Namakwaland toer – Deel 4

April 18, 2012 in Sonder kategorie

Thomas se storie

 

Thomas het goed gevorder tot by die “Dik sand. Slegs 4×4 voertuie.” Die eerste deel daarvan was ook nog goed. Toe kom hy by die deel waar ons ons bande verder afgeblaas het. Op daardie stadium was Thomas haastig en het hy nog nie sy bande afgeblaas nie.

 

Die sleepwa het hom feitlik dadelik laat vasval in die sand. Net mooi waar hy laasjaar met die Colt vasgeval het. Hy besluit toe hy gaan nie met die Jeep en die sleepwa regkom nie. Dus haak hy die sleepwa af en kry dié darem uit die sand uit. Die sleepwa los hy toe langs die pad met die plan om tot by ons te ry om ‘n ander voertuig te kry om die sleepwa mee te haak.

Dus los hy die sleepwa en takel die dik sand met die Jeep. ‘n Paar honderd meter later raak hy uit grondvryhoogte en val hulle vas.

 

Twee uur later toe lê daar al klein bergies sand weerskante van die pad soos hy en Marienka grawe (party mense het ook ál die pret).  

 

Thomas besluit later dat die skrif aan die muur is. Hulle gaan nie die Jeep uitkry nie. Soos dit diligens paterfamilias betaam pak Thomas toe kos en drinkgoed in ‘n sak; hulle gaan nou hulp soek.

 

Marienka reken egter sy gaan nie hierdie Rooikapie ding doen nie. Eerstens is hier wilde diere: daai volstruise wat hulle langs die pad gesien het gaan hulle jaag. Thomas sê hulle sal nie. Marienka sê hulle kan nie die voertuig daar los nie. Die volgende ou kom dalk teen ‘n spoed daar aangejaag en ry hom besimpeld vas in die Jeep. Thomas sê dis laat, niemand gaan meer hier verbyry nie.

 

Voordat die aangeleentheid in ‘n huishoudelike geskil kon ontaard daag die manne met die Land Rovers daar op, baie opgewonde om iemand te kan red. Die res is geskiedenis.

Toe ons uiteindelik laataand in die bed kom sien ek dis maar 22h00.  Ons het net gelê toe sê Marga die see raas darem nou kwaai in ons ore. Kom ons lê ander kant om. Ons maak toe so. Ek kan nie sê dat dit toe stiller was nie, maar dit was tog geriefliker om opdraende in plaas van afdraende te slaap.

Saterdag, 7 April

 

Dit reën lekker. Vir lang ure sit of lê ons in die tente.

 

 

Die kinders speel PSP in die motors, die grootmense kuier van sleepwa tot sleepwa vir koffie. Die sleepwaens is ingerig vir reën met hul afdakke.

 

Ons ry nêrens nie. Teen namiddag merk ons ‘n kolonie meerkatte op wat so ‘n paar honderd meter weg van ons af woon.   Een is dalk die verspieder, want hy staan die heeltyd skiertsregop en hou ons dop. Ek dink dalk was hy bloot maar nuuskierig, want hy sal ‘n redelike lousy verspieder uitmaak. Ek meen, hy was salig onbewus van die junior lede van ons geselskap wat van die teenoorgestelde kant nader aan hom gesluip het. Dis eintlik wonderlik dat die kinders so in die natuur en in diere belangstel, reken ons.

 

Toe ons egter dit twee ketties by die jongelinge gewaar besef ons dat hulle nou nie heeltemal uit is op ‘n look and learn ekspedisie nie. Luide teregwysings met gepasde handgebare laat hulle die aftog blaas. Die kinders, nie die meerkatte nie.

 

Marinus en Nicci en Thomas en Marienka is op kosdiens vir die aand. Gelukkig lig die reën. Vroegmiddag begin hulle al met die skaappot. By twee geleenthede lyk dit of die reën die aand gaan bederf, maar dit gebeur gelukkig nie. Die aand word afgerond met winkelsjokolade en koffie.  

 

Sondag, 7 April

Lambertsbaai

 

Na twee nagte pak ons op by Varswaterbaai.

 

By tye is daar ‘n keuse tussen ‘n pad teen die see en een verder weg, maar ons hou teen aan die see. Plek-plek is daar redelike uitdagende sandspore met kwaai kruis-as aksie wat dit moeilik maak om spoed te kry. Dis nogals ‘n indrukwekkende gesig om die voertuie met sleepwae daar deur te sien ry, met die sleepvoertuig en die sleepwa wat soms wild in teenoorgestelde rigtings wikkel.

 

Martin se plan was dat ons van Groenrivier af terug mik met die grondpad Garies toe sodat ons die vinnigste pad tot op Lambertsbaai kan vat. Daar is intussen teen daardie plan besluit.

 

 

Die laaste paar dae se reën maak waarskynlik dat die sand nie so uitdagend is soos wat dit sou wees as dit nat was nie. Dit bring egter heelwat modderpoele mee.

 

 

Teen die tyd wat ons op Lambertsbaai kom lyk ons of ons deur ‘n modderbad gery het. Ons het.

 

 

Ons doen ‘n kort stop by die Groenriviermond vir die been-there-dunnit foto.

 

 

Vandaar volg daar nog lang gedeeltes sandpad. Dis ‘n heerlike pad om te ry. Sekerlik interessanter as om terug te gery het Garies toe. What where you thinking, Martin!

 

Net kort van die Suidelike uitgang uit die Park uit stop ons langs die pad vir middagete. Van ons wil ook ons bande op pomp. Pieter se bakkie blaas ‘n sekering en sy elektriese kompressor wil nie werk nie. Ja-nee, ek vertrou juis nie hierdie hoë tegnologie toestelle nie. Ek haal my voetpomp uit en begin my bande op pomp. Halfpad met die eerste band breek my pomp.

‘n Vriend van my wat ek gemiddeld een keer in tien jaar sien kom toevallig verby gery. Dit verhoog die statistiese gemiddelde insidensie van ons weersiens natuurlik merkbaar.

 

Gelukkig hoef ons net sowat 28km teerpad te ry voordat ons by Lutzville kan bande op pomp en (sommiges) brandstof intap. My voertuig is die enigste petrol voertuig van die konvooi en ook die meer dorstige een. Sy gaan nie sommer ligtelik by ‘n pomp verby nie.

 

Net buite Lutzville waai die wind Martin se opvou tafel van die Landrover se dak af. Gelukkig ry hy op daardie stadium soos ‘n maniak, anders was ek kort op sy hakke en kon die tafel op my voertuig geval het. Ná ‘n vlugtige inspeksie van die tafel besluit Martin om dit daar te los vir die arm kindertjies.

 

Ons ry die tolpad van Strandfontein af Lambertsbaai toe, en kom laatmiddag by Malkopbaai kampterrein oorkant die Muisbosskerm aan.   Daar is gras staanplekke. Daar is ook ‘n gedeelte wat onder Weskus aanrolgras (anchovie-net)is, maar die plek is nie só vol nie, en almal het ‘n lekker gras bedekking.

 

Dis tog vreemd hoe aperig mens na net drie dae van longdrops kan raak by die aangesig van ‘n spoeltoilet, krag en lopende water (en gras ipv sand)!

 

Pieter en Hanneke en Oupa en Ouma is in beheer van die kos. Pieter het vooraf gereël dat vars vis afgelewer word wat hulle braai. Ons eet heerlike Geelstert en Witstompneus. ‘n Paar manne wat daar naby kamp bring vir ons klaar gaar kreef. Ek is effens versigtig vir die kreef met die rooigety in die omgewing, maar hulle sê daardie kreef om van die Groenriviermond af. Die kreef smaak ook erg lekker.

 

Marienka help ook met die maak van soetkluitjies vir nagereg. Ons kan voorwaar nie kla oor die kos wat ons op die toer gekry het nie.

 

Maandag, 8 April

Die terugtog

 

Vandag kom ons toer tot ‘n einde. Alles is egter natgedou of gereën, en ons moet wag vir die tente om droog te word.

Dis darem nie te erg van ‘n straf nie. Ons kuier lekker saam terwyl almal so stuk-stuk inpak.

Ná ‘n vinnige groepfotobegin elkeen huiswaarts keer.

Nou daai was ‘n lekker toertjie gewees.

 

 

Statistieke:

Nagte uit:                                            4

Tent opgeslaan:                                  3x                          

Afstand gereis:                                 1095km

Teerpad:                                             805km                   7,2km/l

Grondpad en 4×4:                               290km                   5,2km/l

Brandstof:                                           168 liter 

 

 

PG JONKER

8 antwoorde op Namakwaland toer – Deel 4

  1. loudavisi het gesê op April 18, 2012

    Ek het regtig heerlik saamgetoer.

    Nogmaals dankie.

  2. TS het gesê op April 18, 2012

    Dankie ek het te lekker gelees… jammer dis nou verby.

  3. lisabeth het gesê op April 18, 2012

    Dit klin alles baie lekker. Jy het nie dalk al die Sani-pas gery nie?

  4. erikavz het gesê op April 18, 2012

    Lekker saam gery – as kind het ons darem lekker gespeel in daai Groenrivier lagune en daai duine geklim, dan weer aan dir ander kant af gespring.

  5. HeavyHenry het gesê op April 19, 2012

    Lekker – dankie virrie deel!

  6. AfrikaNerd het gesê op April 19, 2012

    Né? Het julle daar rond gewoon? Koekenaap, Lutzville?

  7. AfrikaNerd het gesê op April 19, 2012

    Nee, ongelukkig nie.

  8. erikavz het gesê op April 19, 2012

    My oupa se plaas was tussen Garies en Platbakkies en die familieplaas is op die pad na Groenriviermond.

Los ’n antwoord vir lisabeth. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.