Die Program vir 2012

Januarie 3, 2012 in Sonder kategorie

Raait, nuwe jaar, nuwe voornemens en alles.

Tyd vir die nuwe oefenkamp.

Ek het solank 10 oefensessies by die oefenkamp gaan koop.

Dit gaan so werk. Een oefensessie per maand en 2 maande om te herstel van die strawwe oefenprogram. Dit sal ons by 2013 uitbring.

Om verdere motivering te kry vir die strawwe oefeninge wat voorlê het ek bietjie op die web rondgesoek, en op Nataniel se GYM DAGBOEK afgekom.

Die fout wat hy natuurlik gemaak het was om te veel oefensessies in te kort tyd te probeer.

Hier beskryf hy sy kort maar kragtige program:

“Vir die wat al vantevore gesukkel het om te begin met `n oefenprogram!

Vir my 37ste verjaarsdag het my dierbare vriend, Werner, vir my ‘ n week by Virgin Active gekoop… met ‘ n persoonlike afrigter.

Alhoewel ek nog ‘ n redelike goeie lyf het, van al die jare se swem vir die Universiteit span… 18 jaar gelede, het ek besluit dit mag ‘ n goeie idée wees om te gaan.

Ek het die gym gekontak en ‘ n afspraak gemaak met my persoonlike afrigter, Steve. Hy het my vertel hy is 26 jaar oud, ‘ n spinning instructor en ‘ n underwear-model.

Werner was baie beindruk met my entoesiasme om te begin oefen! Die gym het my aangemoedig om `n dagboek te hou van my vordering:

MAANDAG:

My dag begin 06h00. Baie moeilik om so vroeg op te staan, was beslis die moeite werd toe ek by die gym aankom en Steve sien wag vir my. Hy is `n Griekse God met blonde hare, smeulende oë, n gespierde lyf en die mooiste glimlag wat ek nog gesien het!!

Woo Hoo!!

Hy het my hartklop gemonitor na 5 minute op die treadmill. Was bekommerd oor my vinnige hartklop, ek het hom gerus gestel en verduidelik die rede daarvoor was omdat hy langs my gestaan het in sy stywe oefenklere.

Hy het my aangemoedig terwyl ek sit-ups gedoen het, al was my pens al klaar so seer van die heeltyd inhou terwyl Steve naby my was.

Was baie inspirerend om hom te sien buk om strek oefeninge te doen!!

Gaan `n FANTASTIESE week wees, kan nie wag vir more nie!!

DINSDAG:

Ek moes n hele pot koffie gedrink het, maar het wel uiteindelik die huis verlaat. Steve het my maak op my rug lê en `n ysterpaal in die lug hou bo my gesig… en toe sit hy gewigte ook op die paal!! My bene was baie bewerig op die treadmill, ek het amper n hele 5 minute gedoen. Steve se mooi glimlag het dit die moeite werd gemaak! Ek voel WONDERLIK!! Dit is `n nuwe lewe vir my!

WOENSDAG:

Die enigste manier om my tande te borsel, was om die tandeborsel op die wasbak te sit en my mond heen en weer te beweeg daaroor. Ek dink altwee my tietspiere is geskeur!! Om te bestuur was oraait, solank ek nie hoef te gedraai het of briek te trap nie. Ek het bo-op iemand se motorfiets gestop by die gym. Steve was baie kortaf met my, het aangedring dat my gegillery pla die ander mense in die gym. Sy stem is gans en al te ‘perky’ so vroeg in die more. Hy irriteer my!

My bors brand as ek op die treadmill klim, so Steve het my laat oefen op die “stair monster” Vir wat de fok sal iemand ‘ n masjien maak wat jou laat dink jy klim trappe? Niemand klim meer trappe nie, dis hoekom ons hysbakke het.

Steve reken dit sal my help om `n sexy lyf te kry en hy het ook  `n klomp ander kak gesê.

DONDERDAG:

Steve het vir my gewag met sy Doberman-tande wat by sy dun lippies uitsteek. Ek kon nie help dat ek `n halfuur laat was nie, dit is hoe lank dit my geneem het om my tekkies vas te maak.

Steve het my laat oefen met dumbells. Toe hy nie gekyk het nie, het ek gaan wegkruip in die mans toilet.
Vir my straf het hy my op die ‘rowing’ masjien gesit…ek het gesink!!

VRYDAG:

Ek haat daai fokken Steve so baie. Dink nie een mens het al ooit n ander mens so baie gehaat in die hele geskiedenis van die werêld nie.

Onnosele, maergat, anoreksiese ottergevreet! 

As daar `n deel van my lyf was wat nie onophoudelik gepyn het nie, sou ek hom daarmee gemoer het. Steve wou gehad het ek moes werk aan my triceps. Ek het nie fokken triceps nie!

En as hy nie gate in die vloer wou gehad het nie, dan moes hy nie vir my die donnerse barbells gegee het nie. Of enigiets wat swaerder as `n toebroodjie is nie!

Die treadmill het my afgegooi en ek het op my gesig geval.

SATERDAG:

Steve het `n boodskap op my selfoon gelos in sy rasperige stem wat my oordromme laat bloei het. Wou weet hoekom ek nie kom oefen het nie.

Toe ek hom hoor wou ek my selfoon stukkend gooi, maar ek het niks krag gehad nie. Alles het gepyn!

Al wat ek kon doen was om my pinkie te gebruik om die tv remote te druk. Het heeldag soapies gekyk.

SONDAG:

Die kerk se bussie gaan my kom oplaai vir die diens. Gaan om dankie te sê dat die week verby is en om te bid dat, Werner (die fokker) vir my ‘ n beter geskenk sal gee volgende jaar!!

Die lekker kos

Desember 30, 2011 in Sonder kategorie

Ons het nou die dag ook een van daardie heerlike varkboude gehad .

Kreefkelkies vir voorgereg gehad.

Alles baie lekker.

My groentesmous, Aggie, of liewer Achmat, mag eintlik nie vark eet nie. Halaal, Kosher en al daai. Verbode kos.

As ek die saak reg verstaan mag niemand so duisend of 3 jaar gelede enige van hierdie lekker goed ge eet het nie.

Okay, vlermuise verstaan ek. Ek het geen begeerte om vlermuisie te eet nie. Nog nooit gehad nie. Wie weet miskien is vlermuis lewertjies absoluut heerlik, en kan die Chinese dalk vlermuislewerpatee blik en dit verkoop vir derduisende rande. Miskien kan dit dalk selfs renosterhorings vervang as die wonderkuur vir wie weet wat.

Oudergewoonte het ek alweer afgewyk van my eintlike vraag.

Kan iemand vir my verduidelik hoekom mens gesondig het as jy kreef en vark destyds ge eet het, maar vandag mag jy dit eet?

Okay, gegewe dat jy nou nie Jood of Moslem is nie. Dan moet jy maar vasbyt.

Hoekom sou ‘n god hoegenaamd worry oor wat sy skepsels eet? en eensklaps die reëls verander?

Dit is ‘n ernstige vraag.

Jack the Ripper

Desember 22, 2011 in Sonder kategorie

In my kombuis raak dit baie rof met die vlymskerp messe.

Een so sny deur ‘n ui, en daar kak die pinkie toe. Nie heeltemal af nie, ten dele. Ek het eers pleisters en goed probeer, maar kry toe die pêre mediek by my watergat, en hy sê steke. Fokkof dokter toe.

Die dokter het dit toe alles mooi toe en vas gesteek.

My kreefsiesoen is nou soortvan in sy moer want die dae is min, en kreefvangery is ‘n vingerintensiewe besigheid.

Maar dis nie al nie.

Die hele storie kos enkele rande kort van R 1000.

Die dokter het my vir omtrent 5 min maksimum gesien, en woerts warts die steke ingesit.

Die verpleegster het eersmy ou pleisters afgetrek, my pinkie in die savlon bakkie gedruk. Toe wag ek. Toe kom die dok. Wham bang klaar… soos hy moet, stem saam. Na die tyd het die verpleegster  betadine op alles gesmeer en toegeplak.

Ek het nie klagtes oor die behandeling nie, dit was goed en reg, maar die PRYS van alles.

Ek het ‘n mooi gespesifiseerde rekening gekry : konsultasie 285.00 en steke 165.00 ( aparte items) net ek het niks konsulteer nie, hy het ingekom, so en so gekyk, ‘n spuit gevat, gespuit, naald en garing gevat , toegewerk, Kommunikasie: “hierdie gaan brand, ek dink dit sal vat.” thats it.  Stem saam, daar was niks meer te sê nie, ek gaan nie soontoe om met die ou kak te praat nie.

Dan kom  “opstel van steriele skinkbord” – dis nou die savlon bakkie, nalde en garing en sulke goed op so skinkbordjie uitpak, die verpleegster het dit gedoen – 3 min se werk : R 87.00

Die handskoene was R 20.88. Twee pare. Een vir dok en een vir nurse. maw R 10.44 elk vir dieselfde handskoene wat ek by die apteek kan koop vir R3.00 ‘n paar- hou in gedagte die apteker het klaar sy 100% wins daarop gelaai, so ek twyfel of die dok meer as R1.50 vir die handskoene betaal.

O ja , die garing was R 244.58

en die naald het verbasend genoeg net R 1.72 gekos.

ensovoorts.

Daar is min dinge waaroor ek met ons geagte regering saamstem, maar hulle het een punt beet. Mediese sorg is belaglik duur.

As daar ‘n komplot deur die geldmag is, dan is dit die mediese/farmaseutiese/mediese fonds bedryf wat ons heeltemal deur die ore werk

Ongelukkig het ons ‘n totaal onbevoegde regering, wat heeltemal niks reg kan organiseer nie, so ek is bevrees die Wet van Transvaal bly ons voorland, net, die woord “of” word vervang met die woord “en”.

Donnerse ripoff .

My gunsteling blogger

Desember 21, 2011 in Sonder kategorie

Vandag het ek my gunsteling blogger afgeneem terwyl ek iewers heen geloop het om nog meer whisky te gaan koop.

Hier is sy foto.

Hy stuur groete vir julle almal.

Die foto is geneem kort nadat hy van sy fiets af gebliksem het.

babba

© Petrus Pap – ja ek is ‘n regte persoon en as iemand my foto copy dan gaan julle ©@©

Die Goeie Nuus !!!

Desember 10, 2011 in Sonder kategorie

Te midde van al die sware tydings waarvan ons verneem…

en my telkens na meer en meer drank laat gryp, en amper so goed soos die goeie nuus uit ‘n lidland van die EU … dat ek teen middel Januarie 3 liter van die beste pruim mampoer in ontvangs sal kan neem, gebring deur nie minder as 3 koeriers nie. Logies eintlik. Elkeen bring ‘n liter.

dit behoort my deur te sien deur die donker dae wat gaan volg as die pole omdop in 2012, en die nuwe fuhrer sy stormtroepe uit Duitsland gaan stuur om Afrika weer uit te sorteer en al daai. Alles dinge wat ek al gesaghebbend hier van verneem het op hierdie einste blogwerf… nevermaaind op die interwebs daarbuite.

MAAR… dis nog nie al nie

Daar is pas weer ‘n verstommende uitvinding aan die wêreld bekend gestel.

‘n Nuwe wonderkuur.

Kyk net hier onder, maar hou asseblief in gedagte dat my persoonlike raat en remedie al jare lank disprins en swart koffie is… o ja en Rennies  teen sooibrand.

Ek wonder of die bliksems vir my enige royalties gaan betaal …

We have created the ultimate

hangover cure

in a pill

(just in time for Christmas),

claim U.S scientists

  • First remedy of its kind
  • Combination of aspirin and caffeine eradicates all symptoms in just 15 minutes
  • Designed by ex-financier with no pharmaceutical background
  • More effective than other products on the market

Alcohol-induced hangovers will be a thing of the past thanks to a new over-the-counter remedy say U.S. scientists.

A single dose of Blowfish can eradicate all symptoms sparked by a night of heavy drinking, such as nausea, vomiting and fatigue, in just 15 minutes.

Hailed as a miracle cure by its maker, the pill which contains 500 milligrams of aspirin, 60 milligrams of caffeine and an antacid to soothe upset stomachs – is already available online.

Read more: http://www.dailymail.co.uk/health/article-2071620/Blowfish-hangover-pill-We-created-ultimate-cure-just-time-Christmas.html#ixzz1g9BQ2OzW

Tjops in die Wes Kaap

Desember 8, 2011 in Sonder kategorie

Omdat die weiding vanjaar so geil was, is die skapies swaarder as gewoonlik. Intussen raak die weiding nou swakker, en die boere stoot hulle skapies nou in die mark.

Die produsenteprys van lam het van R57 na R 47 geval. In Die Burger vandag.

So die boere kry R 10.00 per kilo minder.

Dit beteken jy kan hierdie week loop stry oor prys. Wat is die kans dat Checkers, P&P en Spar nie hulle luck gaan traai nie.

Sal nou nou gaan hoor wat my plaaslike slagter se storie is, want ek moes gister na ‘n treurmare oor die prys van steak luister.

Die dik Blou Lyn

Desember 7, 2011 in Sonder kategorie

Carina van der Walt skryf op Litnet:  “Die Blou Lyn-projek moes die potensiële katastrofe van klimaatsverandering uitbeeld. As die temperatuur wêreldwyd met meer as 2ºC styg, sal die kuslyn bedreig word. ’n Styging van met minstens een meter in die seevlak sal baie eiendomme en vakansie-oorde laat oorstroom.”

Die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe was die ou met die gedagte, hy is ‘n gerekende kunstenaar, begaan oor die natuur en alles.

Ek vermoed almal van ons is bekommerd oor die natuur, besoedeling en so aan, maar dit keer ons nie eintlik om lustig met ons karre rond te ry nie…. of iewers heen te vlieg nie.  Die nuwe era van groot en vinnige seilskepe vir oorseese reise het nog nie weer aangebreek nie.

Wat my nou by twee vrae uitbring – oor seevlak.

Ek het hoeka vanoggend teen die rotse en goed gaan kyk waar die 1 meter merk nou sal wees, maar eers:

1. Hoe weet “hulle”, want die fok weet wie dit uitgewerk het, dat die seevlak met een meter gaan styg as dit 2 grade warmer word?

2. En wie het besluit van watter punt af die een meter kontoer gemeet moet word?

Ek sal vraag 2 net bietjie verduidelik.

Hier by ons is die see elke dag twee keer vol en leeg. Hoogwater en laagwater, en dit is amper nooit dieselfde hoogte en laagte nie. Jy het spring gety en dooie gety, en alles tussen in.  Jy het ook ‘n hoër as gewone springgety, en dan het jy wind en branders ook.

Punt is dat die see elke dag met sommer ‘n paar meter van hoogte kan wissel.

Ek weet wat die regering/munisipaliteit doen. Hulle het baie arbitrêr besluit die hoogwater merk is op een of ander punt X,  Strijdom hulle het toe sommer na die munisipaliteit gegaan en gevra .. waar is julle punt X kontoer, en toe heelwaarskynlik net so lukraak besluit x+ 1 meter is sommer by punt Y… of so iets.

As mens dan die klomp bullshit genoeg herhaal, en gerespekteerde mense soos Carina skryf dit op Litnet, dan verander dit naderhand in “feite”, en ons kan begin worry oor hoe ons een dag gaan wegspoel of so iets.

Intussen het werklike temperatuur metings blykbaar aangetoon dat die wêreld se gemiddelde temperatuur die laaste paar jaar eintlik effe af is, en dat die yskorste by die pole eintlik dikker raak… alhoewel as die ys smelt gebeur daar eintlik nie veel nie.. altans nie volgens my ys wat smelt in die glas eksperiment wat ek ‘n paar jaar gelede op hierdie einste blogwerf gedokumenteer het nie.

Intussen dink ek Stijdom se kuns is iets besonders

en wonder ek hoekom slim mense hulle bullshit filters afskakel as dit by “groen” sake kom.

onder andere.

Die Roeping van die See en Gay Predikante.

Desember 1, 2011 in Sonder kategorie

Die krewe roep my, maar my verkoue ontroep my weer, en ek moet ‘n ander kreefsak gaan kry, want myne het ‘n vreeslike swak ontwerp want die krewe hak vas aan die bek van die sak as ek hulle probeer instop.

Op hulle beurt hak hulle bekke weer vas aan my hanskoene, of eerder, die dôners probeer my byt. Soos gewoonlik wyk ek al weer af van my eintlike onderwerp naamlik “die roeping”.

Byvoorbeeld: die roeping van die onderwys, en veral die een wat die hoogste geag word: as God jou Roep.

Hier in my dorp is dit maklik om geroepe te voel. In die ou dae sou dit die bankbestuurder gewees het wat jou roep, “a real calling” soos hulle in engels sou sê. Telefonies. Meneer Pap! jou bankrekening is ALWEER oortrokke met tien duisend rand! Wanneer gaan jy dit regstel?  Okay, deesdae kry mens mos net ‘n sms wat basies fokjou sê, maar die gedagte is dieselfde.

Oomblikke nadat ek ‘n geroepene geword het, word ek alweer geroep. Hierdie keer is daar nie ‘n telefoon wat lui nie, ek hoor slegs ‘n stem in my kop.

“kom haal my, kom haal my!” hoor ek.

Jou wrintiewaar! dis die perlemoene wat my so vreeslik roep, en teen R 350 per kilogram hoor ek hulle stemme hard en duidelik.

Raait as ek vir die volgende 5 dae lank elke dag 20 kilogram uithaal het ek 100 kg wat ek vir R 35 000 kan swaai.

Klink vir my na ‘n ware roeping.

Of was die bankbestuurder (of klerk)  se roeping (se sms) dalk die ware een.

Ek wonder altyd oor hierdie “roeping” besigheid.

Eintlik maar net iets wat jy self graag wil doen.

Die Everest roep my of Namibië roep my.

Ek wil graag dit of dat doen, en natuurlik, dan “roep” dit of dat my. 

Ek kan dit nie help nie, ek is geroepe daartoe.

Soos ‘n hele klomp bliksems hier op my dorp wat weier om hulleself enigsins verby ‘n baie elementêre vlak te bekwaam “want ons lewe uit onse see” en “my pa was ‘n visserman, en sy pa was ‘n visserman, en ek is ‘n visserman” en ons is ” so gemaak en so laat staan”.  Ja, kan seker nie help dat hy onosel is nie, maar dom onosel?

So hoe werk dit as God jou Roep?  Ook maar ‘n stem in jou kop? Of allerhande tekens soos Gideon ontvang het? Of soos Jules in Brett se flat in Pulp Fiction?

Of is dit maar net een of ander poging om die verantwoordelikheid vir jou eie besluit gerieflik te verplaas.

O ja, die gay predikante!

Al vraag wat ek hieroor het is wanneer die Gaums tot die voorblad gesprek gaan toetree?

Die koerantbase lag lekker, ek ook, maar dis ‘n ander soort lag.

Die Sosiale Netwerk

November 28, 2011 in Sonder kategorie

Eintlik het ek uit blote nuuskierigheid gaan kyk want aangaan en ‘n Facebook profiel geskep en alles.

Die eerste ding wat gebeur het was dit ‘n hele klomp mense saam met wie ek op skool was, kontak gemaak het, en ons het almal maatjies geword.  Insluitende my st 9 kys, wat my destyds gedump het. Ek dink nie die kys was te ernstig nie, want ek kan nie eers onthou dat ons ordentlik gevry het nie. Die eintlike meisie op wie ek verlief was het met ‘n ander outjie uitgegaan … hy is wel een van my facebook maatjies alhoewel ons op skool slegs klasmaats was.

Nie dat ons enigsins vir mekaar boodskappe en goed stuur nie, ek dink almal is maar net soort van goed gemanierd en voel soortvan te kak om die ou skoolmaats te “unfriend” … behalwe die wat simpel raak met spam, en my heeltyd uitnooi na allerhande onosel issues toe en so aan. En dan die dwepers, wat natuurlik glad nie kan verstaan dat hulle ‘n spul dwepers is nie.

Elke nou en dan is ek lus om hulle ook te nuke, ek verdra hulle, maar my vinger is naby die valbyl knoppie.

Verder nou is dit nie net Facebook nie.

Daar is allerhande ander sosiale netwerke soos Plaxo, linked in, daai een van google, hi5 en so aan.

Wat ek nou glad nie kan verstaan nie is dit – as twee van ons alreeds Facebook maatjies is.. hoekom de hel wil ons nou ook Linked in wees, en gehaai5 wees, en geweet nie wat wees nie.

Ons is mos nou Faceboek maatjies, en het mekaar se e mail adres en alles, so wat is die storie met al hierdie ander sosiale netwerke.

Vreemd.

Mens en dier

November 26, 2011 in Sonder kategorie

seekoei

 

Seekoei en kameraman by Mana pools

 

In Rundu het my mik en druk verdwyn. Ek dink ek het dit bo op Engen se petrolpomp gelos. Gelukkig het ek darem ‘n paar fotos oorgelaai voordat ek die kamera weggesmyt het. Die fotos hier is nog steeds met die mik en druk geneem, en nie met lang telefoto lense nie.

 

In Botswana het ‘n olifant die afgelope week ‘n arme man karnuffel. Noodlottig. Daar was nog insidente. Man doodgetrap by Matusadona, Kariba, Spaanse toeris dood by Purros in Namibië- olifant.  Alles my “hangouts”.

 

Mens moet altyd met ‘n olifant rekening hou. Hulle is groot en kan nogal humeurig wees. Veral op plekke waar die mens en dier interaksie kompeterend is.

 

In die Kruger Wildtuin en ook in Etosha is die olifante baie gwoond aan karre, en alhoewel daar baie onosel mense daar rondry, is die interaksie nie kompeterend nie. meestal kyk nie mense net na die olifante uit die motors.

 

Die kampe het drade om, en die olifante probeer nie karavane, tente en voertuie oopbreek om by soet vrugte uit te kom nie, of breek deur heinings om mense se tuine bietjie om te dolwe nie. Okay, miskien wel bietjie by Malelane, maar nie eintlik te veel nie.

 

Verder noord is dit nogal ‘n ander storie. Kariba is maar een voorbeeld, maar daar is baie.

 

Warthog’s is so lekker boskroegie op die buitewyke van Kariba dorp. Dis hier waar ek vanjaar die eerste keer tussen die Mopanies deur gesidestep het, vinniger en ratser as wat Gio Aplon in sy wildste drome dink hy kan doen.

 

Al wat ek wou gaan doen is om so paar fotos van die sonsondergang en die dam en miskien ‘n krokodil te neem. Wat so ent afstap water toe beteken het. Een kant tussen die bome was ‘n olifant of twee, hierdie een was die naaste. Ek het gedink hy sien my, en hy was ontspanne, want hy het rustig aangegaan met eet, en hom nie aan my gesteur nie.

 

warthogs

 

Dis my benadering. Maak seker die dier sien jou. Hy sal jou gou laat weet hoe hy oor jou teenwoordigheid voel. Dit is belangrik dat die dier die interaksie moet beheer, want dan is almal gemaklik. Maak seker daar is afstand. Ruimte om in te beweeg, vir mens en dier.

 

As die dier vir jou sê om te waai is dit presies wat jy moet doen as hy groter as jy is. Soms as hy kleiner as jy is ook. Ek wil nie met ‘n ratel slaags raak nie, al het ek een tussen die oë gegooi met ‘n aartappel, maar dis ‘n ander storie.

 

Nietemin, met die terugstap kroeg toe, het ta sy moer gestrip en ‘n stormlopie uitgevoer. Vinnigste wat ek nog ooit tussen ‘n spul bome deur .’n kroeg binnegestorm het. Ek het daar net ‘n bier bestel en my “pose” gehou, niks eintlik gesê nie.

 

Karel en warrie

 

My drinkebroers pose gou vir ‘n fototjie

 

tashinga

 

Die kampeerterrein by Matusadona kry ‘n besoek

Ons was al mense daar. Ongerep, niks heinings en drade nie.

 

Hierdie Kariba olifante het die beste ivoor wat ek onlangs gesien het.