Bloulig Brigade

November 24, 2010 in Sonder kategorie

 

Die Wes-Kaap het nou ‘n verbod geplaas op die blouligbrigade.  Nogals ‘n verlies.  As jy lid is van die blou lig brigade, meen ek nou maar. 

 

Jare gelede in Windhoek moes ons tydens diensplig elke kwartaal fiksheidstoetse gaan doen.  ‘n Paar push-ups, ‘n paar sit-ups, en as jy nie dit kon regkry om te verdwyn voor die tyd nie, ‘n sinnelose 20 km stap.  Sinneloos, want jy bereik regtig niks deur ‘n klomp onfikse ouens een keer per kwartaal 20km te laat stap nie.  Juis omdat dit ‘n ooglopend slegte gedagte was,  is die ambulans ook saamgestuur. 

 

So ry ek die dag saam met die ambulans.  Dis net ek en die drywer.  Ons het nog nie begin stap nie, so daar is nog geen beseerdes nie.  Die verkeer is bietjie dik en dit gaan maar stadig, so ek begin bietjie verveeld raak.  OK, eintlik lieg ek, die verkeer in Windhoek kan nie eintlik stadig gaan nie, al is dit spitsverkeer.  Ek kon maar net nie die versoeking weerstaan om hierdie funny knoppie voor my op die dashbord te druk nie. 

 

Man, die nexte oomblik toe gaan daai ambulans se alarm aan.  Woeps! maak almal die karre vir ons ‘n pad oop en daar gaan ons.  Ek sit toe maar weer die alarm af, maar glo nou vir my hoe lekker het dit gevoel!  So ek voel vir die manne met die baie blou ligte en swart karre.

 

Tydens diensplig-opleiding in die militêre basis in Kimberley was een van die modules wat ons veronderstel was om in opgelei te word BBP-Beskerming. Teen die tyd wat ons daardie module moes doen was die instrukteurs self al bietjie sat. Hulle besluit toe dis ‘n mors van tyd, want nie een van ons dienspligtiges gaan ooit betrokke wees in BBP-Beskerming nie. Hulle was toe verkeerd.

As dienspligtige in Windhoek is ons inderdaad toe van tyd tot tyd ingetrek om te help met BBP beskerming. Dan is ons nou heavy kovert, elkeen met ‘n tweerigting radio en ‘n vuurwapen. Een ou is met ‘n Uzzi uitgereik – daar was net een Uzzi om uit te reik. Dié het geblyk ‘n lewensgevaarlike instrument te wees. OK, ek weet, dis wat vuurwapens veronderstel is om te wees, maar hierdie outjie was nog gevaarliker.

 

As jy gelukkig was het jy ‘n Walther pistool met ‘n holster gekry.  Soos James Bond, ek sê.  Minder gelukkig, dan het jy die weermag uitgawe Star pistool gekry sonder ‘n holster. Dié moes ek gereeld onder by my broekspyp uithaal oor die ding nie lekker in my belt wou bly sit nie. Ek meen, verbrands, my belt kon nie eens my broek bo hou nie, so maer was ek.

 

OK, ons het nie blou ligte en goed gehad nie.  Vreeslik geheimsinning in privaat klere en privaat voertuie sonder enige identifikasie.   So picture nou die volgende:  jy ry deur Windhoek se strate, minding your own business.   Jy besluit om in te druk voor ‘n onopvallende voertuig, net om te sien die passassier kyk jou dreigend aan en lig iets bo die voertuig se vensterraam wat vrek baie soos ‘n gedeelte van ‘n Uzzi lyk.   Jy lus vir indruk gaan mos plotseling verdamp.

 

Een dag na so ‘n BBP-Beskermingsoefening verduidelik Hugo vir ons presies hoe gevaarlik ‘n Uzzi is en hoekom. Dit doen hy terwyl hy besig is om die Uzzi veilig te maak. As ‘n lewendige illustrasie, alhoewel onbedoeld, gaan die skoot in die proses af.   Ons is almal stil geskok, en Hugo het sy melk weggeskrik.  By wyse van eliminasie kon ons gou agterkom niemand kreun nie, niemand is beseer nie.  Meer in besonder, veral, niemand is dood nie.  ‘n Diskrete loer af in die gang het gewys dat die rondte ook nie deur die hout-muur getrek het nie. Die rondte kry ons toe binne-in ‘n kabinet waar dit mooi veilig vassit binne-in ‘n lekker dik lêer.

 

Teen die tyd wat van die staande-mag offisiere kom navraag doen het oor die “skoot” wat hulle hoor klap het kon ons hulle met ‘n entoesiastiese demonstrasie (probeer) oortuig dat dit iemand was wat ‘n kardoes laat ontplof het. Hugo het homself mooi diskreet voor die kabinet geposisioneer dat die koeëlgat nie opsigtelik was nie.  Teen daadie tyd het hy nog nie kans gehad om masking tape daaroor te plak nie.

 

Maar terug nou by die BBP beskerming.  Dit was heel opwindend, so half ons eie “I spy” storie waar elkeen ‘n kode-naam het. My kode naam was nogal eksoties gewees: “Wiele”. Soos in “Wiel, Wiele, Wiele, dis Kaspaas, berig oor”, waarop Wiele dan nou die gebruiklik “Wiele, stuur” ding sou doen.  So roep iemand op ‘n dag oor die tweerigting radio:

“Jaco, Jaco, Jaco, kom in”.

Stilte.

“Jaco, Jaco, Jaco, waar is jy, kom in.”

Stilte.

“Waar is daai bl***die Jaco”.

Stilte.  Tot iemand die moed bymekaarskraap om anoniem oor die radio te se:

“Majoor, jý is Jaco”.

Lang stilte.

 

PGJ

1 antwoord op Bloulig Brigade

  1. Ag, ek’t lekker gelees hier.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.