Gerda de Villiers het ’n baie interessante stuk geskryf oor ons tradisionele siening van Die Bybel. Sy sê:
Van kindsbeen af leer ons dat hierdie Boek anders is as ander boeke, en selfs namate ons grootword, lees ons dit anders as wat ons enige ander roman, gedig, brief, of traktaat sal lees. Die Bybel beklee ‘n ander status as ander literêre werke, en word ook beoordeel volgens ander kriteria. Waarom? Want ons is so opgevoed.
Haar artikel se naam is “So glo ons...” Dit handel oor die tradisies waarmee ons grootword; en die invloed van hierdie tradisies op ons lees daarvan.
Dit is die verwsyingsraamwerk waarmee ons na die Skrif toe gaan, en dit is ook die bril waardeur ons die Skrif lees. Ons koester ons tradisie want dit is deel van ons en dit help ons glo.
Die mooi van die tradisie skep egter probleme ook. In haar eie woorde: “Kan iets wat kosbaar is, dan gevaarlik wees?”
Sy antwoord haar eie vraag soos volg:
Ja: rooi ligte flikker wanneer sekere Skrifbeskouings positiwisties en fundamentalisties verabsoluteer word. Wat word hiermee bedoel? Sosio-kulturele en politieke omwentelinge in ‘n samelewing skep meestal groot onsekerheid veral as ‘n gevoel van magsverlies ervaar word. Hierdie onsekerheid word nog groter as ‘n ‘n geloofsgemeenskap voel dat sy teologiese basis ook nog bedreig word. Dié basis word gesien as die ‘kern’ – daardie ononderhandelbare ‘iets’ waarby geloof staan of val. Vervolgens ontstaan ‘n dringende behoefte aan vaste en laaste sekerhede wat dikwels aanspraak maak op historiese sekerheid, historiese betroubaarheid en historiese foutloosheid wat absoluut en sekerlik waar is.
Maar dit gaan nog verder. Ter ondersteuning van die argument word teruggeval op die Bybel – maar slegs sekere geïsoleerde teksverse word buite verband en buite konteks aangehaal.
Lees gerus self. Die Bybel bly een van die belangrikste verwysings in ons letterkunde en leefwêreld.
Comments