Sensitiewe inkopies

September 19, 2011 in Sonder kategorie

Kondome is deesdae vrylik beskikbaar. In enige openbare kleedkamer omtrent kan jy dit kry. So ek weet eintlik nie hoe die ouens wat die pakkies met die eksotiese prentjies op maak nog ‘n bestaan maak nie. Maar ek verstaan daar is blykbaar steeds ‘n behoefte aan die ‘brand name’ modelle. Die stakende studente van die Durban Tek het so ‘n tyd terug blykbaar aangedring op ‘brand name’ kondome as een van hul griewe.

 

Jare gelede stuur vroulief my om te gaan kondome koop. Ek kan nou nie eintlik meer onthou hoe dit gekom het dat ons dit nodig gehad het nie. Nee, nee, ek weet waarvoor ons dit wou gebruik het, ek bedoel nou maar, ons het normaalweg ‘n alternatiewe voorbehoeding gebruik.

 

Nou ja, hoe moeilik kan dit wees. Ek ry gou af na die naaste Spar toe. Ek fynkam die rakke. Elkeen, maar nee, geen kondome op die rakke nie. Nadat ek vir die tweede keer deur al die rakke is besef ek daar is inderdaad geen sodanige produkte beskikbaar nie. Dis tog onmoontlik. Goed, dan moet ek maar gou vra daarvoor.

 

Ek nader een van die rakpakkers. “Het julle kondome?” vra ek.

 

Die rakpakker se mond val oop. Hy staar my aan. Dan klim hy die enkel trappie van sy steppie af dat hy op gelyke grond staan. Hy sit die pakkie wortels neer en kyk agter hom. Ek dog eers hy dink ek praat met iemand anders, maar besef toe hy kyk of iemand anders dalk gehoor het wat ek vra.

 

Hy begin beduie met sy hande, aarsel, begin iets sê, maak weer sy mond toe, dan, sonder om iets te sê retireer hy weg van my af asof ek ‘n onbehoorlike voorstel aan hom gemaak het, maar iets aan sy handbewegings laat my tog die gevolgtrekking maak dat hy gou gaan navraag doen. Dan verdwyn hy vinnig om die hoek van die rak.

 

Nou staan ek maar en wag daar by die wortels en die komkommers. Miskien moes ek liewer een van die pakkers by die hoofpynille en so gevra het, dink ek by myself. Die man bly lank weg. Later sien ek hy en nog ‘n rakpakker loer om die hoek van die rak waar hy so flussies om verdwyn het. Hy wys my uit aan sy kollega, die kollega maak sy oë groot en knik sy kop (“aha, so dís hoe ‘n man lyk wat in die openbaar vra vir ‘n kondoom”), en dan verdwyn hulle weer altwee om die hoek.

 

Dit raak nou lank. Die tyd meen ek nou. Ek wonder of ek nie liewer die apteek moes probeer het nie. Dié is immers net langs die Spar.

 

Dan kom die twee manne om die hoek van die rak gestap. Hulle stap nou in my rigting. Een het ‘n pakkie in sy hande. Halfpad na my toe steek die een met die pakkie vas. Hy hou sy kollega aan sy mou terug en hou die pakkie uit na sy kollega toe. Sy kollega kyk hom aan of hy mal is. Die kollega draai opsluit om en stap kopskuddend weg vanwaar hy gekom het. Die man met die pakkie kyk hom ‘n oomblik agterna. Dan kyk hy na my. Dan kyk hy weer versigtig orals rondom hom, amper soos ‘n ou wat nou ‘n pakkie daggie voor die polisiestasie vir sy pel gaan gee.

Skoorvoetend stap hy nader, stadig. Dan, soos blits, druk hy die pakkie kondome, wat hy met altwee hande toehou, in my hande, draai om en stap verwoed vinnig weg. Ek wil hom terugroep en net herinner dat sy spot waar hy nou net nog gewerk het sommer hier by my by die leertjie is, maar los dit maar.

 

Nou begin ek self te wonder oor die wysheid daarvan om kondome in die Spar te koop. Op pad na die kasregister toe maak ek my hande oop om die pakkie te besigtig. Dis vreemd hoe die gees van sameswering in die rakpakker se handbewegings op my oorgedra het. Ek besef nou eers ek hou ook die pakkie kondome met altwee hande toe. Daar is ‘n prikkelende prentjie op.

 

So van die prentjie bestudeer bevind ek my toe uiteindelik by die kasregister. Te laat besef ek dat dit al is wat ek in my hande het. Plaas ek ‘n tydskryf en ‘n besem of so ook gekoop het, dan kon ek die kondome mos nou net so ongemerk daarmee saam deurgeglip het. Maar dis nou te laat, ek kan nie omdraai sonder om nog meer aandag op my te vestig nie.

 

Die meisietjie agter die kasregister kan sweerlik nog nie 16 wees nie. Ek is seker dis onwettig om sulke jong kinders te laat werk. Dis kinderarbeid. Ek sit die pakkie voor haar neer. Sy steek haar hande uit om dit te neem om te scan. Wanneer sy die prentjie sien stop haar hande in die lug. Sy bars uit in ‘n giggel, bloos bloedrooi, en bring dan die scanner nader om die skandeer sonder om aan die gewraakte pakkie te vat. Sy kyk my nie in die oë nie.

 

“Ja, ‘n sakkie ook asb,” hoor ek myself sê.

 

Wanneer ek by die Spar se deur uitstap kyk ek terug oor my skouer en sien die twee rakpakkers saam met wat lyk soos die res van die winkel se pakkers wat almal in my rigting kyk. Ten minste is hulle almal vrolik. Een wys vir my die thumbs up.

 

Ek kry nogals warm toe ek uitstap.

5 antwoorde op Sensitiewe inkopies

  1. TS het gesê op September 19, 2011

    hehehehe… ek onthou hoe geskok ek was toe ek die kondome vir die eerste keer op die rak sien… het nog nooit die goed gesien nie en hier is dit sommer op die winkelrak.

  2. Dank die Gode die goed is vrylik beskikbaar en Pieter
    Dirk Uys rol hulle af oor piesangs sodat Vigs bekamp kan word. In die ou dae het slegs die hardgebakstes
    dit in n apteek gewaag. Gelukkig was daar toe nie Vigs
    nie. Ek dink jou blog is van kunsgehalte en behoort
    ingesluit te word in skool leesstof.

  3. Hardgebakstes, sê jy vir my. Mmm….
    Dankie vir die kompliment.

  4. LMGA.
    Het nou heerlik gelag!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.