Bytsoda
April 16, 2012 in Sonder kategorie
“Dit vreet soos bytsoda in my ingewande” – ontbloot sy haar seer.
‘n Vergete mater wat in die buiteland werk het my uit die bloute gebel en gevra om ‘n draai by sy vrou te gaan maak, want hy is bekommerd. Wou nie detail gee nie, behalwe dat hy nie hul onderskeie families of hul naby vriende wou betrek nie.
Ek het haar ook baie jare laas gesien, sy was altyd ‘n mooi vrou, ‘n goeie vrou. Maar sy is moeg, sy is seer en dit wys. Veral in haar oë.
Nie gevra waarom ek daar is toe sy die deur oop maak nie, net omgedraai na die kombuis gestap en die ketel aangeskakel.
Sy het eers haar koffie half gedrink voor sy ‘n storie uit haar kinderdae vertel het. ‘n Storie op hul afgeleë plaas – die storie van ‘n swaksinnige arbeidersvrou wat selfmoord gepleeg het deur bytsoda te drink. Die detail van hoe die plaas se mense die vrou probeer red het, hoe sy as klein dogtertjie gaan wegkruip het met haar hande oor haar ore om die vrou se pyngille te doof. Gille wat nou nog by haar spook.
Toe eers vertel sy my van haar man, wat nou al jare op dieselfde projek weg van die huis werk. Dat sy weet dat daar ‘n ander vrou is, al kan sy dit nie bewys nie en al wil hy dit nie erken nie.
“Dit verteer my wanneer hy na sy rusperiode by die huis moet terug gaan en ek weet sy wag. As ek alleen in ons bed lê en dink aan hul intimiteit. Dit vreet soos bytsoda in my ingewande.”
Sy vertel sy sal hom nie skei nie, tensy hy wil. Want hy is haar man, sy is lief vir hom en dit is soos dit is. En hy het nog elke keer terug gekom na haar.
Die ander vrou is al meer as twee jaar met hom, lig sy my in. “Sy moet ook seker lief wees vir hom? Dink jy dit vreet in haar wanneer hy moet terug kom na Suid-Afrika, terug na my?” Wil sy by my weet.
En as ek my skouers optrek, want ek weet nie. Sag maar beslis: “Ek hoop dit vreet soos bytsoda in haar ingewande!”
monicahaddad het gesê op April 16, 2012
Jy skryf so mooi, ek wens jy wil meer skrywe….
erikavz het gesê op April 17, 2012
Onsekerheid kan so gevoelig wees
Geitjie1 het gesê op April 17, 2012
Daai bytsoda se gevreet is vernietigend………….
mladanyi het gesê op April 17, 2012
Die lewe is wreed
HeavyHenry het gesê op April 17, 2012
Rof!
lisabeth het gesê op April 17, 2012
Ai jai jai, dis hartseer.