Kom nou eers tot verhaal om ‘n straaltjie oor gisteraand se krieket by te dra. Het my laat dink aan die jaar 1957 toe ek tweede aanvangsbouler van Volkies op Potch was.
Ons speel teen Potchefstroom-Dorp. Een van sy aanvangskolwers is Harry Newton- Walker, groot Springbokstut van die 50’s.
Wat het ek geweet van lyn en lengte? Afrigter het nooit ‘n woord oor so iets gerep nie. Ek kom maar ingedraf – taamlike lang aanloop – en slinger die bal (die “rooi pampoen” het wyle Dana Niehaus dit destyds genoem) min of meer in die rigting van die paaltjies.
‘n Boulbeurt was toe nog agt balle. Die heer Newton-Walker slaan die skraal donkerkop-skoolseun vir 4,6,0,6,6,4,4,6. Hoe miserabel kan ‘n mens voel, jou selfbeeld aan flarde (met jou nooi langs die veld) en jou gemoed verskeur met twyfel oor jou eie vermoe om ‘n tweede soortgelyke aanslag te stuit!
Die kaptein, wyle Charles Bamberger, vervang my gelukkig na daardie eerste rampspoedige beurt met draaier Pierre Lombard, later grootkop in die Spoorwee. Pierre boul die Van Deventer-verwoester toe pens en pootjies. Maar die skade was gedaan.
Ek is bitterlik jammer vir julle, arme Proteas (of Vroteas, soos Die Burger julle vanoggend noem).
Комментарии