Die dood van ’n goeie vrou, deur Chris Karsten. Resensie: Kerneels Breytenbach (Boeke24) Het “kragtoer” nie ’n uitgediende begrip in resensies geword nie? Dis ’n woord met dieselfde gebruikfrekwensie as ikoon, stunning en fantasties. Wanneer ’n resensent dit inspan, voel ek dadelik ongemaklik. Soos Breytenbach hier in sy finale oodeel doen: “Dit is eintlik ’n redelik eenvoudige verhaal, maar die vertel daarvan, en die manier waarop Karsten dit doen, maak dit so ’n kragtoer.” Andersins is dit ’n sterk resensie, en moet ek sekerlik nie my wantroue in geykte taalgebruik gebruik om fout daarmee te vind nie. Breytenbach vermy die gebruiklike slaggate. Hy vertel nie die verhaal in detail oor nie, hy fokus eerder op die elemente wat Die dood van ’n goeie vrou ’n goeie speurroman én ’n heerlike leeservaring maak. ’n Resensie wat veral deur die skrywer van die boek geniet kan word.
Syferfontein, deur Cas Wepener. Resensie: Frederick Botha (Boeke24) Frederick Botha is een van die nuwe geslag resensente wie se skrywes ek hoog takseer. ’n Mens lees sy resensies met ’n gevoeligheid vir toon. Hierdie keer baie gedemp. Die roman bevat goeie idees, maar word geskaad deur ’n eenselwigheid van aanslag. Min variasie dus, baie verveling.
Moord op Karibib, deur Isa Konrad. Resensie: Helen Schöer (Boeke24) Een van die moeilikste soort resensies om te skryf, is dié oor ligte leesstof. Daar is weinig om werklik aan die groot klok te hang, en die kuns lê daarin dat mens die verhaal moet opdollie op ’n manier wat geen geheime verklap nie, en sonder om dit in detail te parafraseer. Dit is een van die kere waar die resensent deurentyd bewus bly van sy medium, in hierdie geval ’n dagblad. Helen Schöer se resensie is absoluut nommerpas in hierdie raamwerk.
Commenti