Ek het vanmiddag laat eers my Rapport gaan koop en op die Boekeblad een van die heerlikste resensies gelees wat ek nog raakgeloop het.
Dana Snyman, een van ons groot reisskrywers, het Paul Alberts se pragtige boek, Buite die hekke van Eden, in die bakkie gelaai en gery.
Die idee was dat hy ’n resensie daaroor moes skryf. In plaas daarvan het hy ’n brief aan Paul Alberts geskryf. Dié brief is in Rapport geplaas. Lees gerus die brief hier.
Nou, julle ken my al. Ek is by geleentheid ’n bietjie dwarstrekkerig en het eenmaal ’n Noordelike Akademikus baie kwaad gemaak toe ek beweer dat daar geen resep is vir ’n goeie resensie nie. “Inteendeel,” het ek gesê, “elke boek is uniek en dis juis resensente wat vars en nuut kyk na die resensie as medium, wat my opgewonde maak.”
O, gonna. Toe is die gort gaar. Madame het haar opgeruk en gesê: “Nou wat moet ek my studente dan leer? Ek leer hulle dan juis hoe om resensies te skryf.”
“Bravo,” was my antwoord. “Jy móét hulle leer wat gewoonlik in ’n resensie staan. Maar dan moet jy hulle vrylaat om iets heel anders aan te vang.”
“Gmf,” was Madame se enigste antwoord.
Wel, ek vrees ek staan steeds by my standpunt. En as julle Dana se brief lees, sal julle sien hoe ’n resensie hééltemal kan wegbreek uit die norm en daarom júís die kol tref.
Net soos Paul Alberts ’n mens heeltemal nuut laat kyk na die hartseer in ons land, so laat Dana ’n mens heeltemal nuut kyk na dit wat gewoonlik in die Boekeblad staan.
Bravo Dana Snyman!
Buite die hekke van Eden, deur Paul Alberts, is deur Protea Boekhuis uitgegee. Ek kon dit nie op Kalahari opspoor nie, bel maar die uitgewer, of een van hul winkels.
Comments