Genadiglik is ek geen gesaghebbende oor heersende kultuur by geelpers-ponies en hul redaksies nie.
As Ballade vir ‘n Enkeling se banale uitbeelding van die redaksiekantoor van die smeerblad Montage en die vloekende, varkagtige redakteur (met sy onwaarskynlike redaksionele agtergrond van 3 uit 30 vir ‘n opstel en die gruwelikste wangedrag in ‘n verbeterskool) net naastenby in die kol is, styg my dankbaarheid oor my volslae gebrek aan kennis tot die hoogste vlak.
Ken ook nie sulke skisofreniese nuuskantore soos Rapport s’n in hierdie hoog geprese Leon van Nierop-produksie nie.
Ballade vir ‘n Enkeling blink uit met uitmuntende kamerawerk en goeie, deurleefde spel in kolle deur ‘n span mooi mense. Die bekende liedjies is heerlik sentimenteel.
Maar, stenig my as julle wil: Van die karakters is verskriklike karikature en die melodrama drup. Ek het ná die eerste uur gereeld my horlosie begin raadpleeg.
Comments