Waar sy Johan vier dekades gelede geleer vissies skep het, leer ouma Tokkie vir Migael van Buffelsbaai se poeletjies.
Van Februarie 1971 toe die Van Deventers Buffelsbaai ontdek tot Februarie 2014 toe ons die soveelste keer die geliefde kusdorpie aan die Tuinroete binnery, het die tyd nie stilgestaan nie. Kastele het verrys … ‘n mens kan die voorspoed amper saam met die prikkelende seelug op jou lippe proe.
Buffelsbaai het verander maar ook NIE verander nie. Die manjifieke seevistas is onaangetas. Die bekende reuk van gekneusde renosterbossie stu steeds in die neusgate op. Dieselfde lui, spekvet seemeeue – so lyk dit altans – luier om die rotse en die braaiplekke rond. Dieselfde eeue-oue rotse weerstaan steeds die getye. Die seesand van die uitgestrekte strande – weliswaar gespikkel met kleurryke vlieërs – is nog dieselfde sagte kastaiingbruin.
Kastaiingbruin strande gespikkel met kleurryke vliëers.
‘n Wandeling bultjie op en bultjie af verg meer inspanning as vier dekades gelede. Ook jy het helaas verander – die veerkrag in jou tred het met die jare maar sleg afgeslyt. Die asem brand, maar die wandeling neem jou steeds verby huise met name wat, soos nêrens elders nie, die humorsin, vindingrykheid en oorspronklikheid van die eienaars weerspieël.
Ons was vir die naweek vir ‘n heen-en-weertjie saam met die Van Deventerkinders van George in die wit hoekhuise, Heen-en-Weertjie met teen sy woonkamermuur ‘n nogal vernuftige aaneenwewery van allerlei oulike name in storievorm. Dit vertel van iemand wat Na die oes Moeggeploeg vir ‘n Luilekker kuiertjie in hierdie Hemel-op-aarde opdaag.
Dit word ‘n ‘n heerlike tyd van Stokkiesdraai, Boordjie-Af, Skuinslê, Pyp en Pantoffels en Son en Saffier in ‘n huis wat Nooit-Te- Vol is nie. Die anonieme outeur bou ook ander bekende Buffelsbaainame in sy/haar storie in wat van welbehae getuig; name soos Woelwaters, Drie Swaers, Kop-bo-Water, Yt-rat-yt en dies meer. Net teleurgesteld dat “ons huis”, Kammarus, waar ons dosyne vakansies deurgebering het, nie die paal gehaal het nie. By dié, terloops, kom blykbaar ‘n groot brekery en bouery. Was daarom nie beskikbaar nie.
Vir ‘n heen-en-weertjie in Heen-en-Weertjie
Van dié romantiese ou name name het voor die onstuitbare opmars van ontwikkeling en vooruitgang gesneuwel. Allerlei villas so-en-so en casas dit-en-dat het in die plek gekom. Maar ek voel steeds tuis as ek tussen die opgestapelde huise in daardie knus straatjies loop. Ek tel steeds die ure totdat die vuurtjie kan begin flikker, en ervaar steeds verlies as die tyd vir oppak aanbreek. Dis weemoed-tyd wanneer die motor verby die Goukamma sy koers kry op pad huis toe. Die serigheid is nie minder swaar as doerie jare nie.
Een nuwigheid het met pynlike impak getref. Dis egter nie net ‘n storie van Buffelsbaai nie; wel een van die donker temas van die Suid-Afrika waarin ons in die jaar 2015 leef. As die sekuriteitsfirma se bakkie (nommer 9) ‘n dosyn keer by ons huisie verby is in die naweek, is dit min. Op ‘n keer het ek selfs ‘n huisalarm dringend hoor loei …
Comments