Studente braai

Augustus 26, 2011 in Sonder kategorie

Bernard se storie laat my wonder of ons nie gemeenskaplike vriende het nie.

Jare gelede article ek in Bloemfontein. Van my army pelle swot by Kovsies. Dis nou die manne wie direk na skool army toe is terwyl ek daar was na my studies. Ek is dus so ‘n paar jaar hulle senior.

 

Op ‘n aand daag ‘n karvrag vol manne by my huis op. Hulle dink hulle het ‘n probleem.

Sien, dit was intervarsity, verduidelik hulle. Op Potch. So hulle is nou ‘n paar motorvragte vol manne (en dames) op Potchefstroom toe. Daar was ‘n bietjie drank ook saam. Miskien bietjie meer as net ‘n bietjie, meen hulle by heroorweging. Eintlik, onthou hulle later, was daar nogals heelwat drank saam.

 

Halfpad Potch toe raak hulle honger. Maar helfte van die manne is boerklonge uit die Wes-Transvaal uit, so hulle het ‘n fris voorraad beeslvleisies wat saam is juis vir ingeval hulle mos nou ‘n bietjie honger raak. ‘n Vuurtjie word aanmekaargeslaan vir die vleisie. Maar dit raak hond koud in die Vrystaat en Wes-Transvaal in die winter, so hulle maak toe maar later die vuurtjie groter, net om die liggaamshitte eers bietjie op te kry voordat hulle by die braaiery uitkom.

 

‘n Polisievoertuig kom verbygery. Hulle waai vrolik vir die polisievoertuig (nee, regtig). Die polisievoertuig draai om en kom terug, hou daar by hulle stil. Die manne in blou wat uitklim lyk egter nie te gelukkig met hulle nie.

 

“Julle kan nie hier vuurmaak nie,” word verduidelik.

 

“Ja, ons kan, jy kan mos sien ons maak hier vuur,” antwoord ‘n wysneus.

 

“Kyk hier, ons kan dit selfs nog groter maak,” reken ‘n ander ene terwyl hy nog ‘n stomp opsit.

 

 

Die manne in blou is nie geamuseerd nie. Hulle besef egter ook hulle is effe in die minderheid. Die manne by hierdie braai is nie alleen nie. Hulle is, om die waarheid te sê, heelwat meer as wat hulle is. Back-up word ontbied van die naaste dorp af (vir die SAP nou).

 

Dit begin vir my klink van die oortreding van een of ander nonsens regulasie wat die SAP hier wou probeer afdwing, dink ek hardop.

 

“Absoluut,” beaam die manne.

 

In elk geval, die back-up het toe later ook daar ogedaag. Dis eers toe die getalle balans tussen student en SAP meer op ‘n gelyke vlak is wat die gesprekvoering meer sinvol begin raak.

 

“Julle kan mos nie hier vuur maak nie!” raas die senior offisier wat intussen opgedaag het kwaai. Dié man lyk te oud en te kwaai vir iemand om ‘n spitsvondige antwoord uit te dink. “Julle beter hierdie vuur dood kry, julle gaan betaal vir die skade!”

 

Iewers tussen die newels van die voggies en die teenwoordigheid van ‘n stewige klompie polisiemanne het die groepie studente begin insien dat mens nie op ‘n teerpad behoort vuur te maak nie. Dis nie goed vir die teer nie. Tewens, volgens die padinspekteur se verslag wat later beskikbaar geword het moes gedeelte van 5x5m teer oorgedoen word om die pad na behore te herstel.

 

“Nou sê die aanklaer hulle gaan die saak Streekhof toe stuur,” verduidelik een vir my. “Hoekom is dit?”

 

“Oor die Streekhof jou nie vir langer as 2 jaar kan tronk toe stuur nie,” onthou ek. Ek is toe nog baie slim, want ek leer juis toe vir my toelatingseksamen.

 

Die geskokte stilte wat in my sitkamer neergedaal het, het lank aangehou. Tot een darem later sê: “Ek het julle gesê ons is in die moeilikheid.”

 

 

Nou ja, die probleem is darem toe opgelos deurdat die betrokkenes almal ‘n finansiële bydrae gelewer het vir die Provinsiale Administrasie se afdeling wat die pad gaan regmaak het, en die strafsaak is toe teruggetrek.

 

So die moral van die storie is: braai verder weg van die dorp af.

2 antwoorde op Studente braai

  1. Die dinge wat ons aangevang het…

    Ek was in 94 eerstejaar. Die eerstes waarvoor diensplig nie meer verpligtend was nie. So ek dink ons het mekaar daar gemis.

    Maar studente is wilde goed!

  2. Studente is impulsief as hulle eers op ‘n stasie is!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.