Boekresensie: Bure van nature
Mei 24, 2021
Titel: Bure van nature
Outeur: Hennie van Deventer
ISBN: 978-1-4853-1217-8
Uitgewer: Protea Boekhuis
Skuif gerus nader indien jy hou van opwindende veldstories en naelbyt-ontmoetings tussen mens en dier, want Hennie van Deventer, die outeur van sowat twintig boeke, se geboekstaafde vertellings sal jou vir ure lank vermaak. Veral in hierdie dae waar reisigers steeds skrikkerig is om té veel rond te beweeg weens die risiko’s verbonde aan covid-19, is leesstof soos Bure van nature soos manna vir die natuur-entoesias se siel. En vir iemand soos ek wat nog nooit die voorreg gehad het om die Krugerwildtuin te besoek nie, is hierdie boek ’n openbaring én ’n onvergeetlike bederf. Van Deventer en sy vrou, Tokkie, besit ’n woning in Sabiepark – ’n private natuurreservaat aan die Sabierivier, naby aan die Paul Krugerhek.
Bure van nature beslaan 192 bladsye en word opgedra aan “almal wat al met rustigheid in die hart in ’n flikkerende kampvuurtjie sit en tuur het terwyl treffende naggeluide uit die donker bos op ’n briesie van Sabierivier se kant aangesweef kom.” Die boek is opgedeel in drie temas waaronder dosyne stories gegroepeer is. Die temas is: By my voorstoep verby (40 stories), Poste restante Skukuza (7 stories) en Bobaas-buurman (11 stories). Die uitgewersbrief beskryf dié stories as “inheems soos kremetartbome, onderhoudend soos ’n kuier om ’n hardekoolvuur”. Die bekoring van Bure van nature lê in die heerlike spitsvondige en lewendige wyse waarop Van Deventer sy liefde en respek vir dier en natuur deel. Hy skryf onderhoudend en met ’n aansteeklike passie oor hulle wedervaringe.
Dis baie jammer dat daar nie foto’s is waarin lesers kan deel nie, maar Van Deventer se woordvaardigheid en sy vermoë om ’n situasie lewensgetrou te skets maak daarvoor op. Vir my as leser het dit gevoel of ek elke ontmoeting en ontdekking in die veld meemaak. Feitelike inligting wat vaardig deur die stories verweef is, maak van Bure van nature nie nét ’n lekkerleesboek nie, maar ook ’n leersame ondervinding. Ek het heerlik daaraan gelees en was spyt toe ek die boek ná die laaste bladsy toemaak. Net voordat ek Bure van nature gelees het, het ek Sir David Attenborough se A Life on Our Planet: My Witness Statement and a Vision for the Future gelees en ook baie geniet. Die twee here se passie vir diere en die natuur en hulle nalatenskap waarin hulle hul kennis en ervaringe deel, is prysenswaardig en inspirerend.
Dis baie moeilik om van die stories uit te sonder, want ek het elkeen geniet. Ek wil tog die openingsparagraaf van “Sabiepark, geboortegrond” op bladsy 104 uitlig: “Die verskeidenheid fluite, koere, krasse, kwele, kwake, roepe, tjirpe en tjanke van allerlei bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, klopkloppies, lewerikke, lysters, sterretjies, valke, vinke en wielewale is eindeloos.” Dit is heerlikhede soos dié wat ’n leser soos ek se tone laat omkrul en my aanpor om aan te hou lees – Van Deventer is ’n meesterverteller.
Meer oor die outeur: Hennie van Deventer was met sy uittrede in 1998 uitvoerende hoof van koerante van Naspers. Hy was ook vir twaalf jaar lank redakteur van Volksblad in Bloemfontein. In 1997 het hy Naspers se hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, ontvang vir “die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het”. Hy het, in sy baie suksesvolle loopbaan, vele eerbewyse van verskillende instansies gekry. Hy geniet nou al reeds langer as twintig jaar sy aftrede.
Skaf gerus jou kopie van Bure van nature hier aan.
Besoek ook Van Deventer se Facebook-blad hier waar hy meer inligting oor Bure van nature en ook foto’s deel.
Comments