Crito vergewe Cas van Rensburg vir die gebruik van ’n skitterende inleidende sin vir sy slotopmerking in sy resensie van Karel Schoeman se Slot van die dag (Rapport Boeke). Die res van die resensie is meevoerend geskryf – ’n resensent wat iets vir sy lesers te sê het, hetsy openlik of deur suggestie.
Dit is ’n resensie wat getuig van meegevoel en begrip, maar daar is ook ’n suggestie dat Van Rensburg nie een van diegene is wat Schoeman se reusagtigheid aanbid nie. “Slot is ’n hakkelrige teks” gee die teken dat hy die boek in die belangrikste opsig gebrekkig vind, wat begryplik is as mens die boek as afskeidsbrief aan homself beskou, soos Van Rensburg doen.
Daarin lê uiteraard ook ’n mate van oneerbiedigheid. Om te sê dat Schoeman ’n narcis is wat aan homself skryf, is om te kenne te gee dat Schoeman uiteindelik sy waarderendste gehoor gevind het.
Daarna kom Van Rensburg op dreef, en word sy resensie ’n besinning oor die rol van narcisme in Schoeman se loopbaan, en daardeur word hy gevoer na ’n vraag wat my lank laat tob het omdat ek nuuskierig is oor die antwoord: “Dit laat die vraag ontstaan wanneer die uitgewer die manuskripte ter hand gekry het.”
Nagedagte: Is dit nie ’n ongelooflike foto van Schoeman wat naas die resensie geplaas is nie? Fotograaf: Philip de Vos.
Marius Crous is seker een van die beste keuses vir ’n resensent vir Nuwe stemme 6 (Boeke24). Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé, die samestellers, kan baie tevrede wees.
Crito het dit met genot gelees, maar uiteindelik onthuts regopgesit. Nes Van Rensburg se resensie oor die Schoeman-boek gaan Crous heen en sluit met die gedagte wat eintlik die inleiding moes gewees het, en dadelik dit een van daardie resensies sou gemaak het waaroor lesers agterna stry: Wie van die digters wat hier opgeneem is, gaan eerste ’n bundel van hul eie gepubliseer kry?
Wie wil ’n weddenskap aangaan daaroor – Crous vra die vraag, en by die herlees van die resensie sien mens dat hy sy geld op Ryan Pedro, Donnay Torr en Franco Collin.
Tyd sal leer!
Laastens is daar bespreking van Annemari Coetzer se Alles begin met Anna in Boeke24, geskryf deur Stella Fourie. Heel interessant. Nie die soort boek wat Crito dadelik stip sal laat lees nie, maar Fourie het my geknoop met iets wat sy laat deurskemer oor die moderne Afrikaner wat nie weet hoekom sy voorgeslagte opgetree het soos hulle wel het nie. En daarmee word die Anna van die boek iemand wat meer vir my te sê het. Miskien is dit net omdat ek nou ook sulke vrae oor my ouers begin vra, miskien nie.
Stella Fourie is vir my ’n nuwe naam onder die resensente. Aangenaam!
Comments