top of page

BABAS VAN BABANANGO

Uitmelkbos

Babanango is ‘n piepklein dorpie in die noorde van Kwazulu-Natal, in dieselfde geweste as Vryheid, Melmoth en Dundee, en nie ver nie van Dingaan se kraal waar Piet Retief en sy manne wreed vermoor is. Die uwe is ‘n baba van Babanango. Is op 3 Januarie 1941 daar gebore.

Ongelukkig had die klein Van Deventertjie ‘n kroep borsie. Op die tenger ouderdom van drie moes Seun en Baby van Deventer op doktersadvies hul plasie in die groen heuwels van Noord-Natal groet en om hul seuntjie se onthalwe na Kimberley verhuis.

Vir 71 jaar het ek geen ander baba van Babanango geken nie. Drie weke gelede het ek uiteindelik een ontmoet. Haar naam is Annette Muller. Sy woon in Irene, Pretoria, en is getroud met adv. Gerrit Muller SC. Ek kon van my stoel afval toe die Babanango-verbintenis by ontbyt in die deftige Caravellerestaurant op die MSC Opera se vaart na Venesië so gesels-gesels oor die roereier en roosterbrood aan die lig kom.

Annette (heelwat jonger as die uwe, soos die foto verklap) was ‘n nooi Combrinck van Babanango. Haar pa, Lukas, was ‘n polisieman. Sy het op die dorpie skoolgegaan totdat sy in standerd ses na Vryheid is, koshuis toe.

Ons begin familie uitlê. Ja, blyk dit, Annette weet van die Van Deventers van Rondspring. Dit is nou my tannie Hettie (vrou van oom Isak) en my enigste Van Deventerneef, Hendrik, met wie ek ‘n halfeeu al geen kontak het nie. Tannie Hettie was volgens oorlewering ‘n gedugte boervrou wat o.m. vir die tydskrif Die Huisvrou bydraes gelewer het. Sy het net vir Lukas op Rondspring geduld, geen ander polisieman nie, onthou Annette.

Die Combrincks se familieplaas is steeds by Babanango. Dit is ook waar Ruan vandaan kom, die jong man wat deesdae sulke uithaler-rugby vir die Leeus speel. Nog ‘n baba van Babanango. Hy is die seun van Annette se broer. Sal na dese met nuwe oë na Ruan Combrinck kyk as hy doellyn toe pyl – noem dit iets soos ‘n voorvaderlike trots op ons gemeenskaplike plek van herkoms.

(Wat beteken die naam Babanango? Die populêre verklaring is dat ‘n Zoeloeseuntjie in die mis in die berge verdwaal het. Toe ‘n ouer broer op hom afkom, het hy uitgeroep: “Baba, nango” – “Vader, daar is hy!”)

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page