Ons feestent op ons gras voor die huis.
‘n Nare jaar, weet ons almal, is in Latyn ‘n annus horribilis; ‘n wonderjaar ‘n annus mirabilis. Wel hierdie jaar, 2016, is my en Tokkie se annus baken-laureus (jaar van bakens).
Ekke het op 3 Januarie 75 geword. Tokkie was op 15 Maart, 70. Ons was op daardie datum ook 50 jaar verloof. Op 31 Desember vier ons goue bruilof. Ons het Saterdag hierdie bakens feestelik gevier. Op ons grasperk op Melkbos is ‘n frisserige markiestent opgeslaan. Aan die 12 tafels – met rooi tafeldoeke (Tokkie se gunstelingkleur) – was 100 gaste uit verskillende fases van ons lewe; skoolmaats, studentemaats, kollegas, Probusvriende van Melkbos en andere.
Buurman Dale Schreuder, bekende in Kaapse restaurantkringe, het vir die spyseniering gesorg. ‘n Span kelners van sy restaurant in Milnerton, Dale’s Black Angus, het na die gaste omgesien. Die spyskaart was na ons mening nogal besonders. Vriendin Rina van Rensburg van Stellenbosch het dit vir ons soos volg in keurige Afrikaans omgesit:
Happies: diepgebraaide calamari, groenterolletjies, Italiaanse sosaties, varkworsies, gerookte salm en brosbroodjies, knoffelpitabrood.
Buffet: geroosterde kruisskyf met sampioensous, romerige kerriehoender met sambals, gebakte Karoolamsboud met vleissous en kruisementjellie, gegeurde rys, braai-aartappels en vars seisoensgroente.
Nagereg: kaasbord met beskuitjies en suurtjies, malvapoeding met vanieljevla, pannekoek met bessiesous en geklopte room, roomys en warm sjokoladesous, sjef se verrassings.
Die vonkelwyn was Nuy sauvignon blanc en die wyne albei uit die Perdeberg-stal: chenin blanc en soft smooth red.
Die Perdeberg was nie om dowe neute nie. Op die bottel lees ‘n mens anno 1941. Dis ook my eie anno. Ek is op 3 Januarie 1941 in Sister Gilbert se Nursing Home op Dundee gebore. Ook my Jeep-hemp was nie net omdat ek nie ‘n Pringle of ‘n Polo kan bekostig nie. Jeep se anno is ook 1941. Man, wyn, hemp – selle jaar se kalwers.
Tokkie is anno 1946. Dit was die geseënde jaar dat die bikini die lig gesien het. Ter wille van die historiese simboliek sou ‘n bikini vir my vrou – ‘n rooie dalk – nie uit sy plek gewees het nie. Om kuisheidsredes meer as klimaatsredes is daarteen besluit.
In ‘n stadium het die weer nogal dreigend gelyk. Die wolke het egter hulleself bedwing. Eers die aand ná 20:00 het ‘n sterkerige bui uitgesak.
Twaalf tafels met rooi tafeldoeke.
Hoekom ons die tent-opsie gekies het welwetende dat die wind kan waai, die reën kan giet (onthou, dit was Paasnaweek) of dat die son ons kan uitkaiing? Die antwoord is eenvoudig. Omdat ek al 20 jaar brand om dit te doen. Kan riskant wees om die lus nog 20 jaar te bedwing!
By Die Volksblad het ‘n korrespondent in die 80’s ‘n netjiese berig gestuur oor ‘n plattelandse kerkie wat gerestoureer is. Die lidmate was veral gaande oor die sierlike kateter, het hy berig (kateter met ‘n t). ‘n Kateter in ‘n kerk – nogal nuttig vir lidmate met swak blase, het kollega Paul Marais met sy droë humor gebrom.
Ons het nie nie ‘n kateter (met ‘n t) gehad nie – die gaste moes maar die trappies opbeur na die geriefies binne die huis toe. Ook nie ‘n kateder met ‘n d nie. Dit was ‘n kuierdag, nie ‘n toesprake-dag nie.
In ons Bybelstudiegroep het ons pas die voortreflikheid van nederigheid deurtrap – ‘n eienskap waarmee ek soms ietwat sukkel. Daar het ons met die wyse Salomo hartroerend daaroor saamgestem. Dit sou derhalwe erg inkorrek gewees het om in die geselskap van Bybelstudievriende iemand los te laat om te vertel hoe oulik ek en Tokkie is. Amper voeg ek by … en ons gaste weet dit mos buitendien!
Ware geluk lê nie in hoe ‘n skare vriende jy het nie, maar in die waarde wat hulle toevoeg sê Samuel Johnston. Ons vriende is waarlik waarde-toevoegers. Hulle is soos immergroen boeke en fynproewerswyn. Pêrels van groot waarde.
Oor hulle en oor ander aspekte van ons fees van 26 Maart 2016 gaan ek in die volgende dae uitwei.
Wees asseblief maar geduldig met die ou man.
Comments