Ek weet nie hoeveel van julle Sihle Khumalo se boek Dark continent my black arse ken nie, maar ek wil dit baie hoog aanbeveel.
Ek het destyds gesien Petrus Pap hou van die boek. (Lees sy resensie hier.)
’n Goeie vriendin – swart, wonderlik, slim en baie mooi – gaan toe vreeslik te kere oor die boek en leen haar kopie vir my.
My vrou gryp toe eers die boek en krul van die lag soos sy deur die boek vorder. Uiteindelik kry ék dit toe in die hande.
Ek was so twintig bladsye in die boek in, toe besluit ek, ek wil my eie hê. Koop toe my eie, geen Natasha s’n terug, en lees. (Op my eie reise.)
Ek verloor toe my kopie op ’n vliegtuig en koop te warempel nog een.
Kyk, dié ou is moerse goed. Hy skryf met soveel humor dat ek gedurig gesit en giggel het op vliegtuie en op lughawens – en dit wil gedoen wees. Ek kon werklik nie wag om weer tyd te kry om verder te lees nie.
Die wonderlik ding van Sihle Khumalo is dat hy gemaklik is in sy eie vel. Hy’s ’n “darkie” (sê hy self) en hy raak die moer in vir mense wat nie hulle werk doen nie. Afrika het ongelukkig genoeg sulkes.
Maar Afrika het ook wonderlike mense.
En dís wat hierdie boek so wonderlik maak: Die ou kan die balans hou tussen krities wees op wat verkeerd is in Afrika, en hy kan prys lewer op dit wat werklik fantasties is.
Dit alles kom nou jou toe met donker humor.
Beslis iets wat jy moet lees.
(Sihle Khumalo het intussen meer geskryf – ek wil die volgende boek ook nog lees.)
Comments