Ek het in my albums gaan blaai. Hierby ‘n saamgestelde foto van die John Hancock-sentrum – Boston se glaskas. Links is Copley Square met die Hancock agter. Regs is die voorblad van ‘n Boston-brosjure van 1976/77. Oud en nuut so langs mekaar. Dis Boston.
In Boylston, die straat waar die bom geplant was, het ek dikwels self met my roomkleurige Toyota Corona-stasiewa van 1972 gery.
Die brosjurevoorblad wys die toneel wat ons elke keer gesien het as ons met die moltrein van Harvard Square, Cambridge, na Boston gery het om na die Boston Pops (Arthur Fiedler) te gaan luister, by die reusagtige afdelingswinkel Filenes te koop of sommer tussen al die historiese bakens rond te loop.
Die Boston Common met sy swaanbote was ‘n heerlike kuierplek oor middagetes – meesal doughnuts of ‘n McDonalds (Big Mac vir my).
Die trein het die Charlesrivier met ‘n hoe brug oorgesteek. Daar was altyd wit seilbootjies op die blou water. Ek onthou ‘n keer toe ons in die aand oor die Charles is. Marisa het verruk uitgeroep: ”New York, New York!” (waar sy kort tevore was). Die Bostoniete het lekker gelag.Boston se liggies en New York s’n was kwalik vergelykbaar.
Die Hancock se ruite is een aand in n frasstorm uitgeruk. Groot drama gewees, het die taximan ons vertel wat ons die aand met ons aankoms na ure se wag by die Logan-lughawe opgetel het. Ons het met uitstekende tydsberekening in Boston geland te midde van ‘n taxi-staking.
Omtrent enigste keer gewees wat ons huis toe verlang het!
s.See More
Comments