Paasnaweek op Gouritsmond – die reis

April 28, 2011 in Sonder kategorie

Paasnaweek, 22 Mei 2011

Vertrek

 

Dit voel stresloos om Gouritsmond toe te vertrek sonder om die karavaan te moet sleep. Daar is geen rede om vroeg te ry en haastig te maak nie – behalwe vir die rede dat dit lekker is om daar te wees nie.

 

Die tieners vertrek voor ons. ‘n Konvooi van 3 motors vol tieners wie mekaar almal van Gourits of elders ken ontmoet mekaar by die Wynland Engen. Hulle ry op hulle eie vooruit.

 

Ons volg so ‘n halfuur later. Deure gesluit, vensters toe, alarm aan en daar gaan ons. Ons roete is effens anders. Ons moet ons tweedehandse bulhond by Montagu op ‘n plaas gaan aflaai waar sy een enorme Boerboel en ‘n (heelwat kleiner) Jack Russel gaan geselskap hou.

 

Die bulhond is te bly sy gaan saam. Sy is ongelukkig nie onnodig bedeeld met verstand nie. Sy is so opgewonde, sy gaan sit onder die bakkie en hyg en waai haar stert. Wel, eintlik het sy meer soos ‘n kopborsstuk wat strek tot net voor die stert, so die hele agterlyf swaai eintlik heen en weer. Dit kos twee van ons om haar te uitoorlê en te vang dat ons haar in haar kom agterin die bakkie kan sit. Dit verstom my dat een hond so onnosel kan wees. Mens sou dink soveel onnoselgeit behoort tussen ‘n paar honde versprei te gewees het.

 

Nou ja, net na sewe-uur die oggend ons is op pad. Die mobiele tieners is vooruit. Ons tap petrol by die Wynland Engen so 10km’s van ons af. Dis vrolik. Een konvooi met karavane. Nog ‘n konvooi met motorfietse. En dan oor die algemeen die res van die Kaap wat gou vir oulaas kom petrol ingooi voordat hulle die lang pad vat.

Dis ons eerste koue dae.

In Robertson is daar ‘n bordjie soos jy inkom by die dorp wat sê “Dros Welcomes all bikers.” Mmm….

 

Soos jy uitry aan die ander kant van Robertson is daar ‘n bordjie wat sê jy mag nie daar staan en duimgooi nie. Onder die bordjie staan ‘n man en duimgooi. Dis Suid-Afrika hierdie.

By Ashton waai ‘n woeste wind.

Buite Montagu se Seven-Eleven loop ‘n dame in die snerpende koue en lek aan haar opdraai roomys.

Op die plaas is die Boerboel en die Jack Russel bly om ons bulhond te sien. Veral die Jack Russel. As hy ‘n mens was sou hy lankal toegesluit gewees het as ‘n reeksverkragter.

  

Nuwe paaie

 

Na ‘n lekker ontbyt op die plaas op Montagu vat ons die pad. My swaer beduie my ‘n pad wat ek voorheen nie eens geweet het bestaan nie.

 

 

 

Ons ry deur Barrydale, en 16km anderkant Barrydale draai ‘n grond pad af na die Brandrivier.

 

 

Daar draai ons regs en ry op ‘n heerlike grondpad, so goed soos enige teerpad.

 

Mens voel sommer onmiddellik veilig hier.

 

 

 

Dit ten spyte daarvan dat die grootste gedeelt van die pad net die helfte van die rybaan beskikbaar het, aangesien die ander helfte in aanbou is. Op hierdie pad kry ons twee voertuie van voor in 35km.

 

 

By die teerpad draai ons regs. Dit is die pad van Calitzdorp na Riversdale.   So 3 km’s later kry ons die Garcia pas.

 

 

Kort na die pas ry ons by die Oakdale Landbouskool verby, en kom ons in Riversdale. In Riversdale verdwaal ek op soek na die N2. (Ja, regtig).

 

Hierdie roete laat my met slegs 33km wat ek op die N2 hoef te ry. Die verkeer vloei goed. Ons handhaaf 100km/h en vinniger, maar in ‘n string karre so ver as wat jy kan sien. As dit nie was dat die manne met die karavane hoflik oorbeweeg in die geel baan nie, kon dit nogals heel anders verloop het.

 

Teen 13h10 is ons in Gouritsmond.

 

 

Ek die amazing ding is, ek hoef nie nou vir 5 ure lank tente op te slaan en penne in te slaan nie! En die kombuis is dadelik gereed.  Maar dit voel amper soos cheat om by die karavaanpark verby te ry.

 

Dis ‘n behaaglike gevoel.  

Deel 2 volg

3 antwoorde op Paasnaweek op Gouritsmond – die reis

  1. loudavisi het gesê op April 28, 2011

    Nie onnodig bedeeld met verstand nie!
    😀

    Is dit nie korter om deur Worcester, Robertson, Swellendam, Riversdal te ry nie?
    Ek vra maar net…
    Sorry as ek iets misgelees het en jou kaart is onduidelik

  2. AfrikaNerd het gesê op April 28, 2011

    Dit is, maar ek moes die ompad doen Montagu toe. Deur Montagu, uit op die Touwsrivierpad. So om dan aan te ry Barrydale toe voel korter as om weer deur die dorp te moet terugry Ashton toe. Kilometergewys moet dit baie om’t ewe wees.
    Die kaart is bietjie klein. Ek het hom nou groter gemaak.

  3. loudavisi het gesê op April 28, 2011

    Ctrl en die + teken maak hom groter, maar steeds nie so dat mens die dorpe se name kan sien nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.