Jy blaai in die argief vir 2010 November.

Inflasie

November 22, 2010 in Sonder kategorie

Toe ons kinders was kon ons met R10 winkel toe gaan en met sakke en sakke vol goed huis toe kom.

Deesdae is dit anders.  Daar’s nou soveel sekuriteitskameras…..

Gauteng Stories

November 21, 2010 in Sonder kategorie

Johannesburg Internasionale lughawe het ‘n absolute monster geword.  Jy verdwaal omtrént daar. Na ‘n vlug uit die Kaap uit meld ek aan by Avis se toonbank. Die dame agter die toonbank vra my of ‘n outomatiese ratkas met my in orde sal wees. Ek reken toe die saak is reg. Toe wonder sy of ek tevrede sal wees met ‘n outomatiese BMW. Toe probeer ek my bes om cool te lyk en beaam dat ‘n BMW heel aanvaarbaar vir my sal wees. Vermoedelik was al hulle ekonomie-klas voertuie uitverhuur gewees. Toe kry ek ‘n 318i BMW outomaties. OK, dis nou nie in dieselfde klas as my 12-jaar oud Jetta sonder kragstuur nie. Gelukkig nie. Ek het nogals bietjie soos ‘n larnie gevoel om met die kar daar weg te ry.  

 

Mettertyd begin ek nou die gadgets agterkom. So in die ry, wat half gevaarlik is. So kom ek toe agter aan die linkerkant op die stuurwiel sit ‘n stel knoppies om die draadloos se stasie te stel asook om die volume te stel. Dis nou nogals ‘n oulike gedagte. Die “op”-knoppie het ‘n hobbeltjie, en die “af”-knoppie ‘n versinkinkie, dat mens die verskil kan voel. Dis natuurlik om dit vir die blinde bestuurders maklik te maak.

 

Maar ek kan ‘n probleem vir elke antwoord uitdink. Sien, dis als goed en wel as jy reguit ry. Maar as jy nou om ‘n verkeersirkel gaan en dit pla jou dat die musiek nou te hard is, dan druk jy mos net die knoppie aan die stuurwiel? Nee, toe nie so eenvoudig nie. Sien, die stuurwiel is nou 180 grade gedraai. Dus is ‘n anner stel knoppies nou aan die linkerkant op die stuurwiel. Ek vermoed dis die speed control. Maar glo my, jy wil nou nie eintlik halfpad in Brooklyn sirkel in spitsverkeer die spoedkontrele aktiveer nie.

 

Dus moet ek nou in elk geval my oë van die pad afhaal (iets wat die plasing van die knoppies in die eerste plek natuurlik probeer vermy) om te kan sien maar waar sit die volume-knoppie nou. Uiteindelik kry ek die knoppie weer opgespoor en druk die ‘af’ knoppie vir die volume. Maar aangesien die stuurwiel steeds teen 180 grade gedraai is (teen hierdie tyd is ek al op my tweede rondte om die sirkel), is die ‘af’ knoppie nou eintlik die ‘op’ knoppie oorlat hy onderstebo is. So hoe harder ek druk om die volume af te stel hoe harder raak dit. Oorverdowend, man!

 

Nou ja, mettertyd is die orde weer in Pretoria se strate herstel toe ek die stuurwiel reguit gedraai het na die sirkel en die knoppies weer allemaal op die regte plekke sit.

 

Terug by die lughawe in die skemerte is dit omtrent weer ‘n gedoente. Verstaan nou, as jy op ‘n dorp met een teerstraat grootgeword het, dan is Johannesburg so half aan die groot kant. Elke split in die pad het drie borde om dop te hou. “Rentals”, “Parking” en nog iets. En elke keer nes ek nou mooi die regte baan het dan kom ek agter daai baan split ook weer in 2 of 3 bane. Gelukkig gaan dit redelik stadig. Ek weet nou al om weg te bly van die cruise control af. Ek is seker as jy daar haastig is en nie kyk waar jy ry nie kan jy op die aanloopbaan beland.

 

Eish! Hierdie Gauteng is ‘n gevaarlike plek.

PGJ 

Gekke en dwase ….

November 18, 2010 in Sonder kategorie

…. skryf op hande en glase, of so iets.  So het my ma altyd gesê.  Ek aanvaar die opmerking geld ook grafitti kunstenaars, maar in ons tyd het niemand mure rondom hulle huise gehad vir iemand om op te skryf nie, so dit was nog onbekende terrein vir my ma. 

Maar die variasie van diesulkes wat my vir die oomblik omgekrap het is booswigte en ander kartonhouers wat mense se bandwydte steel.  En ek dink as ek net nie so absoluut niks verstaan het van hoe dit werk nie sou dit my dalk nie so gefrustreer het nie.

Die hits op my www.pgjonker.co.za het mooi toegeneem.  Astronomies, eintlik moet ek sê.  Soveel so dat my bandwydte kort-kort deur my diensverskaffer vergroot moes word om aan die vraag te voldoen.  Eintlik moet ek nou bieg dat ek heeltemal trots begin voel het op my en Johnie se pogings om vermaak in kuberruimte te verskaf.

Maar nee, moenie eers probeer skakel nou na daai blog toe nie, want jy gaan ‘n boodskap kry wat sê dat die gebruiker sy bandwydte oorskrei het en dat toegang derhalwe tydelik opgeskort is.  Soos wat die Poskantoor maak as hulle jou posbus van binne af toesluit as jy nie die posbus se huur betaal nie, soortvan.

Eugene Terblanche het gepraat van die mense wat konkel in die kankerkamers van ongeregtigheid (so word ek vertel, ek het hom nooit self daai hoor sê nie).  Nou, iewers in een of ander hool, of maybe in ‘n upmarket gedeelte van Moskou of Kakamas, sit daar ‘n kêrel wat bietjie verstaan van die internet.  En hy het vir hom ‘n paar websites gemaak oor ‘n klompie Amerikaanse celebs, met insluiting van ‘n (vroulike) swemklere model.   Maar op ‘n manier kry hy dit reg dat die besoekers tot daardie websites deur myne gaan.  Hulle lees egter niks by my nie.  Tewens, hulle weet nie eens dat ek bestaan nie.  Maar elke hit op daardie website registreer as ‘n hit op myne.  En elke Mb se bandwydte wat afgelaai word, word met my bandwydte gedoen.  En so word my bandwydte opgebruik.

Nou moet ek toegee dat die website oor veral die swemklere model in elk geval die deursnee leser (kyker, eerder) meer sal interesseer as wat my blog sal doen.  Maar dis net omdat ek minder foto’s in my bydraes het as wat op die swemklere model s’n is.  En mind you, daai swemkledingstukke is wraggies so klein dat mens mooi moet kyk om dit te sien.  En ek het mooi gaan kyk.

Nou hoop ek maar die web-bediener kan hierdie konkelaar uit my blog uit kry!

Dankie, ek voel nou beter.

PGJ 

Van Helsdingen

November 18, 2010 in Sonder kategorie

So van tyd tot tyd gaan pas ons swaer se plaas. Boer is nou nie heeltemal my ding nie, moet ek tog noem.

 

Met een van hierdie kuiers neem ons vir Oupa, Ouma, en ouma se suster saam. Op daardie stadium is die jongste van hulle drie is 81 jaar oud, met tannie Suzie die oudste op 84.

 

As die reënt kwaai afkom dan word die plaas vinnig ‘n eiland, afgesny van die buitewêreld. So mens is maar bewus van die reën as dit kom. Ons eerste nag op die plaas donder, blits en reën dit hoeka verwoed.

 

“Dis tog jammer die bed is so laag”, reken tannie Suzie die volgende oggend. Toe dit so kwaai donderweer, toe het sy gereken dalk is dit veiliger onder die bed. Maar toe is die bed te laag om daar te kan in.

 

Nou moet jy verstaan, enkele jare tevore, toe tannie Suzie nog ‘n jeugdige 80 jaar oud was met ‘n huppel in haar stap, toe stap sy op ‘n dag in Kaapstad se strate. Voor die Caledon Plein Polisiestasie sien sy ‘n jong man haar dophou, en later in haar rigting aangestop kom.

 

Hy wil haar seker iets vra, dink sy by haarself. Maar die jong man het ‘n ander plan. Hy hou baie van haar nekhangertjie. So baie dat, toe hy by haar kom, hy dit sommer met geweld van haar nek af ruk.

 

Tannie Suzie vererg haar so effe vir dié voorbarigheid. Dus hak sy af en slaan die jong man met haar winkelsak met die 5kg suiker daarin. Onderstebo. Die oomblik toe die man die grond tref, toe is dit asof die hele straat met ‘n manhaftigheid bedeel word wat oomblikke vantevore nie daar was nie. Die mannetjie kry toe daai dag die pak van sy lewe, sommer by elke ou wie naby genoeg kan kom om ‘n hou in te kry. Die aanbod wat nogals hoog, verstaan ek, so nie almal het ‘n beurt gekry om ‘n hou in te kry nie.  Better luck next time.

 

Maar voordat ek nou klink asof ek enige geweldpleging goedpraat, die punt is eintlik maar net om te illustreer hoe erg die donderweer op die plaas was.   Dit het selfs vir tannie Suzie benoud gehad, verstaan.

 

PGJ

 

 

Pop Idols

November 17, 2010 in Sonder kategorie

“Hoe lyk ek in hierdie T-shirt?” vra jy.

“Nee, cool man, dis ‘n nice T-shirt,” sê jou pel.

“Jy dink nie hy’s dalk te klein nie?” wonder jy.

“Nee, hy’s eintlik te groot. Sê jou wat,” stel jou adviseer voor, “kry ‘n T-shirt daar uit jou seun se kas uit – een wat kleiner as hierdie ene is.”

“Jy reken?”

“Ja, trust me, ek weet waarvan die chicks hou, man,” sê jou adviseer. “Daar’s hy, net reg, nou steek jy daai T-shirt in jou jeans in.”

“Nee, ek kan nie, die T-shirt is te kort, en my maag is te groot. Ek dink dis te klein, hierdie T-shirt,” reken jy.

“Nee, trust me, jy lyk soos ‘n cool dude, die girls like so ‘n te klein T-shirt, dit laat jou gespierd lyk.”

“Maar ek het nie spiere nie, net vet,” protesteer jy.

“Nee man, glo my, jy lyk goed. Daai ou tatoo van die skewe anker op jou bo-arm wat uitsteek gee jou ‘n lekker growwe look ook.”

“OK dan,” aanvaar jy die advies. “Waar’s my kitaar, ek wil vir jou my nuwe song speel wat ek gemaak het. Die kitaar is bietjie vals, ek sukkel eintlik om hom in te stel.”

“Nee, man, ek ken musiek, daar’s niks fout met daai kitaar nie,” troos jou adviseer. “Sing dat ek kan hoor.”

Jy sing jou nuwe liedjie. “Ek het nog net een akkoord vir hom, maar ek sal nog later ‘n paar akkoorde bysit, dan sal dit beter klink. Ek moet nog ‘n paar op en af note ook doen, want op die oomblik klink alles nog so bietjie op dieselfde noot,” is jy nederig oor jou poging.

“Is jy mal, pel, hierdie song van jou is ‘n hit net soos hy is!” Jou pel / adviseer is in die wolke. “Man, ek het nie geweet jy kan so sing nie, jy moet inskryf vir Pop Idols. Waar’s daai nommer, dat ek sommer namens jou bel!”

“Ja, ek het self al gewonder daaroor,” bieg jy. “Ma ma het ook al so gesê.  Ek sal net hierdie een snaar moet vervang, hy’s bietjie gerek, ek kan hom nie meer so lekker instem nie.”

“Man, daai snaar is perfek net soos hy daar is.  Dit gee ‘n outentieke klank aan jou liedjie. En moenie worrie oor jou klere nie, en ek sal jou aantrek vir die Idols oudisie, ek weet net wat jy moet aantrek,” raak jou pel nou bietjie meegeevoer.

En dis hoe daai ou op Idols gekom het wat jou tone so laat krul van verleentheid…..

PGJ

Begrafnisstorie (nr 2 van 2) – keeping it real

November 16, 2010 in Sonder kategorie

 

So ‘n paar jaar terug neem ek my pa om vir sy broer in PE te gaan kuier. Die Saterdagnamiddag bel my vrou my. Toe sy my in ‘n afgemete stemtoon op beide my naam en van aanspreek toe weet ek sommer daar is groot fout. My eerste gedagte is dat een van ons kinders iets vreesliks oorgekom het. Toe sê sy my ma is oorlede.

 

Ek probeer my pa op die laaste vlug uit PE uit Kaap toe sit, maar ons mis die vlug met 10 minute.   Ry toe maar laatmiddag uit PE uit.   Die eerste 2 ure ry ons in relatiewe stilte.  My pa sê hy is nie so kwaai lus vir gesels nie.  Ek ook nie eintlik nie. Maar so dan en wan gesels ons bietjie.  Hy eintlik meer as ek.  Reken hy, ten minste hoef my ma nie nou meer te worry oor hom as hy bestuur nie.  Na die eerste twee uur ry ons in absolute (eerder as relatiewe) stilte verder.  Maar dis nie sleg eintlik nie.  Rustig, stemmig, (gedienstig, gedweë….?)

 

Dit reën.  Die omliggende dorpe se ligte weerkaats teen die wolke, wat die wêreld helder verlig laat.  By George tap ons petrol en eet – nie oor ons honger is nie, maar oor tannie Louise vir ons kos ingesit het.

 

My een broer sms my sy hart is te seer om te bel, ek moet maar vir die oubaas ‘n druk gee. Ons is nie eintlik ‘n drukkerige familie nie.  Maar ek reken toe, dis nou eintlik seker ‘n gawe geleentheid daarvoor.

 

So 01h00 se kant is ons terug in die Kaap by my pa se plek, met my vrou en van die familie wat sit en wag vir ons. Dis die ding van my ma se familie. As daar ‘n krisis opduik, dan is almal by om te help. Die volgende oggend vertel my vrou my hoe die tannie oorkant nadergestaan toe hulle my ma se liggaam in die ambulans laai.  Toe vra die tannie wat kan sy doen, toe reken my vrou, “Ag, tannie, kom ons waai net vir haar”.  Toe waai hulle vir my ma.   Ek dog toe dis nogal snaaks en lag, maar toe raak my lag vanself ‘n huil. Simpel.

 

Later die week is ons af na Doves toe om die reëlings te tref. Reken broer Johnie toe, dit moet darem depressing wees om heeldag in so ‘n omgewing te werk.  Maar ons besluit toe later dis eintlik beter as om in ‘n groot onderneming se klagteseksie te werk.  Ten minste is die kliënte nie vir jóú kwaad by Doves nie. Tensy jy natuurlik iets gedoen het om besigheid bietjie aan te help.

 

Die oggend van die troosdiens is ons weer Doves toe om my ma gaan “besigtig”.  Maar dis nie sommer so vir om vir haar te gaan kyk nie.  Ek meen, ek was gewoond om party oggende voor werk sommer gou daar aan te ry vir tee. Nou moet ek ‘n afspraak maak om haar te sien!  Daar lê sy toe, rustig en vreedsaam. Maar ek het meer van haar gehou toe sy nog gelewe het. 

 

Begrafnisse is nie eintlik my ding nie. Ek geniet troues meer. Maar die troosdiens die Woensdag is toe eintlik ‘n amper vrolike geleentheid. Ek meen nou maar, al wanneer jy deesdae soveel van jou familie en vriende gelyk bymekaar kry is op troues en begrafnisse. En troues het bietjie duur geword. 

 

Ons begin met ‘n slideshow van foto’s van my ma.  Heel stemmig.  Die tienderjarige neefs het vooraf ‘n klankbaan by die slideshow gesit. Hulle wou eers “Ain’t no sunshine when she’s gone” bysit. Ek hou eintlik van die song – gedog dit kan heel funky wees so op die begrafnis. Maar ek is nie so seker of die predikant en my pa van die soul musiek sou hou nie. Toe besluit ons maar op Nianel se “I’ll find a way”.  Groot fout. Dit is m**r hartseer.   Die uur voor die diens probeer ek my desensiteer deur dit ‘n paar keer te kyk.  Maar ek sien toe daai gaan nie werk nie.   Toe die diens dus begin toe kyk ek maar nie die slideshow nie, vir my eie beskerming. Interessant hoe boeiend skoenveters soms kan wees.  Tannie Marie was nie by die begrafnis nie – die tannie wie laas my ma se begrafnis bygewoon het toe sy nog nie dood was nie.  Ek dink tannie Marie was ook teen hierdie tyd al oorlede.

 

Die verassing bly toe nog oor vir die Vrydag. Dis geskeduleer vir 11h00.  Ek was die enigste een daar. Toe ek daar kom toe is daar ‘n wagkamertjie waar my ma al vir my wag.  Ons sit toe maar daar bymekaar. Eintlik, ek sit, sy lê daar in die kis mos nou. Ons het nie veel gepraat nie.  Later toe kom ‘n man daar uit en sê ek kan maar die klokkie lui wanneer ek gereed is, dan sal hulle haar kom haal.  Maar ek dink nie mens raak seker heeltemal “gereed” nie, maar ek kon ook nie heeldag daar bly sit nie.  Toe’t ek maar later die klokkie gelui.  Die man het uitgekom. Toe klop ek maar “cheers” teen die kis vir my ma. Toe is die man daar weg met haar. 

 

Toe gaan sit ek by ‘n vriendin se graf en huil oor my ma.

 

And then life goes on.

PGJ

Begrafnisstorie (nr 1 van 2)

November 15, 2010 in Sonder kategorie

‘n Klompie jaar gelede kry my pa op ‘n dag ‘n dag ‘n briefie van ‘n vriendin van hom en my ma. Tannie Marie skryf hoe jammer sy is dat my ma “Heleentje” dood is. Sy skryf dat sy wel by die begrafnis was, en wens simpatie, sterkte en almal daai goete vir my pa toe in hierdie moeilike tyd.

 

Nou lees my pa die briefie vir my ma voor. So reken my pa en my ma altwee dat hier ‘n foutjie moes ingesluip het. Meer in besonder is ma ma (toe nog) springlewendig, alhoewel nie noodwendig baie gesond nie.

 

My ma besluit toe om gou vir tannie Marie te bel. Die gesprek verloop min of meer so:

 

“Halo Marie, dis Helena wat praat.”


“^&*%, Heleentje?! Ek het jou dan al begrawe?!” 

 

Groot ontsteltenis.  Tannie Marie is geskok en in trane oor Heleentje wat nou nie heeltemal dood is nie. Jy kan nou dink watter skok dit op jou gestel is om jou jarelange vriendin se begrafnis by te woon, net om kort daarna ‘n oproep van die oorledene te kry. Tannie Marie het nie gevra van waar af my ma bel nie. Sy sit opsluit die foon neer.

 

Later bel tannie Marie terug. Sy verduidelik sy is nou onder mediese behandeling vir skok.  Sy het die doodsberig in die koerant gesien van iemand met dieselfde naam as my ma. Dit het haar wel opgeval dat my ma begrawe sou word uit ‘n heel ander denominasie kerk as waaraan sy haar lewe lank behoort het. Maar tannie Marie is toe maar begrafnis toe. Sy sien toe nie my pa nie, ken niemand nie, ook nie enige van ons kinders nie. Sy vra toe maar later by een van die begrafnisgangers of dit inderdaad Helena Jonker se begrafnis is, en dit word aan haar bevestig. Sy’s toe maar later huis toe sonder dat sy iemand bekends raakgeloop het op die begrafnis.

 

Soos wat die regte ding is om te doen het sy toe die briefie vir my pa geskryf, en verder aangegaan met haar lewe, minding her own business.

 

Dis nou tot my ma toe nou die oggend bel.

 

Picture dit.

PGJ

Mrs Redcross

November 11, 2010 in Sonder kategorie

Steeds Vredenburg landdroshof, middel tagtigs.

 

Die beskuldigde is in die moeilikheid oor hy nie sy papgeld betaal het nie; die onderhoudsbevel word nie nagekom nie, en hy word strafregtelik daarvoor aangekla.

 

Nou probeer hy desperaat vir die landdros verduidelik dat sy finansiële posisie bloot sodanig is dat hy nie kán betaal nie. Dis ‘n geldige verweer teen die aanklag, en as hy die landdros daarvan oortuig, dan word die strafsaak geskrap en word die lêer weer teruggestuur na die onderhoudsbeampte toe om weer van voor af ‘n ondersoek te hou na die man se finansiële posisie.

 

Die landdros hoor natuurlik elke dag hierdie tipe stories. Hy is nie lus om hom te laat oortuig nie.

 

“Maar meneer, hoekom het jy dit nie vir die onderhoudsbeampte kom sê nie?” vra hy kwaai.

 

“Maar ek het, jou honour, ek was hier binne by die kantoor, by Mrs. Redcross gewies,” verduidelik hy.

 

“Man, moenie vir my stories vertel nie, hier werk g’n ‘n mevrou Redcross nie!”

 

“Is ja, jou honour, daai vrou by die regterkantse toonbank. Sy doen die onderhoudsuitbetalings.”

 

“Jy bedoel die dame met die rooi hare?” begin die landdros nou die spoor te vat.

 

“Dis hy, jou honour, ek sê mos. Dis mos haar naam. Sy’t daai rooi hare mos, en sy’s altyd cross saam met ons. Mrs Redcross.”

 

PGJ

 

Die taal wat ons praat

November 10, 2010 in Sonder kategorie

 

My swaer is ‘n boer. Soms pas ons die plaas op wanneer swaer-hulle weggaan met vakansie. Ons boer nie eintlik nie. Ek sal ‘n plaas binne 2 weke stukkend boer. Ons bly maar net in die huis om te keer dat ‘n hawelose burger van ons land (of van ‘n buurland) nie dalk sy intrek neem nie.

Met die eerste geleentheid wat ons die plaas oppas het ek mooi instruksies van hoe alles moet gebeur. Maar niks gebeur altyd heeltemal ooreenstemmend met die reëlboek nie.

 

Een laat Vrydagmiddag is daar van die werksmense wat my wil sien. Galant beduie ek moet hulle dorp toe neem. Ek reken nee, ek gaan nie dorp toe nie, dis nie deel van my instruksies nie. Maar dis soos om met ‘n tiener te stry. Die deel van “nee ek gaan nie nou dorp toe ry nie” word doodgewoon nie gehoor nie.   Ek sien by die verste punt van die stoor sit ‘n vrou, groot van lyf, met haar tas gepak, reg vir dorp toe gaan. Dis een of ander noodgeval, verduidelik Galant.   Dis duidelik dat hulle vir geen oomblik eens oorweeg dat daar nié dorp toe gery gaan word nie.

 

So vind ek myself mettertyd al knorrende agter die stuur van die bakkie op pad dorp toe. Die hele bakkie het in ‘n oogwink vol mense geraak. In die dorp beduie Galant my die buurt binne waar ons moet wees. Eers na sy pa se huis toe. Hy wil my aan sy pa voorstel. Ek ontmoet vir Bampi. Op Bampi se huis staan in groot wit letters trots geskryf: “Bampi’s Place”. Ek klim uit en skuld blad met Bampi. Bampi is vrolik, en bly om vir Galant te sien. En vir my.

 

Min of meer almal klim daar rond af. Toe ek nog wil weet waar ek die “noodgeval” moet gaan aflaai toe is dié klaar weg.   Galant, Fielies en Boetieman seg hulle ry weer saam terug plaas toe, maar ek moet net gou daar om die hoek by ‘n huis stilhou wat hulle aan my uitwys. Hulle glip al drie daar in, maar is gou terug. Nee, ek moet gou 5 huise verder stilhou. Dieselfde storie. Nou beduide hulle my na ‘n huis ‘n entjie verder aan.

 

Eers toe ek by die derde huis sien die manne sluk elkeen vinnig ‘n dop af wat sommer so oor die onderdeur aangegee word kom ek agterkom wat die eintlike doel van die uitstappie is. Ek is besig om dié drie van sjebeen tot sjebeen te taxi! Die eerste twee sjebeens is uit stock uit. Ergerlik start ek die bakkie. In ‘n oogwink is die manne egter by en agterop die bakkie. Reg om terug te ry plaas toe. Baie reg.

 

Dit blyk dat, ongeag die filantropiese redes wat aan my voorgehou is vir die rit dorp toe, hierdie die eintlike doel van die besoek was. Die res was net ‘n rookskerm. I’ve been had! [Ekke is gehet.]

 

Betaaldag moet die koevertjies met die lone oorhandig word. Alles is vooraf reggesit, ek moet dit net oorhandig. Nou voel dit vir my mens moet darem seker maar iemand laat teken daarvoor, eerder as om dit net te oorhandig. So maak ek vir my ‘n bladsy waar elke ontvanger van sy loon kan teken.

 

Totale verbystering.

 

“Hoekom moet ons teken?” vra Fielies verstom.

 

“Dan het ek mos nou bewys dat jy jou pay gekry het,” verduidelik ek.

 

Verdere verstomming.

 

“Die Kêrel latie vi’ ons tieken nie,” sê Boetieman. “Dissie norigie.”

 

Maar Galant kom tot my hulp: “Teken daar,” beduie hy vir sy kollegas, “die man is ‘n f*kureur.”

 

PGJ

Die Vloed

November 9, 2010 in Sonder kategorie

Hierdie is ‘n ander man se storie. ‘n Groot man. Een van daai manne wat vir niks skrik nie. Ek vertel maar net sy storie:

 

“Ek was daardie tyd in die Weermag in Bloemfontein. Ek sit die aand in die bungalow en kyk die nuus op die TV, toe sien ek van die Laingsburg vloed. Nou weet ek, as daai rivier by Laingsburg afkom, dan is die rivier by ons ook in vloed. Die rivier loop reg teenaan my pa-hulle se huis verby.

 

Ek bel huis toe van ‘n tiekiebox af, maar kry nie antwoord op die plaas nie. Ek bel my tannie op die dorp, maar sy sê my hulle weet niks wat op die plaas aangaan nie. Die telefoondrade het weggespoel en die plaas is afgesny. Daar is niks nuus nog van my pa-hulle nie, niemand weet of hulle die vloed oorleef het nie. Ek gaan soek toe dadelik die Kaptein om pas te vra dat ek huis toe kan ry. Hy sê vir my daar is niks wat jy kan doen daaraan nie, jy kry nie pas nie.

 

Daai aand toe AWOL ek ry deur die nag met my Datsun bakkie om by die huis te kom.

 

Ek kom die volgende oggend op die dorp aan, en gaan eers na my tannie toe. Sy sê nee, daar is nog niks nuus nie. Niemand weet niks nie. Ek ry toe maar af na die plaas toe. By die plaas gekom sien ek die rivier is breed en hy loop sterk. Daar niks eintlik wat ek kan sien nie. Toe’s ek maar terug dorp toe.

 

Die volgende dag ry ek weer af plaas toe. Ek kan sien die rivier is nou baie laer. Hy’s nog te vol en te sterk om te probeer deurgaan, maar teen die volgende dag mag mens dalk al kan probeer deurstap.

 

Die volgende dag ….uhum… toe ry ek weer af plaas toe…. uhum.   Ek stop en stap af na die rivier toe. Die rivier is toe baie vlakker …… uhum…. maar hy’s nog breed. Toe ek onder by die rivier kom ….. uhum….. toe ….uhum…. toe sien ek my pa aan die anderkant van die rivier staan. Uhum….. toe hardloop ons na mekaar toe ….. uhum.  Ons kry mekaar in die middel van die rivier. Uhum…. toe gryp ons mekaar vas en druk mekaar en toe huil ons ‘n bietjie. Uhum…… kan ek vir ons ‘n bottel wyn oopmaak …. uhum….?”

 

PGJ