Die maplotters ploeter voort
Maart 7, 2012 in Sonder kategorie
Die inwoners van hierdie werf is te lief vir pampoen in enige vorm en kleur om ooit enige pampoene na die dak te verban. Wat is dan nou lekkerder as ‘n pampoentert met so ‘n krakerige kaneelsuiker-kors, vars pampoenbrood met ‘n strepie neutmuskaat of Sondagmiddag-pampoenpoffers met ‘n dun karamelsousie? Pampoen kan beslis nie op die dak gemors word nie.
Maar wat ons wel het, is skottels BINNE in die dak….
Die sikloon wat ons die naweek so ‘n veeg met sy stert kom gee het, het welkome reën vir ons dorre lappie aarde gebring, maar dit het ook ‘n bietjie konsternasie op die maplotter werf veroorsaak.
Salig sit ek, Moeder van Vele en Middelsus nog Sondagmiddag ‘n stokou fliek na middagete en bekyk, toe Middelsus die gedrup op die voorportaal se teël vloer hoor, net om sekondes later te ontdek die plafon maak al sulke dik nat strepe op die lasplekke….
Die herinnering aan die gebarste geyser van ‘n maand gelede nog vars in haar geheue, uiter Moeder ‘n paar onwelvoeglike woorde so in die verbygaan. Iemand moet in die dak op en gaan kyk wat aangaan. As dit wéér die vergalste geyser is…..dreig sy so in die niet.
So word die lendelam leer ingedra, en gedagtig daaraan dat mens net ‘groei’ wanneer jy jou vrese in die oë staar, vertrek ek op teen die leer wat deur Moeder en Middelsus ge-anker word om te gaan kyk watter goggas en goeters wag vir my daar bo. Dis moeilik om so oor die balke te klouter as jy drie flitse gelyktydig in alle rigtings probeer skyn….
Lang storie kort, Vader met die Krom Knie word wakker van die gelag en sukkel-sukkel ook tot bo. So ontdek ons die beginpunt van die klein watervalletjie, daar doer vêr in die middel van ‘n soliede stuk plaffon waar ek nie mag trap nie, hoe dan nou anders. Soos ‘n akrobaat wat tot vir Tom Cruise in Mission Impossible soos ‘n beginner laat lyk, bewimpel ek die vorige geyser se opvangplaat en ‘n redelik groot skottel onder die lekplek in, en hoop vir die beste.
Nee sê Vader, die probleem begin buite, ons sal die blare uit die geute moet loop grou, anders dam die reën net nog verder op. En so klouter ek, Vader en Middelsus buite bo-op die dak vir ons Sondagmiddag-avontuurtjie. Moeder anker nogsteeds die leer want sy het hoogtevrees. Met die omskuif van die leer om ons aan die ander kant van die huis weer te laat afklim, gly sy. Maar gelukkig, soos ‘n ware Namibiër, ken sy die eierdans, en trap vlugvoetig rond om staande te bly.
Want kon jy nou dink wat sou gebeur as sy geval en bly lê het?
Daar sit ons drie sonder afkom plek, sopnat en yskoud, en binne lê Ouma dowerig en dut, soos net ‘n 94-jarige kan.
Dit sou ‘n wyle wees voor iemand ons ontdek het…..
Nou moet ons nog net die vol skottel een of ander tyd gaan afhaal. Ons wag maar net tot daar meer mense in die huis is….
Onlangse kommentare