Namakwaland toertjie – deel 2

April 15, 2012 in Sonder kategorie

In Deel 1 het ek begin met ‘n paar foto’s.  Bietjie meer detail oor die reis self.

Bouldersbaai toertjie – Paasnaweek 2012

 

Woensdag, 4 April

 

Inpak

 

Laatmiddag ná werk begin die inpakkery in alle erns. Dis dán wanneer die gekners op die tande begin wanneer die bakkie al vol is, en “hierdie laaste paar goedjies” wat jou wil mal maak nog ingepak moet word.

 

Ons bestemming is die Suidelike deel van die Namakwa Nasionale Park – die gedeelte tussen die Spoegrivier en die Groenrivier. Oorslaap vir drie nagte langs die see veroorsaak bietjie beplanning as jy nie behoorlik ingerig is met ekstra batterye en veldyskaste nie.

 

Ek het ‘n veldyskas. Dit was ‘n geskenk van my broer so 14 jaar gelede. Eintlik was dit eerder ‘n geval dat die vrieskas nie kon pas in die Munisipale vuilgoeddrom nie. Die ding is, hy vries dat die biesies bewe op 220Volt, maar nie op 12V nie, en ook nie eintlik op gas nie. Dis bietjie soos die ou wat nommer 11 kolf vir die vierde span, maar ook nie eintlik boul nie.

 

Die vorige geleentheid wat ek met hierdie yskas probeer kamp het was juis toe ons laasjaar ook in die Namakwaland gaan toer het. Huishoudelike vrede en gerieflik kamp verg ‘n nuwe plan.

 

Uiteindelik sit ek met 2 geleende veldvrieskaste in my garage om van te kies. Een is só groot dat jy sal moet aanbou om dit te kan stoor. Ek kies daarom die meer kompakte Engel. Ek huur ook ‘n batterypak by Overland Camp Rentals. Beide toestelle dra natuurlik daartoe by dat fyn beplan met word aan die spasiebenutting agter in my bakkie. Saam met twee 25-liter waterkanne en 4 pakke hout wat ook saamgaan.

 

Laataand is ons gepak. Ouboet het besluit om die huis op te pas. Met net 4 van ons slaag ek darem daarin om later die bakkie se agterklap toe te kry. Nie heeltemal moeiteloos nie, maar darem.

Donderdag, 5 April

 

Vertrek

 

Met ‘n dag se verlof voor die naweek mis ons die ergste Paasnaweek uittog uit die Kaap uit. Om 06h45 val ons in die pad en mik vir die N7 Noordwaarts. Ons ry op ons eie.

 

Ons tap petrol op Vanrhynsdorp. Nie oor dit nodig is nie, maar net ingeval Garies dalk ‘n kragonderbreking het. Op Garies gooi ons weer vir oulaas petrol, en mik dan Weswaarts op die grondpad Hondeklipbaai toe.

 

Boulderbaai

 

Martin, ons toerleier, en sy seun kamp al reeds van Maandag af op Bouldersbaai.

 

So tien kilometers kort van Hondeklipbaai kry ons die afdraai na die Suidelike deel van die Namakwaland Nasionale Park. Ons meld by die hek aan. Gerrit begelei ons deur die papier- en betaalwerke, en lig ons ook in dat Martin so ‘n uur gelede uit is Hondeklipbaai toe, sonder sy sleepwa, en dat ons maar enige plek op Bouldersbaai kan kamp. Die hele plek is vir ons groep van 6 gesinne bespreek.

 

Die GPS nee ons reguit Bouldersbaai toe. Ja, ek weet dit is wat hierdie tipe tegnologie veronderstel is om te doen, maar die paaie in die Park is nie heeltemal die gebaande weë nie, en Bouldersbaai sou ook min of meer die laaste keer in ‘n paar dae wees wat die pyltjie op my GPS enigsins ooreenstem met ‘n pad.

 

Martin staan opgeslaan by nommer 2, sien ons. Staanplek 6 is reg teen die see en lyk soos ‘n gawe staanplek. ‘n Pofadder wat vervel het se ou vel lê op staanplek 6. Ek weet nie waar die pofadder nou is nie, maar ons besluit toe dis sommer simpel om so teenaan die see te staan, en mik toe maar vir staanplek 1.

 

Ons is net klaar opgeslaan toe Martin en Daniël opdaag van Hondeklipbaai af.

Spoegrivier grotte

 

Ons wil graag na die Spoegriviergrotte toe ry. Dis so 5km weg. Martin besluit om liewer vir die volgende aankomelinge van ons groep te wag. Johan en Celia (oupa en ouma) moet nou-nou daar wees.

 

Ons ry die sowat 5km terug na die grotte toe. Van die afdraai na die grotte toe raak die sand redelik dik. Normaalweg sou ek verkies om nie alleen in sulke dik sand te gaan ry nie, maar Martin weet mos darem waar om ons te kom soek as ons nie weer terugkom nie. Jy sou mos, né Martin?

 

Die rit na die grotte is dik sand. As jy in die regte rat is. Eerste of tweede hoëstrek is ideaal vir die 3.4 petrolenjin. Dié woeroe-woeroe rustig deur die sand teen so 1500 toere, met banddruk op 1,5. By geleentheid oorskat ek die erns van die sandkol voor my en sit in laestrek. Wat ‘n frustrasie. Ek is later in laestrek 4de rat, maar die enjin raas heel buite verhouding tot die vordering wat ons maak.  Too much effort for the result.

 

Die grotte bly ‘n grootse ervaring. Ek en my vrou en Klein-boet is alleen daar.  Met ons terugkeer is oupa en ouma van der Merwe net besig om tent op te slaan. Die helfte van ons toergeselskap is nou al hier.  Kort na hulle daag Koos en sy gesin op.

Martin maak vanaand kos. Dit raak laat, maar Pieter en Rinus daag nie op nie. Donkeraand kom twee voertuie se ligte oor die knop. Maar nee, die voertuie hou verby. Martin spring in sy Land Rover en gaan vang hulle ‘n ent weg.

Ons kuier tot laataand om die vuur. Wors, steak sosaties en trifle poeding word bedien. ‘n Restaurant kan gaan doppies blaas.

Dis al goed koel toe ons gaan inkruip. Laataand trek die wolke oor.

7 antwoorde op Namakwaland toertjie – deel 2

  1. Moderne Voortrekkers. Dit lyk my jy bevredig n oerdrang.

  2. TS het gesê op April 15, 2012

    Interessant… dankie vir die deel.

  3. HeavyHenry het gesê op April 15, 2012

    Nice!

  4. frandr het gesê op April 15, 2012

    Dis nou wat ‘n mens “leunstoel-kamp” kan noem: sit lekker voor my rekenaar en beleef die buitelugavontuur. Ek hoop daar’s nog vertellinge.

  5. postatdo het gesê op April 15, 2012

    Very nice, I haven’t been to Namakwaland yet, sounds fun.

  6. erikavz het gesê op April 16, 2012

    Kort net ‘n Namakwalandse skaap ribbetjie, dan kan jy eet tot jou gesig blink van die vet. dan wat jy jou roosterkoek en krap die laaste vetjies uit…..

  7. loudavisi het gesê op April 17, 2012

    Hoe heerlik!
    Ons woon hier teenaan en het nog nie die pad aangedurf nie.

Los ’n antwoord vir frandr. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.