My waghond is ‘n weghond

September 7, 2011 in Sonder kategorie

Buksie is ‘n Jack Russel. Hy’s dalk bietjie Fox Terrier ook. Buksie is mal oor aandag. Enige iemand s’n. En as jy lyk soos ‘n kandidaat wat gaan val vir sy charms, dan gaan sit hy sommer op jou voete net om te wys jy is nou sy nuwe beste vriend. Dis dan heeltemal in orde dat jy hom optel, sy ore vryf, of in die algemeen, aandag gee aan hom.

Buksie het ook ‘n korterige humeur. Eintlik dink ek meer dis ‘n ding te doen met instink. As jy per ongeluk daai lyfie seermaak dan byt hy eers die offending ledemaat voordat hy tot verhaal kom en dan verleë weghardloop na ‘n ander lid van die huishouding wie hy mag dink hom op daardie oomblik meer goedgesind is. Dan gaan sit hy onder daardie lid se stoel of blad, na gelang van die geval, en kyk net eers om te sien hoe die pas gebytene reageer.

Hulle sê Jack Russels is slim. Ek moet toegee, hy reageer heelwat beter as ons bulhond. Maar dan weer, die bulhond reageer glad nie, so dis nie te moeilik om haar te uitpresteer nie. As my vrou driftig vir die bulhond sê “sit” dan sit almal in die huis dadelik. Almal behalwe die bulhond.

Buksie het jeuk voete. As daar iewers ‘n deur oopgaan, dan wil hy dadelik gaan kyk wat in die buite-wêreld aangaan. Annerdag storm hy uit om die bouer oorkant die pad te gaan ontmoet. En byt toe sommer die bouer aan sy voet, sonder enige aanmoediging.

Nou onlangs het Buksie vir die tweede keer in twee weke weggeraak. Teen die tyd wat ons agterkom hy is weg, toe is hy as gelys by die vee-arts as gevind. Die sewende vermiste Jack Russel wat al aangemeld is vir die naweek. Dit lyk my dis maar hulle ding daai.

Ek kry die adres en gaan soek vir Buksie. Die samaritaan wat hom oor Buksie ontferm het verduidelik.   Hy sien hier kom ‘n Jack Russeltjie in die pad aangedraf net toe hy in sy bakkie klim. Met sy bakkie se deur nog oop toe skakel hy die bakkie aan. Toe daai Jack Russel die diesel se dreuning hoor, toe verander hy nét so van rigting, hardloop reguit vir die bakkie, spring in, en maak hom tuis op die passassiers-sitplek en sê “Jis, laat waai maar”. Nes hy gewoond was op die plaas maak.

Miskien moet ek ‘n dieselbakkie kry.

5 antwoorde op My waghond is ‘n weghond

  1. Dis vreeslik oulik. Ek is nie gek oor klein hondjies nie maar hulle het soveel persoonlikheid. Ek hoop dat julle hom elke keer sal terug kry.

  2. Jis die blerrie ding wat so rondloop gee jou al jou hel!

  3. Lekker storie!

  4. Heerlik gemaklik geskryf

  5. Ek smile lekker vir die ma van die huis se opdrag “sit!”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.