat jy hóm kan afneem (met ’n kort lens). Die maan (ás jy dit op hierdie foto kan sien) is dan net ’n klein, wit kolletjie.
Ek het dus ’n foto van die maan geneem, nog een van Knaap en toe in Photoshop die twee bymekaar gegooi.
Soos ek sê: Ek weet nie, daarom kroek ek in hierdie geval.
Comments