Rugby op Nuweland

November 28, 2010 in Sonder kategorie

‘n Vriend bel my die Saterdag-middag omtrent ‘n halfuur voordat die toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Australië op Nuweland begin om te verneem of ek belangstel om te gaan kyk.  Ek moet net eers die kaartjie in Milnerton gaan optel, sê hy.

 

Ek spring in die motor en ry om die kaartjie op tel in Milnerton, en mik van daar deur die (op daardie stadium) verlate strate deur Kaapstad.  Hoopvol arriveer ek vyf minute nadat die wedstryd begin het by Nuweland.  Ek het goeie hoop om darem nog die grootste deel van die wedstryd te sien.  Maar dis nogal ‘n storie om parkering te kry.  Op en af, heen en weer, ek is later heel verdwaal.  Kry uiteindelik parkering, maar seker 2 km weg van die stadion af.

 

Nou draf ek maar aan stadion toe.  Ek kom van die Suide-kant af, net om agter te kom ek moet by hek #24 wees, wat heel aan die Noordekant van die stadion is.  Toe ek dus uiteindelik natgesweet binne-in die stadion aankom toe sê die horlosie teen die Suid-pawiljoen daar is nog 14 minute oor van die eerste helfte.  Die Springbokke loop 10 – 3 voor.

 

Nou strompel ek na my sitplek toe. Op pad sountoe skrou ‘n ou hier van die kant af vir my ‘n hartlike verwelkoming.  Ek weet nie of hy van nature joviaal is nie.  Eintlik dink ek hy het my met iemand anders verwar.  Ek skrou ewe hartlik vir hom terug.  Mik na my sitplek toe.  Maar daar sit reeds ‘n kêrel.  En hy konsentreer regtig hard op die spel.  Ek spring op en af, roep, swaai my kaartjie rond, maar daai man sien niks.  Gelukkig is die 2 sitplekke agter hom oop, en ek sit maar sommer daar. 

 

Die kêrel regs voor my draai om en berispe my dat ek so laat is.  Ek vra om verskoning en verduidelik dat ek mos nou eers drie-uur my kaartjie in Milnerton moes kry, verstaan,  en deur die stad moes ry en parkering moes soek en moes hardloop na die stadion toe en …..  Hy is baie bly ek is daar en skud blad met my.   “Ja”, kom dit van die sitplek agter my af, “waar was jy, ons wag al heelmiddag vir jou!”

 

Miskien is dit die ding van rugby kyk op Nuweland.  Almal is baie bly om jou te sien, al weet hulle nie wie jy is nie, en selfs sonder dat hulle gesuip is.  Jy moet darem net vir die regte span skree.

 

Die rugby kyk self is bietjie van ‘n teleurstelling.  Dis amper soos om sonder my bril TV te kyk.  Dour ver jaag 30 ouens ‘n rugbybal.  En van waar ek sit kan ons nie die groot skerm sien om die kyk-weer aksie te sien nie.  Maar die stemming is besonders.  Alhoewel dit nie te watwonders was op die stadium wat die Springbokke 19-10 agter was nie. 

 

Twee jong latte probeer die Mexikaanse golf aan die gang kry, maar dit hou net so 5 rye sitplekke ver.  Die man agter my verduidelik ‘n mens doen nie ‘n Mexican wave as jy verloor nie, net as jy wen – dis hoekom dit nie werk nie. Maak eintlik sin, meen ek.  So leer mens allerhande goed van rugby as jy op Nuweland is.

 

Seker die grootste momente van die deel van die wedstryd wat ek wel gesien het was die 2 skepskoppe deur Frans Steyn.  Toe hy die telling gelykop maak met die eerste een is dit omtrent soos ‘n donderbuis wat afgaan soos almal op die pawiljoen mal gaan.

 

Die man wat op my sitplek sit en sy pel twee sitplekke verder aan is Ozzie ondersteuners.  Tussen hulle sit hulle rasta-pel wie ‘n Springbok ondersteuner is.  Hy kry maar swaar terwyl Suid-Afrika agter loop.  “Ek kannie mee’ hyshou saam met djille wat virrie vikeere span skrie nie!” hoor ek hom protesteer.

 

Maar met Frans Steyn se eerste skepskop verander sy posisie vir die beter.  En toe Steyn minute later die wen-skepskop doen, toe is Rasta erg tevrede tussen sy twee pelle.  Dit gaan nou baie bieterder met hom, dankie.

 

Ná die wedstryd moet ek terug na my motor toe.  Dis nogal bedrywig.  Daar is derduisende mense wat, om een of ander rede, almal in die teenoorgestelde rigting beur.  ‘n Ouerige oom is ongeduldig met ‘n jong man wat teen die stroom in beur en wil weet wat hy dink hy doen.  Die klein wysneus reken toe:  “Nee, ek weet self nie,  Oom, ek loop maar heelmiddag so heen en weer”.

 

Op pad na my motor loop ek agter ‘n paar groot lummels met hul Springbokbaadjies aan.  Mens voel nogal braaf so tussen die manne.  Maar hoe verder ek loop, hoe minder word hulle, en hoe meer word die parkeer-aanwysers.  Sommige van hulle het ook groen baadjies aan, maar vreemd, dit het net nie dieselfde trefkrag nie.  Dis ‘n redelike stil straat waar ek darem uiteindelik my motor kry, die informele karwag betaal en koers kry huis toe.

 

Ja-nee, min dinge klop die atmosfeer bu Nuweland, veral as die tuisspan gewen het.

PGJ

3 antwoorde op Rugby op Nuweland

  1. TS het gesê op November 28, 2010

    ek het sowaar die kat aan die spene beet… wanneer was die nou?

  2. pasella het gesê op November 28, 2010

    Rugby is koning!

  3. Nee, dis nie onlangs nie. Junie 2007, om meer presies te wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.