top of page
Izak de Vries

Brick Lane


Brick Lane is nie die naam van ’n pornoster nie. (Dink Dirk Diggler in Boogie Nights!) Brick Lane is die naam van Monica Ali se debuutroman en dit is ook die titel van ’n wonderlike film wat oor die roman gemaak is. Voor ek enige iets oor die plot sê, moet ek eers noem dat Brick Lane nié ’n donker film, of boek is nie. Moet dus nie die boek, of die film, vermy bloot omdat dit oor ernstige sake gaan nie. Waaroor gaan dit dus? ’n Jong vrou van Bangladesj, Nazneen, word na Engeland gestuur, na haar nuwe man. Sy word letterlik oor die pos aan haar nuwe man verkwansel (verkoop?). Mail-order bride is ’n film wat in 2003 ’n ruk lank mense laat giggel het. In dié geval is die onderwerp ernstiger. Wat gebeur as ’n middeljarige, oorgewig man sy hand hande (en ander liggaamsdele) kry op beeldskone jong vrou wat eenvoudig aan hom onderdanig móét wees? En hoekom is sy so onderdanig? a) Sy praat nie Engels nie, b) Sy is ’n vrou, hy is haar man, c) Hulle is Moslems, en sy kom uit ’n tradisionele gehuggie waar vroue gewerk word, nie gehoor word nie. Oor punt c, daar is ’n stuk in die boek wat hulle verbatim na die film oorgedra het. Nazneem sê, kort na haar ma se dood en kort voor haar gedwonge troue: “No one spoke of our mother’s death ... and I remembered her saying: ‘If Allah wanted us to ask questions, he would have made us men’.” Eish. Ja. Tog, Nazneem se man, Chanu, is ’n “educated husband”, so hy laat haar toe om TV te kyk, om só Engels te leer, en om, uiteindelik, die omgewing waarin hulle woon te gaan verken. Maar stel jou voor: Jy’s ongeveer agtien jaar oud, jou man is byna veertig en vet, en jy sit in ’n piepklein woonstelletjie waar jy niemand ken nie en met niemand kan praat nie. Nazneem en Chanu probeer tog. Hulle maak twee wonderlike dogters groot en Nazneem begin mense, dikwels ander Moslems, in die omgewing ontmoet. Om den brode begin sy klere maak teen betaling. En een van haar kliënte, Karim, besef dan hierdie mooi vrou is slim. En as hier pragtige, jong vrou kan naai ... Nou ja. So ontstaan een van mooiste, en hartseerste, liefdesverhale wat ’n mens jou kan indink. Ek het Brick Lane gekoop en gelees pas na dit verskyn het. Monica Ali was ’n jong, onbekende skrywer en ’n resensie het my geprikkel. Ek was gek na die boek en het dit vir ’n jong Moslem-kollega geleen. Binne weke het my roman die rondes begin doen. Haar ma het dit gelees, dié se sussie het dit gelees ... Ensovoorts. Dit het baie lank geneem voor ek my boek teruggekry het. Die roman is in 2003 vir die Man Booker-prys gekortlys. En nou die film. Abi Morgan en Laura Jones, die draaiboekskrywers, het Monia Ali se roman baie netjies verwerk. Daar is ’n paar baie klein veranderinge aangebring, maar die hart van die roman klop steeds in die film. En die regisseur, Sarah Gavron, se voete moet gesoen word. Hemel, mense, die film is ’n lus vir die oog. Onthou, ’n groot deel van die film speel af in ’n piepklein woonstelletjie. En ’n bitter groot deel van Nazneem se lewe speel ook daarin af. Die kamerawerk is deur Robbie Ryan gedoen, en saam met Gavron se regie, is die eindproduk verbluffend. ’n Groot aantal skote word deur glas geskiet, veral wanneer Nazneem na buite probeer kyk. Sáám met die karakter, word die kyker dus bewus daarvan hoe moeilik dit is om duidelik te sien as jy vasgevang is aan die binnekant (van ’n woonstel en ’n leefwyse). Wanneer Nazneem met haar lover verkeer, word daar heel dikwels deur materiaal of plastiek, of in spieëls, geskiet. Nazneem se interaksie met haar dogters gebeur ook soms in spieëlbeelde. Daarteenoor word die groot Chanu gewoonlik van naby, of van onder, geskiet sodat sy imposante figuur en grootse teenwoordigheid in die klein vertrekkies versterk word. Ek wil nie vir julle vertel wat gebeur nie, maar ek kan sê die einde is wonderlik en positief. Ek en ’n (ander) Moslemvriendin het die fliek een aand gaan kyk en sy het sommer daardie selfde aand al die roman begin lees. Ek noem dat sy Moslem is, want ek wou graag haar perspektief hê op die film (bo en behalwe die feit dat dit lekker is om saam met haar rond te loop!). Die goeie ding van die roman én die film, is dat dit nooit Moslems sleg maak nie. Dit vra eerder vrae oor hóé religieuse mense hulleself moet aanpas by hulle omstandighede. En dié aspek van die roman kom pragtig na vore in die film. Mense, gewoonlik sê ek vir almal: Lees eers die boek. En hierdie geval wil ek sê: Ondersteun vir Ster Kinekor (of jou plaaslike videowinkel as dit dan moet), en dan koop jy die boek. Die boek is méér as die film, maar die film is so goed, dat ek dink dit sal sin maak om eers die sensuele beelde te ervaar, en dan die storie te lees. Terloops, vergeet die videowinkel. Jy wil hierdie film op ’n enorme doek sien. Gaan koop die kaartjies! En koop die boek!

2 views

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

留言


bottom of page