Gouritsmond Desember 2011 – Deel 1

Januarie 7, 2012 in Sonder kategorie

Dag 1, Vrydag 16 Desember

Ek word wakker en loer op my horlosie langs die bed. Dis 05h20. Ek is verlig. By ‘n vorige geleentheid het die kinders ons al voor 04h00 die oggend wakker gemaak om te ry. Ons slaap nog rustig verder tot my vrou hier by 06h00 begin roer.   Sy en Kleinboet bly eers vanoggend agter om die huis bietjie netjies te maak aangesien vriende in ons huis kom bly terwyl ons weg is. Ons moet in elk geval deesdae met 2 motors ry, met dié dat ons 6 mense is, met twee honde wat langs die pad op ‘n plaas afgegee moet word (ipv kennels toe).

Ek en die drie tieners vertrek 06h30. Vertrek is vir my die stresvolste deel van die vakansie.

Eers moet die karavaan langs die huis uitkom, met enkele sentiemeters weerskante se spasie. Dis gelukkig afdraende, dus hoef ons net te keer dat die karavaan nie met ons weghardloop nie, en dan moet ons natuurlik die karavaan navigeer. Wat nog steeds bietjie van ‘n oefening is. Eers bietjie reguit, dan as die karavaan amper by die hek is effens draai om by die bougainvilla verby te kom, maar nie te ver nie, want dan tref hy die balie aan die ander kant. En dan moet die bakkie reg belyn wees, anders draai die karavaan met die wegtrekslag sy stert in die bougainvilla in.

Dan is dit karavaan aan die bakkie haak, jockey wiel op, handrem af, ketting oor die bol, kragprop in, Tando in. Dan die ligte met opgehoue asem toets. Nie dat ek weet hoekom ek dit doen nie. Ek meen nou maar, as iets NIE werk nie, wat gaan ek nou eintlik doen daaromtrent? Ek weet nie hoe om dit reg te maak nie, en waar gaan ek dán iemand kry om dit te doen? So dis ‘n totale vermorsing van goeie tyd om die ligte te toets, maar ek doen dit maar. Net dat ek weet.

Die dag voor die vertrek stres my gewoonlik ook. Hierdie keer, egter, het ons (eintlik die kinders) besluit ons ry al vanoggend, en nie eers môre-oggend nie. Sodoende fnuik dit daai vooraf-dag se gestres.

Hoekom ek so stres weet ek glad nie. Ek is nog nie eens by die Hugenote tonnel nie, dan het ek al omtrent vergeet ek tou ‘n karavaan (dis nou as die wind nie stormsterk waai nie). By Rawsonville se afdraai sit ek net so met die helfte van my gewig op die sitplek – net vir ingeval die verkeersmanne die karavaan op die weegbrug wil trek. Mens weet nooit.

Ná ‘n pitstop by Ashton mik ons verder. Tussen Asthon en Swellendam steek ons die halfpadmerk verby. Die verkeer is nie kwaai nie, maar al is dit pla dit my min – ek probeer mos nie eintlik iemand verbysteek nie. Ek is die ou wat in ánder mense se pad is wat wél wil verbysteek.

Die tieners reken op ‘n Wimpy ontbyt langs die pad. By elke dorp loer ek in die spieël om te sien of hulle nog slaap. Hulle doen. Teen die tyd wat dié spannetjie begin wakker word trek ons al by Albertinia – 7km’s van die afdraai vir Gouritsmond. ‘n Vinnige stemming en hulle besluit om nou liewer deur te hou, eerder as om te stop. Om 11h20 trek ons in by Gouritsmond karavaanpark.

Die nice ding van tieners is dat hulle soms effens handiger is as negejariges. Teen die tyd wat my vrou en Kleinboet opdaag is die vink-nes basies uitgelê, en mevrou Vink kan kom inspekteer. Daremte dra die nes haar goedkeuring weg.

Dit was ‘n goeie dag.

6 antwoorde op Gouritsmond Desember 2011 – Deel 1

  1. Lekker, so’n familie-poging.

  2. Gebruik dieselfde afdraaipad net buite Albertinia as ons die slag na my broer op Boggomsbaai gaan

  3. TS het gesê op Januarie 8, 2012

    Ek kan my so verwonder aan mense wat so kan slaap in die kar

  4. Herhinner jy my nou aan ons jaarlikse uittog Mosselbaai se Santos strand toe..those were the days! Deesdae bly ons NET by die huis.

    Sien uit na nog foto’s veral van die see..
    ; )

  5. Geitjie1 het gesê op Januarie 8, 2012

    Lekker!!!!

  6. Lekker!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.