Koop as e-boek Fanie Viljoen is een van ons heel bekendste jeugboekskrywers. Die tieners is mal oor hom. Ek kan dit verstaan. Sy stories is altyd interessant en as méns is hy innemend. Wanneer Fanie by skole optree, is sy jeugdige looks boonop nie te versmaai nie – die meisies swymel. (Ek en Fanie is ongeveer van dieselfde stoffasie, maar hy laat die meisies kriewel, terwyl hulle vir my óóm sê. Sies, dis onregverdig ;-) Fanie se skooloptredes is belangrik, want hy doen baie marknavorsing. Hy weet wat werk en hy weet waarvan sy lesers hou. Fanie is ook baie aktief op Facebook, en ander ruimtes, waar hy fyn luister na sy teikenmark – en direk met hulle in interaksie tree. Die ou weet wat hy doen. Betower was in 2011 die naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie – Nanette van Rooyen se Ek was hier was eerste. ‘n Lekker gewaagde subplot Die hoofkarakter, Nadia, bly deesdae by haar ouma in Magoebaskloof, want iets verskriklik het by haar vorige skool gebeur. Julle kan self die detail lees, maar daar word vroeg reeds ‘n leidraad gegooi wanneer een van die meisies, Joy, sê sy moet tog foto’s neem as sy iets stouts gaan doen ... Hierdie grappie word glad nie goed ontvang nie. Inderdaad. Onse Nadia is nie meer Die Maagd Nadia nie. Die probleem is egter dat Nadia se ma glad nie belangstel daarin om te sukkel met haar dogter nie. So, in plaas daarvan dat sy haar dogter se oorgang na ‘n jong volwassene vier, pos sy gewoon die probleem na die platteland. Kan julle dus verstaan waarom Nadia redelik suur is vir die wêreld? Poenk in die bos Magoebaskloof is bekend vir die pragtige inheemse bosse wat nog om die dorp staan en dít word ’n belangrike gegewe in die teks. Nadia, moerig vir haar ma, wantrouig aan die attensies van vriende en boonop sommer net súúr, loop daar vir Poenk raak. Hierdie knaap is ‘n enigma. Op die oog af is Poenk ‘n brandarm bosbewoner, tog is daar iets veel dieper aan hom. Hy ken die geheime van die bos en dit wil al lyk of hy ook die geheime van Nadia ken, sonder dat sy dit ooit vir hom hoef te vertel. Hy lees boonop diep Engelse poësie. Ek is steeds nie seker in hoe ‘n mate hierdie karakter ‘n mens of ‘n towermens is nie. As aktant vervul hy egter ‘n belangrike rol in die storie. Hy is ‘n séún en Nadia het hormone. Poenk is egter ook bitter onskuldig. Hy lei Nadia na die bos waar hy haar leer om te luister, om te ruik en om te síén. Nadia se aangetrokkenheid tot Poenk laat natuurlik die stupid grootmense van hulle koppe raak. Eers haar ouma en dan haar ma raak al weer ernstig bekommerd ... Heling Nadia moet weer van vooraf leer om mense te vertrou. Dit is dan Poenk, meer nimf as mens, en tog ook seun, wat maak dat Nadia weer kan begin uitreik. Joy, ‘n getroue vriendin, van wie Nadia eers niks wil weet nie, raak ook betrokke. Deur ‘n paar slim leuens te vertel aan Nadia se ouma, maak Joy dit vir Nadia moontlik om weer haarself te kan begin ontdek. Filmies Fanie ken van show teenoor tell. Daar is telkens los oomblikke waar die verteller verdwyn en die leser ‘n toneeltjie aanskou asof dit deur ‘n statiese kamera geskiet is. Dink ‘n bietjie aan daardie oomblikke in American Beauty waar die kamera vir sekondes lank op ‘n plastieksak konsentreer. Ek hou daarvan. Dis anders. Kritiek Ek moet erken dat ek meer van Poenk se karakter verwag het, maar dis ‘n baie persoonlike ding. Ek voel egter die outjie bly ‘n aktant, hy word nooit hééltemal vlees en bloed nie. Selfs Nadia, wat erg ly onder haar ma se besluite, sou dalk skerper geteken kon word as Poenk ‘n sterker karakter sou kon wees. Maar, soos ek reeds genoem het, Fanie ken sy gehoor. Dalk het hy dit so bedoel, want hier is ‘n groot stuk magiese realisme in die teks – die titel sê dit reeds. Daar is ook baie simboliek in die boek. ‘n Stukkie glas word byvoorbeeld méér as glas. Dit word iets mooi wat ook stukkend is, of dan iets stukkend, wat ook mooi is. My kritiek jeens Poenk moet dus getemper word. Dis anders Tieners sal vrek hieroor. En volwassenes? Lees dit. Hier is ‘n knap storie wat goed vertel word. Fanie se insig in tieners se koppe is lofwaardig. Ek kan goed verstaan waarom die beoordelaars gehou het van hierdie teks: Dit waag om ánders te wees.
Comments