Wie onthou nie die eerste soen nie? Ek praat nou van sóén, nie ’n outanniekus nie. Of die eerste keer wat jy jou lover gestroop gesien het... gestroop van klere, gestroop van enige iets wat julle van mekaar weghou?
Ek, wat nou al 15 jaar met dieselfde geliefde getroud is, onthou dit nog. En soms, elke nou en dan, kyk ek nog so na daardie mooi lyf en sien haar raak, en raak lus, asof vir die eerste keer.
Vandag sien ek op LitNet iets wat my weer – asof vir die eerste keer – na die Groot Verseboek laat kyk het. Dit is ’n brief wat Nelson Mandela aan Tafelberg-uitgewers gestuur het nadat hulle vir hom kopieë van die Groot Verseboek, die Junior Verseboek en die Senior Verseboek present gegee het. Kliek hier as julle dit nog nie gesien het nie. (Dit was in 1975, lank voor hy almal se gunstelingoubaas geword het.)
My einste geliefde, wat ek so besing hierbo, het ’n paar weke gelede ’n belangrike mylpaal gevier (ek raak oud, sy word wys). Geliefde het toe vir Laurinda Hofmeyr gehuur om te kom sing vir ’n groot aantal van ons vriende.
Laurinda het talle stukkies uit die Groot Verseboek voorgedra, en die pragtige lied “Asof vir die eerste keer” gesing.
Ek en die geliefde het ’n vreemde, en wye, vriendekring. Talle het ’n ruk in die buiteland rondgeloop – of woon steeds daar. Wat my egter opgeval het, was hoeveel van hulle na die tyd vir ons gesê, of geskryf, het hoeveel hulle weer die Afrikaanse poësie geniet het – asof vir die eerste keer.
En, ja! Is dít nie wat ’n gedig moet doen nie? Dit moet vir jou iets, wat jy al lank ken, weer laat ervaar – asof vir die eerste keer.
Die Groot Verseboek is ’n skatkis, iets wat ek nie hoog genoeg kan aanbeveel nie. Dit kom deesdae in drie bande – jy kan hom ook geblik koop. Myne (geblik) is ’n konstante bron van vreugde.
Koop gerus jou eie kopie van die geblikte Groot Verseboek, en geniet die alledaagse, asof vir die eerste keer.
Laurinda se nuutste cd is ook nie te versmaai nie, kliek hier om dit te koop. (Dié mens sing die wonderlikste toonsettings van gedigte.)
My geleerde vriend, Awie, het dié foto’s van Laurinda geneem.
Dié einste Awie Badenhorst het gister ’n uitmuntende panorama in Buite van Die Burger gehad. Hier is ’n klein weergawe van die foto.
Die klein foto’tjie laat egter glad nie reg geskied aan sy oorspronklike foto nie. Kry gerus ’n kopie van Die Burger in die hande en beleef die prag van Oranjerivier wat afstort by Augrabies. (Julle sal dit geniet – asof vir die eerste keer :-)
Comments