Dallas
Mei 30, 2012 in Sonder kategorie
My geheue is die laaste tyd bietjie geprikkel nadat ‘n koshuismaat van Universiteitsdae begin het om foto’s van daardie tyd te sirkuleer. Dis juis wat tot my vorige storie aanleiding gegee het.
Die laat sewentigs was Dallas op TV gewees. Só is ek vertel, ons het toe nog nie TV gehad nie. Teen die tyd wat ek in 1981 op Stellenbosch aankom as eerstejaar toe het ons darem laat in die vorige jaar ‘n TV gekry nadat die SAUK ‘n sender op Piketberg opgesit het. Ons het selfs beeld op ons TV gehad. Maar ek was in die proses bietjie agtergelaat op die detail van Dallas. The doings and the screwings of the Ewings. Ek kan wel onthou daar was so ‘n mooi girl in die storie, Pamela, maar sy het net twee standaard gesigsuitdrukkings gehad. Maar dit was ok, sy was heeltyd mooi om voor te kyk mos nou.
Nietemin, terug by eerstejaar wees in die koshuis. Dooptyd. Ons moet konsert hou. Daar is nie veel idees gewees in ons seksie nie. Ek stroll toe oor na die seksie langsaan om te hoor of hulle nie dalk ‘n paar surplus idees het nie, maar hulle het nie gehad nie. Ek dink nie ons was ‘n besonderse goeie inname daai jaar op die uitvoerende kunste nie.
Uiteindelik besluit (iemand in) ons seksie ons gaan Dallas opvoer. Van die ander ouens het selfs al Dallas voorheen gekyk, so hulle kon darem die karakters se name en ‘n basiese storielyn onthou. Uitendelik bevind ek my in iemand se blou kamerjas, met ‘n stoflap oor my kop gebind.
Later is ons aan die beurt. Een van die menere seniors verneem uit die gehoor uit wie ek is.
“Ek is Miss Ellie, meneer.”
Die nexte ding toe lag almal daai seniors hulle gatte af. En die ouens saam met my op die verhoog ook. Hoekom weet ek nie.
Nou word ek uit die gehoor uit opgeroep om die res van die cast aan die menere seniors voor te stel. Dit vang my toe nou bietjie onkant. Ek het klaar moeite gehad om my script te onthou. Dié het ek egter tóé alreeds vergeet van stage fright. Maar ek weet nie wie in Dallas speel nie, so ek weet ook nie wie die res van my cast veronderstel is om voor te stel nie. Ek het gedog Miss Ellie is die huishulp, maar blykbaar was sy soortvan die matriarg in die storie gewees.
Nou moet die ouens rondom my eers een vir een vir my sê wie hulle is, dat ek nou vir die menere seniors kan sê wie hulle is. Maar dis lastig, want ek het ‘n gehoorprobleem, en die menere seniors gedra hulle glad nie goed nie. Ek moes van die name in die proses verkeerd gehoor het – iets wat die menere seniors al snaakser en snaakser gevind het. Teen die tyd wat ek toe nou deur die hele cast is, toe sweet ek al by die emmers.
Sestien jaar later loop ek in een van hierdie menere seniors vas. Gelukkig herken hy my toe nie meer nie. Vreemd, toe ek hom sê ek was destyds kortstondig Miss Ellie toe onthou hy dit nogals dadelik – en dink (weer) dis snaaks.
Jy weet daai gevoel wat jy kry as almal in die vertrek die joke vang, maar net nie jy nie……
Onlangse kommentare