Life ain’t fair – get used to it

September 10, 2011 in Sonder kategorie

Hierdie term word volgens voorstedelike legende aan ‘n Bill Gates toespraak toegedig. Ek kon dit ook maar vir jou gesê het, maar ek dink nie dit sou eintlik as ‘n vreeslike wysheid die wêreld om gesirkuleer word nie. Hoekom nie? Want ek is nie Bill Gates nie. Ek meen nou maar, ek kan so ‘n slim opmerking maak soos ek wil, maar voor ek nie beroemd is nie, dink niemand anders dis ‘n slim opmerking nie. Wat maar net illustreer dat die lewe nie regverdig is nie.

Handig

Nou, in ooreenstemming met bogemelde lewenswysheid is ek ook nie onnodig handig nie. Nee, laat ek dit herfraseer. Ek is onhandig. Dus waag ek nie my hand eintlik aan praktiese goed nie. Mense doen goed self, vertel hulle vir my, omdat hulle nie geld het om te betaal om dit te laat regmaak nie. Ek, aan die ander kant,  probeer niks self regmaak voor ek nie weet ek het genoeg spaargeld om ‘n ou te betaal om weer my brouwerk te kom regmaak nie.

My pel wat veronderstel is om alles reg te maak bly nou in Engeland, so nou is ek genoodsaak om meer waagmoedig te raak.

 

Toerusting

Nou moet ek darem sê, wat ek sedertdien geleer het is dat die regte toerusting helfte van die geheim is. Toegegee, die ander helfte is stees ‘n bietjie vaardigheid, so dit lol steeds, selfs met die regte toerusting. Maar net om die punt te illustreer:

Jare gelede boor ek ‘n gat in die muur om ‘n prent op te hang. Ek het juis opgegee om spykers te probeer inkap, want as ek dit gedoen het, het ek gewoonlik dan ‘n area van so rofweg een vierkante meter wat weer oorgeplyster en geverf moet word.

Na 10 minute kom kyk my vrou hoe die prent hang. Toe is ek nog nie eens deur die verf met die boor se punt nie, ek is moerig en sopnat gesweet. Ek sê niks, maar glo my, iemand hoor my brom.  

Nou suiker ek oor na buurman toe. Hy het ‘n hamerboor. Terug in die kamer is die gat binne sekondes gedoen. Dis nou maar net om te illustreer hoe belangrik die regte toerusting is. Ek moet nou sê, ek beskou my nou al deesdae as ‘n bekwame gatboorder. ? (Jy verstaan mos nou wat ek bedoel, né?)

 

Alarm

Nou ja, vroeër vanjaar  pluk die drade per ongeluk uit my huisalarm se transformer uit. Aangesien my pel in Engeland is maak ek toe maar self die spul oop. Daar is drie gaatjies in die konnekteerblokkie, en vier drade wat daar ingesit moet word. So sit ek die drade in. Ek meen, hoe moeilik kan dit nou wees. Nie baie moeilik nie.

Tog kos dit my toe ‘n nuwe alarm sisteem.

Wasmasjien

Nou ‘n week gelede begin my wasmasjien water lek. Geen probleem nie, dis net die rubber wat stukkend is. Dit kos so R120 om te vervang. As jy dit kan kry. Maar nou het die vervaardiger die land verlaat, en parte moet van Italië af ingevoer word. ‘n Onderdeel wat vir ‘n geringe prys vervang moet word, kos nou skielik meer as ‘n derde van die prys van ‘n nuwe wasmasjien, wat in elk geval al ‘n paar jaar oud is, so ons kyk nou na ‘n vervanging.

Maar, wat van patch & solution? Ek meen nou maar, dis hoe mense binnebande regmaak. Ek sien sommer hoe ek vir R7,50 hierdie outjie reggemaak kry. Ek gaan kry vir my die nodige by die fietswinkel.

Nou ja, vyf patches en ‘n buisie gom later sit my hande aan die rubber vas, maar die gat waar die water deur sypel grynslag nog vermakerig vir my.

Nou’t ek ‘n nuwe wasmasjien.

 

Skottelgoedwasser

Dis nogals moeite gewees om in die spasie in te kom waar die wasmasjien geinstalleer moet word. Ouboet het nou en dan eers weer uit die gat uitgeklim, want hy kry noutevrees. Maar uiteindelik is alles opgekoppel en werk dit weer.

Tot my vrou ‘n sms van die huishulp kry wat verduidelik sy moet kyk wat aangaan met die skottelgoedwasser, hy lek water.

Gisteraand vat ek die skottelgoedwasser vir ‘n toetsrit. Baie gou is die hele kombuisvloer onder water, dit loop onderdeur die kombuiskaste, uit by die kombuisdeur. Ek stop die skottelgoedwasser se siklus en sukkel met hom by die deur uit. Buite koppel ek hom op dat ek nou mooi kan sien waar die water uitkom.

Dan sê die skottelgoedwasser “woep”, met so ‘n aanskoulike blou vlam wat uitkom waar die kragdraad uit die skottelgoedwasser uitkom. Nou was hy nie meer nie. Hy is ook nie meer nie.

Die waterprobleem, het ek intussen vasgestel, was oor die nuwe wasmasjien se uitloop-pyp te diep in die Y-pyp afgedruk was, en sodoende die bek van die skottelgoedwasser se uitloop pyp verstop het.

Nou was ons maar met die hande skottelgoed, en ek wonder hoeveel skade die water aan my houtkassies gedoen het.

6 antwoorde op Life ain’t fair – get used to it

  1. ag wat mens kan nie goed wees in als nie… my suster kan brei en naaldwerk doen en kos maak dat al die manne regop sit… ek het net tollitjie brei :/ mens raak maar gewoond en fokus op dit waarin mens goed is.

  2. TS het gesê op September 10, 2011

    hehehe… jou stomme man… *drukkie*

  3. Bwahahahahaha!

    Shame, nou voel ek darem so alleen nie. Hier is ‘n tip, kry ‘n handy son-in-law. Vertel jou dogters…. Maak dinge by makliker!

  4. ai, ek lag saam met jou, nie vir jou nie…
    (en ek wil jou net reghelp…volgens oorlewering het Bill gesê ‘isn’t’, nie ‘aint’ nie..heheh)

  5. Ek het met tyd nogal ‘n “handy woman” geword alhoewel my man baie vaardig met allerlei regmaakgoed is … hy is net nie so baie in die daglig tuis nie (nou wonder almal seker of hy ‘n vampier is). Dis maar probeer-en-tref, want die eerste pogings kan ‘n mens gewoonlik weggooi. Byt vas, want jy gaan nog bly wees oor jou ver vriend wat jou nou gedwonge laat handig word…jou vrou ook.;)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.