Ek het Woensdagaand lank gesels met iemand wat Chris en sy gesin baie goed geken het. Omdat die gesprek so bitter privaat was, gaan ek die meeste verswyg, maar twee goed wil ek deel.
Ten eerste, ons weet nie regtig hoekom nie. Selfs Chris se vrou en dogter weet nie werklik wat op daardie oomblik gebeur het nie – wees dus versigtig vir die media se stories.
Ten tweede iets wat die titel van hierdie blog bewerkstellig het: My vriend is ’n teoloog – en Chris was nie ’n gelowige mens nie. Tog was Chris gereeld in kontak met hierdie vriend van my. Een dag het Chris hom – baie moedeloos – gebel en gesê: “Ek weet niks van die teologie nie, maar ek weet hoe dit voel om gekruisig te word.”
Chris was ’n mens wat baie maklik seergekry het – en dikwels “gekruisig” is deur Afrikaanse sentimente en deur die nuwe diknekke wat nie ons demokrasie wil onderhou nie.
Helaas.
Ek wil graag afsluit deur ’n aantal skakels te noem:
Andriette Stofberg, wat destyds die Boetman-brief in Beeld geplaas het, se brief aan Chris is vol deernis en weemoed.
Kammakazi het ’n baie aangrypende huldeblyk aan Chris gedig.
’n Klompie skrywers, waaronder Breyten Breytenbach en André P. Brink, het ’n ope brief geskryf oor Chris se dood.
Oubout wil proaktief iets doen – juis om te keer dat daar nie meer ongevalle is nie.
Adriaan B praat oor sy hartseer.
Hennie van Deventer onthou die positiewe Chris en die brandbek-Chris (kyk self na die spotprent oor laasgenoemde).
Laastens, heel gepas, Chris in sy eie woorde: Lees die laaste rubriek wat Chris voor sy dood geskryf het.
Comments