“Die Bek” kan huil, lees ons vandag in Die Burger in ‘n onderhoud onder vier oë met Beeld se Arnim van Wyk.
Ek dink terug aan 35 jaar gelede. Vir dieselfde Beeld het ek destyds ‘n rubriek geskryf met die naam “Onder Vier Oë”. Op 10 Februarie 1978 het ek met die nimlike “Bek”, Kallie Knoetze, soos Arnim nou in haar onderhoud, diep dinge gesels.
Soos sy droom om die grotes met sy swiepende vuiste plat te slaan en as swaargewig-kampioen van die wereld gekroon te word. Sy afkeer aan ouens wat sy hand probeer pap druk as hulle hom groet …. en, aan die ander kant, ouens wat jou hand net ‘n rukkie te lank bly vasklou na die groetslag. ” Ek is nie ‘n moffie nie.”
Waaroor het ek en Kallie nie alles gesels nie? Oor Suid-Afrika se ander top-swaargewig Gerrie Coetzee vir wie hy min liefde gehad het – soos ook vir alte slim boksskrywers; oor sy bewondering vir Gary Player en die rugbyspeler Thys Lourens, sy gloeiende patriotisme, sy lojaliteit as polisieman, die operamusiek waarna hy graag Sondagmiddag geluister het, sy hunkering na ‘n maatjie vir sy oogappel Kallie-Matt wat toe 8 maande oud was.
Van die naam “Bek” het hy ewe min gehou as van Gerrie Coetzee. As iemand hom buite die boksomgewing “Die Bek” noem, slaan hy hom sweerlik plat, het die ou grote gedreig. Dat die naam na 35 jaar sou voortleef, het hy gewis nie voorsien nie. Hy sou dit nie wou he nie.
Wel, dit het. Na 35 jaar is “Die Bek”steeds “Die Bek”. HY noem selfs sy padstal “Die Bek”. Goeie bemarking.
Maar dieselfde “Bek” is dit nie. Hy is eintlik ‘n “regte ou softie” bely die “tawwe tienie” van destyds wat skares na die kryt gelok het. Hy huil maklik, en het emmers vol trane gestort toe hy sy kleinseun Nuan (4) met sy bakkie raakgery het.
“”Die Bek” ïs nog “Bek” – maar hy is ook nie. Almal verander maar in 35 jaar. Wonder hoe het ekself verander.
コメント