Nag, ma
September 15, 2012 in Sonder kategorie
Oupa was vandag hier. Soos elke ander Saterdag en Sondag.
Hy was stil. Stiller as gewoonlik, wat nogals baie stil is.
“Dis vandag vyf jaar,” sê hy toe later. Ek het sleg gevoel, want eintlik het ek bietjie vergeet. Ek sien toe op die muurhorlosie dit is omtrent op die uur ook net mooi vyf jaar gelede.
Ek en oupa was in die Baai gewees mos toe vroulief my destyds bel met die nuus. Aan haar stem het ek geweet daar is ‘n krisis. Een van ons kinders het verdrink, het ek gedink. Daardie sekondes wat ek dit gedink het, tot sy gesê het wat gebeur het, was vir my baie erg. En toe ek besef dis jy en nie een van my kinders nie toe… wel, ek was verlig. Maar ek weet jy sal verstaan.
Sewe-en-twintig jaar gelede, met jou eerste hartomleiding, was ek met my eindeksamen besig. Ek het nie geweet van die operasie nie. Julle wou my nie ontstel nie, en het my niks gesê nie. Jy het wakker geword na die operasie en kon hoor hoe die dokters praat. Jy kon hoor daar was groot fout, en dat hulle weer moes opereer. Jy’t my agterna vertel jy het aanvaar jy gaan dit nie maak nie, maar hoe jy gehoop het dat dit my nie te veel sal ontstel met my oorblywende vakke nie.
Terug na die dag, vyf jaar gelede. Ek moes toe vir oupa gaan sê. Hy was buite in die garage besig. Ek was nie baie goed nie. Ek het min of meer in een sin vir hom uitgeblaker: “Pa, ma het ‘n hartaanval gehad, sy is dood.”
Hy het geskrik. Hy’t niks gesê nie, net omgedraai en teen die motor geleun, sy voorkop in sy handpalm. Sy skoonsus het hom ‘n druk gegee.
Toe ry ons lughawe toe om te kyk of ek hom op ‘n vlug kan sit terug Kaap toe. Toe ek by die lughawegebou instap toe sien ek deur die venster daar taxi die vliegtuig net mooi na die runway toe. Ons het toe maar met die bakkie teruggery Kaap toe.
Dit was ‘n stil nag gewees.
Onlangse kommentare