Stadig stap in die lange pad ….
DIE oes van kordate jong rooibokkies, vol hupppelende lewenslus, is altyd ‘n somervreugde in die Wildtuin. Die besoek oor Nuwejaar het ook die Vyf Grotes opgelewer, in verskillende formate.
Die “dag van die olifante” (blog van 18 Januarie) was ‘n treffende ervaring. Op die S3 moes die liewe Tokkie ‘n ander keer die Honda in trurat gooi en ‘n kilometer ver padgee vir ‘n Meneer wat – niks dreigend nie, maar tog – slurpswaaiende in ons rigting bly aanstap het.
Renosters (met horings!) was vreemd volop. Die drie op die Skukuzapad (dieselfde blog) was amper so naby dat jy aan hulle kan vat. Sou gedink het die nuus het al lankal die ou stiksienige lot versprei dat hulle moet ver wegbly van die paaie waar stropers met swaarkaliber-gewere en byle rondsluip.
Buffels was hier, daar en oweral: in groot troppe of een-een. Regte ou staatmakers.
Leeus het ons net een keer gekry: drie lummels uitgestrek aan’t snork naby die Olifantdrinkgat op die pad tussen Tshokwane en Skukuza.
Vir ‘n luiperd moes ons wag tot die heel laaste dag. Toe bel Gert-Jan Pols: daar was ‘n vangs naby die Krugerhek. Die luiperd en sy prooi, ‘n rooibokkie, is in ‘n boom langs die pad. Ons was op pad kerk toe. Was binne minute op die toneel – voordat die grootste verdringing kon begin.
Dan was daar 17 wildehonde langs die Onder-Sabiepad, twee keer jagluiperds en vele ander toneeltjies wat in die bultende foto-albums in Sabiepark se boekrak plek sal kry.
Maar een toneel staan uit. Daarvan het ek ongelukkig net ‘n geheueflits.
Ons ry vroeg die Phabenihek toe. Op die S4, net voordat dit by Doispaneweg aansluit, sien ons op ‘n stil oggend van ver ‘n motor staan.
“Wat sien hulle?” wil die tweeling, Jacob en Thomas, opgewonde weet. Hulle vra dit altyd.
Vir my lyk dit of daar teenspoed met die motor kan wees. ‘n Gedaante buk by die voorwiel.
Toe ons nader kom, sien ek die boudjies. Poedelkaal en baie bleek. ‘n Dame (?) spring een-beentjie en probeer haar G-string van haar enkels af opruk. In die oomblik van paniek pluk sy egter ‘n verkeerde pluk en die spulletjie haak vas. Net so ‘n entjie bokant die swart langbroek wat haar skoene bedek.
Toe ons verbyry, vorm haar monde een woord: “Sorry”. Ek het nie gewaag ondertoe kyk nie –kan dus nie rapporteer hoe ver suid die skamele onderkleertjie toe nog was nie. Ook geen ander detail nie. jammer.
Op die passasiersitplek sien ek ‘n prostrate man, kop in die hande. Slaap hy? Bedek hy net sy kop in skaamte en verleentheid?
Vrae, vrae, vrae.
Weet nou nog nie hoe om die scenario vir myself te verklaar nie. My raaiskoot was die twee is vroeg by die Phabenihek in en ‘n groot piepie het toe die vrou agter die stuurwiel oorval.
‘n Ander raaiskoot was dat hulle dalk onwettig langs die pad oornag het. Sy kon dus besig gewees het met ‘n omvattende oggend-ablusie.
‘n Romantiese siel in my vriendekring wonder of dit nie passie was wat hom daar tussen die doringbome uitgewoed het nie. Die posisie van langbroek en G-string is in die opsig dalk rigtinggewend.
In elk geval: ‘n vreemde meisie se kaal boude in die floue oggendsonnetjie was ongetwyfeld hierdie 72-jarige veteraan van vele besoeke se vreemdste Wildtuin-ervaring tot op datum.
“Nou het ek alles gesien,” het ek vir Tokkie gefluister toe ek my asem terugkry. Sy het net gelag.
Naskrif: In my vervloe Tukkiedae is ‘n groepie vriende ná die eksamen Wildtuin toe. Baie bier het gevloei. Ene moet toe ook dringend sy neus poeier. Hy bespied die omgewing en spring gou uit die motor … net om Koning Leeu rustig agter ‘n graspol te sien lê. Hierdie ou vriend (ook al saliger) is blitsvinnig by die motordeur in. Gulp wawyd oop. Het al gehoor van mense wie se melk weggeskrik is. Ek weet van een wie se piepie ook skoon daarmee heen was.
Комментарии