Een van die teleurstellendste films wat ek in ’n baie lang tyd gesien het, is Chéri deur Stephen Frears (wat vir ons Dangerous Liaisons gegee het).
Die storie is goed, eintlik meesterlik. Ek is jaloers, want as ’n kortverhaal sou dit uitsonderlik gewees het. As film werk dit egter glad nie – veral omdat die kamerawerk ongelooflik vrot is.
Die uwe weet iets van fotografie en ek kan nie dink aan swakker fotografie wat ek al ooit beleef het in ’n kunsfilm nie. Meer as 90% van die tyd is die fokus heeltemal uit. Dan is daar die soetlike Vaseline-skote. (Op ’n stadium maak een van die karakters ’n grap oor Vaseline en ek wonder of dit in die oorspronklike draaiboek was.)
Michelle Pfeiffer is steeds pragtig, Kathy Bates was nog altyd ’n aanwins en die beeldskone Felicity Jones het die paar oomblikke wat aan haar gegun is, baie goed hanteer. Maar helaas, dis ’n film wat julle beslis nie op die groot skerm moet kyk nie, daarvoor het die vervaardigers te min moeite gedoen. Neem dit op DVD uit. Moenie geld mors op so ’n vrot produk nie.
Ek moet egter nog eens noem dat die storie eintlik goed is. Die wêreld van die courtesan is fassinerend en Frears wys ons dat dié vroue hoegenaamd nie hulpelose slagoffers was nie, maar wel uitsonderlik sakevroue. Talle studies het al getoon dat Frears korrek is, want vroue wat nie wou onderdanig wees nie, moes nie trou nie. En tussen non wees, of prostituut, nou ja ...
So: Goeie storie, uitsonderlike vrot film. (En moenie luister na die 16SN-klassifikasie nie, daar is minder naaktheid in dié ding as wat daar in die meeste 10-klassifikasiefilms is.)
Jy’s gewaarsku. Kyk dit op DVD as jy in die storie belangstel.
Comments