BO: Oupa en die tweeling, Jacob en Thomas, saam in Sabiepark se swembad (Januarie 2013).
ONDER: Oupa en die tweeling saam op Melkbos by die blog van 27 September 2006.
‘n Ligte flirtasie het ‘n ernstige verhouding geword. Op 27 September 2006 het ek stamelend die onbekende betree met ‘n eerste blog op my nuwe webblad www.hennievandeventer.com – wie het kom kuier, wie is siek, sulke koeitjies en kalfies. Vandag 2 365 dae later – presies 6 jaar, 6 maande en 23 dae later – skryf ek my 1000ste blog.
Dis seker maar nog koeitjies en kalfies waaroor ek skryf – net uit ‘n ander stoetery. Mense figureer steeds sterk. Kort persoonlike mededelings is vervang met bv. omvattende huldeblyke aan heengegane vriende. Dit het ‘n HvD-handelsmerk geword. Natuurlik ook blogs oor Sabiepark! Die lewe in daardie salige bosoord lewer ryke stof.
Van die menseblogs het die grondslag gevorm vir boeke soos “Byl in my bos” en “Lewensgroot en groter”. Blogs oor Sabiepark (en sy buurman, die Kruger-wildtuin) is opgeneem in “Duisend dae langs die Sabie”. Blogs is in koerante en tydskrifte en op ander webblaaie gepubliseer.
In Huisgenoot se “Blaaskans”-rubriek was humorblogs bv. my en Tokkie se bad-eskapades toe die buurtwag se ligte skielik op ons kaal lywe skyn. Ook ‘n blog oor Witnek, ons gryse Sabiepark-duikertjie. In koerante is huldeblyke aan dierbare vriende soos Wynand en Daleen Mouton, Swanie Human en andere opgeneem. Blogs het resensies geword of andersom. Van my natuurblogs kom op die Wild-tydskrif se webblad.
As omstredenheid die maatstaf moet wees, kom dadelik die blog op oor ‘n jeugwerker in die NGK Melkbos se Mxit-verslawing. My kritiek op haar brabbelkommunikasies met die jeug had die gemeente in beroering. ‘n Jong heethoof wou ‘n petisie begin om die uwe “onder sensuur” te plaas. My somber “Scenario vir Belhar” het tot ‘n intensiewe, soms skerpe, debat met kerkleiers gelei – agter die skerms. ‘n Kritiese skrywe oor me Lisa Albrecht se stil-stil afskeid van Naspers onder ‘n swaar wolk het ‘n stortvloed uitgelok. “Uit Melkbos” was skielik nommer-een op die ranglys van Litnet, waar dit mettertyd ook sy buiging gemaak het.
Nooit is ek só sleggesê nie as ná ‘n stuk galgehumor oor Schabir Shaik wat “in staatsie rondloop”. Jy maak my skaam dat ek wit en Afrikaans is,“ het Dorothea Herbst van Pretoria getier. Schabir-tjie se mediese parool duur al langer as drie jaar, Dorothea!
‘n Humoristiese oopvlekking van Carel Niehaus se liegstorie oor sy skool se waatlemoenfees – in die hartjie van die winter! – het, daarteenoor, wyd pret veroorsaak. Beeld het dit as nuusberig gepubliseer. Blogs wat wye draaie geloop het, sluit in die eerste versigtige vrae of Racheltjie de Beer regtig bestaan het, en oor die Amerikaanse oorsprong van Afrikaanse liedjies soos Ou Ryperd. Oor Racheltjie sê ek liefs niks meer nie. Ou Ryperd is inderdaad so Amerikaans soos Sarie Marais!
Deur die jare was hunkerende vertellings oor als onder die son, van my kleinste kinderdae af, sterk op die voorgrond. Oor Kimberley. Oor Volkies, Oor Tukkies. Oor Die Volskblad. Oor my loopbaan by die Pers. Ook nostalgie oor ander dinge van my era – die flieks, die musiek, die skoonhede …. ai, Sophia Loren! Vir allerlei lysies het ek diep in die onthoukis gegrawe: van treffendste fliektonele tot Tukkies se mooiste joolkoninginne (Anneline Kriel, Helga van Wyk e.a.).
‘n Slegte ervaring was die rukkerige oorskakeling van Litnetblogs tot WordPress, of “WordStress”, soos ‘n blogmaat dit noem. Louter aangenaam is vriendskappe wat gesluit is, en positiewe reaksies op die bevordering van goeie sake, bv. Die Vriende van Voortrekkermonument-projek.
Die eerste publikasie van die omslag van my kollega Johan van Wyk se potensiële trefferboek, “So was dit” was ‘n gawe resente “scoop” in my boekie.
Oor die nuwe tydvak – van blog 1001 af – gesels ek later.
Comments