“Kers-aand”
Al gehoor van ‘n “kers-aand” in Julie? Wel, kyk na die treffende foto hierbo. Kleinseun Jacob (12) het met ‘n versameling kerse uit Ouma se voorraad die gewone ronde tafeltjie op Tarlehoet se stoep in ‘n feestelikheid omgetower; ‘n eer vir die aand se spyse van die rooster en uit die kombuis – goedkoop papierservetjies ten spyt.
‘n Feestelike verjaardagtafel uit die hart van die bos is op sy beurt deur tweelingbroer, Thomas, vir sy mamma, Marisa, voorberei. Blare van ‘n huilboom, appelblaar, haak en steek en varings; sade van die kierieklapper en sekelbos, rooigras, asook blommetjies van die koraalboom (‘n oulap se rooi), syselbos en die varkoorplakkie is o.m. toegewyd versamel om die regte atmosfeer te skep (Foto 2).
Kyk hoe vrolik brand die feeslanterns op die agtergrond. Die lampolieverbruik – soos die houtverbruik – vir die amper drie weke se boskuier is nie deur oupa bereken nie.
Uit die hart van die bos.
Elke aand se ete was omtrent ‘n ritueel. Met elke aspek het elke seun kranig bygedra – vuurtjie pak, vuurtjie aansteek, tafel dek, slaai maak, vleis braai en ‘n nagereg voortbring. Die mededinging was geweldig. Die selfstandigheid het getref maar het, helaas, ook ‘n negatiewe boodskap uitgedra. Jy het teruggedink aan die eerste vakansies saam in die bos met die seuntjies nog in doeke – en skielik stokoud gevoel.
Veral by die vuurmaak het Christopher (6), die jongste, tot sy reg gekom. Dit was ‘n takie wat hy – tot die irritasie van sy ouer broers – hard probeer het om vir hom af te baken. Rede? “Want.” Vir Christopher spreek daardie een woordjie boekdele. Nie nodig om iets by te voeg nie. Dit is wat hy wil doen en basta.
Agterna is lank gestry oor die verdienste van elke vuur. Hoe hoog die vlamme gelek het, was die deurslaggewende norm vir prestasie!
Vlamme lek hoog.
Die aand van sy ma se verjaardag het Jacob sy slag met sommer drie roosters op ‘n slag op die halwe drom gewys. Die worsie, vark-“rashers” en skaap-“motsjantos” het perfek van die kole gekom. Later het Thomas self ook vleisies op die kole gaargemaak wat niks afsteek nie.
Die drie seuns by Jacob se rooster.
DDie verjaardagmeisie het die trappies na Thomase tafel bestyg deur ‘n erewag van kersies wat hy daar geplaas het. Die drie Claassensboeties het waarlik alle stoppe uitgetrek vir hul ma se verjaardag in die bos
Een aand het Jimmy en Lida Pressly uit Skukuza oorgekom vir ete. Die seuns was die sjefs. ‘n Spsiale slaai met appel, bloukaas en okkerneute (Thomas se spesialiteit) en ‘n peperment-nagereg (Jacob se keuse) is o.m. berei. Oom Jimmy had vir hul kos op Facebook die hoogste lof: “Gordon Ramsey, Marco-Piere White, Nigella en Jamie Oliver staan terug!”
Met die komplimente van die gasvrye Jimmy en Lida het die Van Deventers en Claassense vervolgens ‘n proeseltjie gehad van die voetslaan-vreugdes wat die Wildtuin bied. Ons is nou vuur en vlam vir nog. Darem nie self met dapper en stapper op die diere se spore gaan loop nie. Wel ‘n salige nag diep in die hart van die bos deurgebring in die Napikamp vir voetslaners naby Pretoriuskop. Lieflike uitsigte op die Byamitirivier, gerieflike tente, bedrywige wildlewe, sterre so naby dat jy hulle kan vat, opwindende naggeluide en, natuurlik, ‘n kampvuur om oor huis toe te skryf (waarby Thomas sterk betrokke was). Jimmy is ‘n kampioenbraaier.
Lida het ons met die intrap bederf met wortelkoek en Jimmy se melktert. Oorgenoeg het oorgebly vir ‘n ontbyt duisend vir die seuns – soveel sagter op die verhemelte as die gewone muesli en jogurt. Die kinders was in hul element. Jacob en Thomas voel sommer grootmeneer na hul eerste nag alleen in ‘n eie tent in die bos. Jimmy en Lida Pressly het ons waarlik alte verskriklik bederf met hierdie manjifieke bosbelewenis. Weet nie hoekom ons so bevoorreg is nie..
Praat van grootmeneer voel. By Sabiepark se jaarvergadering vroeër het ‘n snerpende windjie ons met ons pap en wors (en natuurlik Sabiepark se eie voortreflike sjeba-smoor) onder die laat skuiling soek. Die kinders het beurte gemaak in die voorsitter se stoel. Toe stap die regte voorsitter in. Thomas, wat op daardie oomblik in die stoel was, deel mee hy het hom “boeglam geskrik”.
‘n Eete wat veral Christopher ook nie lig sal vergeet nie was ‘n buffet-brekfis by Cattle Barons op Skukuza. Glo nie ek dik aan nie as ek meen hy was sewe keer terug om ‘n plaatkoekie met goue stroop te gaan haal. Die hele vakansie het die skaal beskuldigend ongebruik in die hoek van die slaapkamer bly staan.
Comments