In loshande die rofste pers-uitstappie waarvan ek kennis dra, het ‘n 20-tal redakteurs en assistent-redakteurs letterlik kaal uitgekom.
Dit was ‘n besoek per Dakota aan die Unitaleier Jonas Savimbi by sy hoofkwartier, Jamba, diep in die Afrikabos in die 80’s. Die spannetjie het in ‘n tropiese storm papnat gereën. Ook hul koffers was deurweek – niks was droog nie. Bedremmeld, stroop hulle hul nat klere, en daar staan hulle toe in die Dakota terug Johannesburg toe soos natgereënde hoenders: poedelkaal, bibberend en blou van die koue. Ook uitgeput en ergerlik. .
Alles begin by ‘n besoek aan die kleurryke Savimbi deur Tertius Myburgh, redakteur van die Sunday Times (foto). Savimbi vra in ‘n stadium: “Hoekom bring jy nie ’n volgende keer jou mede-redakteurs saam nie?”
So gesê, so gemaak. Tertius begin toe rondvra oor ‘n huurvliegtuig en ‘n vlieënier wat sy pad Jamba toe sal kan vind. Op Wonderboom, Pretoria, loop hy ‘n ou Dakota raak wat reg lyk vir die safari. Die vlieënier wys die duime op; ja-nee, dis reg so.
Myburgh verneem na die koste en werk uit hoeveel dit per kop sal beloop as hy ‘n span van so 20 kan versamel. Daarna stuur hy telekse aan al die koerante in die land, Afrikaanse en Engels. Hy kry ‘n geesdriftige respons. Enkeles wil weet hoe veilig dit is. Dink daaraan as ‘n ietwat rudimentêre Mala Mala, kom die antwoord. Tops, dan’s ons in.
Vroegoggend is die klomp op Wondeboom, uitgevat in hul khaki-bosdrag, oorgehaal vir die groot avontuur. In die Dakota met sy parkbankies teen die sye is twee trommels vol bier op die ys en genoeg whiskey. Vyf uur lank dreun die Dakota se motore egalig oor die Afrikakontinent met sy vrag persmense. Onder hulle heers lughartigheid en afwagting.
Hulle word ontmoet deur Unitasoldate en word agterop twee Tsjeggiese vragmotors geboender vir die hobbelrige reis van nege uur oor primitiewe paaie Jamba toe. Die whiskey hou nog en die gees is ongedemp. Avontuur is in die lug.
‘n Dag en ‘n half kuier hulle ‘n hond uit ‘n bos saam met Savimbi. Ná ‘n laaste aandete saam met die gulle gasheer val hulle om tienuur die aand in die pad terug. Behoort dus ligdag die landingstrook te haal. Toe drie probleme: i. die whisky is op; ii. Die Tsjegge weet skynbaar nie van skokbrekers nie, en iii. ‘n magtige Tropiese storm bars los. Dit giet. Ure lank ploeg, swaai en bokspring die gehawende voertuie sans skokbrekers deur die nag voort terwyl die manne bibberend onder bokseile skuiling soek . Rudimentêre Mala Mala se voet, brom hulle in ‘n koor en werp beskuldigende blikke in Myburgh se rigting.
Ligdag bereik hulle die Dakota. Dankie tog, sug die manne. Nou kan ons droë klere aantrek. Helaas. Toe hulle hul koffers optel, stroom die water uit elke skrefie. Niks – maar niks – binne het droog gebly nie.
Hulle bestyg die Dakota, nat en koud. Die motore het skaars begin brom, toe’s hulle soos een man uit hul nat klere: 20 redakteurs op ‘n ry sonder ‘n draad aan hul lywe. Die vliegtuig binne lyk soos ‘n wasgoeddraad met al die nat bosmonderings wat druppend aan die sye hang.
Die manne is hoendervel en dik die duiwel in. Myburgh moet net bontstaan. Alles is sy skuld. Hy gaan vra later die vlieënier of daar nie ‘n verwarmer is nie. Dié beduie na ‘n handvatsel agter hom . Dis of vrek warm of yskoud, waarsku hy. Werk dit maar self uit. Die hele vyf uur in die lug op pad terug is Myburgh heen-en-weer. Hy sit dit op warm todat hy die sweet sien pêrel. Dan sit hy dit weer op koud.
Die uitgemergelde groepie was nog nooit blyer om op Suid-Afrikaanse bodem neer te stryk nie.
Ek was gelukkig nie op die uitstappie nie. Seker maar ‘n “premonisie” gehad, soos my ouma Elsie Visser altyd gesê het. Toe stuur ek Willie Kühn, ‘n assistent-redakteur. Hy was nog bleek om die kiewe toe hy in Bloemfontein aankom ná die nagmerrie-safari.
* Willie wat voor my troue my woonstelmaat was, het later redakteur van Beeld en van Huisgenoot geword. Tertius is aangestel as ambassadeur in Washington maar is aan pankreaskanker oorlede voordat hy die pos kon opneem. Hoe jammer. Hy sou ‘n voortreflike ambassadeur gewees het: slim, sjarmant en spitsvondig. (Dankie aan Joel Mervis. Het my geheue gaan verfris in sy boek “The Fourth Estate” , Jonathan Ball, 1989).
Comments