Speedbump

Maart 19, 2012 in Sonder kategorie

Die oefenkamp was vir die naweek opgeskort agv Vrydagaand se rugby wat die Stormers so mooi gewen het, en die feesvieringe en jolyt daarna.

 

Saterdag is dit opgevolg deur ‘n helse partytjie in Saldanhabaai. ‘n Klomp oesters en vonkelwyn was betrokke . Die vonkelwyn was droog genoeg, en het vermoedelik min genoeg suiker in om nog in te pas by die lewensstyl verandering. verder het oesters niks stysel in nie, so ek is seker dit was ook toelaatbaar om hulle te verorber.

 

Al probleem is dat ek die naweek niks geoefen het nie.

 

Intussen het my fikse broer gister ook draai in die Kaap gemaak. Die een in sy middelsestigs wat redelik ernstig fietsry. Voortaan bekend as Johannes Fiks.

 

Hy het so pas die “Cape Outback” resies afgelê. Dit was 400 km op allerhande veldpaadjies tussen Stilbaai en Stanford.

 

Op dag 3, dit was Saterdag, was die skof 130 km, en totale opdraandes vir die dag was 1400 meter.(vertikale styging).

 

Hulle het genadiglik by Strandveld wyne oornag. Johannes Fiks het op Sondag die wyn vir sy moegheid blameer, aangesien hulle hulleself blykbaar Saterdagaand mildelik gelaaf het met die Strandveld se beste. Later sou hy erken die lafenis was nie net beperk tot een aand nie, maar het inderdaad elke aand plaasgevind want hulle was na elke dag baie moeg en dors van al die fietstrap in die fynbosse.

 

Gister se skof was maar net 76 km , maar die vertikale styging was meer as 1600 meter.

 

‘n Mens moet hierdie resies as ‘n span doen. Twee ryers is ‘n span. 50 Spanne het deelgeneem, so net 100 ryers. Nie heeletmal ‘n Cape Epic nie, maar die “Epic” is ‘n perd van ‘n ander kleur.

 

My Sondagpreek ek ek toe van Johannes Fiks ontvang, om my gat in rat te kry en harder te oefen. Hy reken ek behoort volgende jaar aan die Outback te kan deelneem.

 

Dit is nou maar al.

 

Hierdie week is die kerf 20km per dag op die ou fietsie, mens moet seker maar die kerf geleidelik hoër maak. Ons sal maar sien hoe dit gaan.

 

Dis ‘n lang pad wat voorlê.

Spieeltjie spieeltjie aan die wand.

Maart 15, 2012 in Sonder kategorie

Jaagduiwel het die badkamer herontwerp en oorgebou.

 

Daar is nou ‘n oopplan stort en ook groot spieëls.

 

‘n Onbedoelde resultaat van die badkamer vernuwing is dat mens jouself kan sien terwyl jy stort, en dis nie ‘n mooi prentjie nie.

Nie in my geval nie.

 

Tog is daar een groot voordeel. Die motiveringsaspek, want liewe hel, jy wil baie beslis nie die vetsak wees wat daar vir jou gluur nie.

 

Ongelukkig moet ek diegene wat graag fotos van my gespierde borskas op hierdie blog wou sien teleurstel.

 

En julle sal ook heelwat langer as ‘n paar maande wag voordat ek fotos kan publiseer van waar ek vingeroptrekke fake. Soos toe FW laas sy rugspiere wou paradeer.

 

Verder is my een kamera se battery en charger soek, en die ander kamera het ek in November bo op Engen se petrolpomp in Rundu vergeet. Dit was die el cheapo Coolpix, soos dis nie ‘n onvoorwaardelike ramp nie, dit was maar ‘n simpel ou kameratjie. Anyway, “before en after” fotos is vir eers heeltemal buite die kwessie. Veral die “before” fotos. Blameer die spieel.

 

Die spieel is die reality check.

Oefenkamp reloaded.

Maart 14, 2012 in Sonder kategorie

Nee, ek het nie my blog uitgevee en oor begin nie, maar ek reken ek gaan die volgende maand of so in Jan Tuisbly se karretjie ry, so 4 weke is ‘n goeie tydperk om terug te keer na die oorspronklike gedagte van hierdie blog… wat beslis die pad heeltemal byster geraak het.

Back to square one dus:

Die lengte : massaverhouding is die eerste maatstaf.

 

‘n Baie maklike een.

 

Sure, sure.. nie almal het dieselfde ligaamsbou en beenstruktuur nie.

 

Die omtrek om jou pens mag nie meer as die helfte van jou lengte wees nie.

 

Maklik, meet jou omtrek by jou maag, en maal dit met twee.

 

Is jy korter of langer as dit?

 

Langer is goed.

 

Korter.. en jy is dik ou maat, heeltemal te dik. No ifs or buts.

 

Moenie ‘n klomp twak oor ouderdom kom praat nie.. my oupa was op 90 ‘n goeie entjie langer as 2 x sy maag se omtrek.. so die ouderdom ene gaan nie gel nie.

 

In my geval is daar eenvoudig geen verskonings nie. Lekkerleef en lekkerbekkigheid het sy tol geneem.

My voorliefde vir Bacchus ook.

 

Die eienaardige ding is dit, ek maak ‘n braaivleisvuurtjie vir myself alleen, en gooi twee lekker lam tjops op. Twee groot boud tjops, maar die behoefte aan ‘n glas rooies is nie oorweldigend nie. Nogal gedag dit sal wees, maar maklik weerstaanbaar.

 

Die probleem lê by die tjops. Ek het twee in die bevrore pakkie gehad. Gedink ek sal een vanaand eet en die ander een hou vir môre. Nie gewerk nie.

 

Ook nie gedink ek sal liewer wees vir ‘n tjop as ‘n glas rooies nie, maar so vind mens goed uit wat jy gedink het anders sou wees.

 

A luta continua

Die Argus fiets “resies”

Maart 12, 2012 in Sonder kategorie

Verskeie familielede, vriende en kennisse was onder die meer as 35 000 mense wat dit gaan ry het.

My ouboet (65) het dit al baie gery maar nadat ‘n kar hom ‘n paar jaar gelede tydens ‘n “gewone” padresies ernstig beseer het, het hy besluit bergfietse is meer die ding.

Deesdae ry hy goed soos die Lighthouse to Lighthouse, en die Transbaviaans, 240 km “single stage”.

Lighthouse to Lighthouse was laas een dag van Dangerpunt tot L’ Agulhas en die volgede dag weer andersom .. of so iets.

Twee skofte, elk omtrent 100 km of so, moeilike terrein.

Laaskeer toe ek daar in Bloemfontein by hom ‘n draai gemaak het, het hy my sy super duper koplamp/fietslig gewys wat hy gekoop het om bietjie lig te werp op die pad deur die Baviaans.  Aangesien hulle in die nag ook moet ry (obviously)

Hy het natuurlik ook al die Cape Epic gery. Hy is eintlik ‘n fikse derduiwel.

Gister was dit kleinboet en sy tiener dogter wat gaan meedoen het aan die sosiale uitstappie .. want dit is eintlik wat die Argus is. Die twee se tyd was ook iewers rondom 6 ure.

‘n Ander skoonsus (46) het ook gaan deelneem, haar tyd was 4.33.

Reinhardt Janse Van Rensburg se wentyd was gister 2.36 en moenie die 17 sekondes vergeet nie. maar ek dink amper Robbie Hunter se rekord van 2.27 staan nog.  Wyle Ertjies se eerste wentyd destyds was 2.40

Ek verneem Helen Zille het op ‘n tandem deelgeneem, en ons geagte sport minister Fikile ook. Hopelik het die tweetjies nie op dieselfde tandem gery nie, okay, obviously nie, want ek is nie so 100% seker dat die twee dit op enkelfietse sou maak nie.

Natuurlik is daar ‘n paar kategorieë waar dinge erg kompeterend is, die voorste mededingende klasse.

Mooi skoot aan almal wat gister gaan ry het.

Dis ‘n gebeurtenis vir almal en ‘n pretrit waaraan meer as 35 000 mense deelneem is iets besonders.

My broer sê in die skadukolle op Chappies het die mense gestaan soos by die wailing wall in Jerusalem, met toe oë en al wiegend op hulle bene … en eenkant skiet ‘n ou ‘n paar katte.

Ek is eintlik verbaas dat daar net twee gerapporteerde hartaanvalle was onder die deelnemers.

Sekerlik het daar ‘n paar ouens op ander plekke as die mededingende bondel voor die wenstreep geval.

Gister was dit vrek warm, maar min wind.

Natuurlik praat almal hoe warm dit gister was en hoe hulle gesuffer het, maar as die sedoos gister gewaai het sou ‘n groot persentasie glad nie klaargemaak het nie.

Omdat die Argus ‘n maklike pretrit is, neem ‘n groot gros mense deel sonder dat hulle genoeg oefen. Kleinboet is een.

“Hoe baie het jy geoefen?”

So 5 keer seg hy.

“hoe ver ?”

“hmmmm so 30 or 40 km op ‘n slag !”

Dit was die somtotaal van sy voorbereiding… o ja , hy het sy fiets ook laat versien.

En dit is die Argus. Hoe hard dink julle het Helen en Fikile ge oefen?

Ek is ‘n groot Argus ondersteuner, en dink dis wonderlik dat so baie mense deelneem…

maar genugtig !

sosiale deelname verg omtrent GEEN voorbereiding nie. Asseblief … laat ons  onsself nou nie heeltemal bullshit nie!

As jy dit onder 4 en ‘n halfuur ry sal ek sê knap gedaan ! en onder 3.30 puik. Dis ‘n uur stadiger as die wenners.

Dit was vandag vir my lekker om met kleinboet en sy tiener te praat oor hulle deelname.. natuurlik moes sy gereeld wag dat sy vetgat kan inhaal …. na extended water stoppe en so aan …

Ek sal iets moet doen oor die wobble in my voorwiel, en miskien ook volgende jaar gaan saamry, maar ek sal meer oefen as 4 keer.

Die Palmeira insident

Februarie 26, 2012 in Sonder kategorie

Die EN1 het oor die algemeen nie sypaadjies nie, en die ou met die boeksakkie het langs die pad gestap. Die afgelope ruk het dit baie gereen in Mosambiek, en die gras is groen en hoog.

Die stof het gestaan en die vragmotortjie het soos ‘n monster deur die gras aangestorm gekom.

Ek weet nie hoekom hy van die pad af gejaag het nie. Ek kyk dit so en kyk dit so, en die outjie wat daar stap weet nie watter kant toe nie.

Ek probeer hom wil om links te spring, maar nee, hy versteen, en toe spring hy regs.

Die rooi hempie vedwyn onder die vragmotor se wiele. Die boeksakkie vlieg eenkant toe.

Ek skat die outjie so 10 jaar oud.

God se sogenaamde wonderlike Plan vervul my weereens met afsku.

Die Groot Komplot

Februarie 10, 2012 in Sonder kategorie

Hierdie organigram, wat ek natuurlik vanaf ‘n Amerikaanse webwerf afgetrek het, sal met enkele veranderinge perfek inpas by die gedagtegang van die komplot kenners hier op ons gawe litnet blogwerf.

Die Rooi gevaar is met ons. Die kommies ! Soos ons altyd vermoed het hier word dit op swart en wit bewys !!

Of altans, dis alles die donnerse kommuniste se skuld!!

maar wag, dit is net die misleidingsplan ! Heelonder sal ek met ‘n verdere openbaring kom.

Kyk eers na die organigram, een klein veranderinkie kan dalk wees om die Demokratiese party met die Demokratiese Alliansie te vervang.

Byvoorbeeld : In “Afrikaner Afrikaan” het Van Zyl Slabbert mos presies vertel hoe hulle by Soros geld gekry het.

agenda

Karl Heinrich Marx (5 May 1818 – 14 March 1883) was a German-Jewish philosopher, economist, sociologist, historian, journalist, and revolutionary socialist.

En nou volg die GROOT OPENBARING :

Sien dis eintlik die Jode wat agter alles sit, Karl was maar net hulle werktuig.

Ek wonder eintlik bietjie of ek ‘n disclaimer hier moet skryf, maar die fok weet, nadat ek Dana Snyman se rubriek in Die Burger vandag gelees het, moet ek maar. Hells bells buckets of blood.

Disclaimer:

Ek dryf die spot met die komplotters.

Italiaanse passasierskepe

Januarie 30, 2012 in Sonder kategorie

Alhoewel Engeland op sy dag seker die grootste seevarende moondheid was, selfs nog in Winston Churchill se dae, het hy in sy later jare ‘n plesiervaart op ‘n Italiaanse skip onderneem.

Onthou dat die Tweede Wêreldoorlog nog vars in almal se geheue was.

Die Italiaanse koerantmanne wou by Churchill weet hoekom hy as voormalige Britse eerste minister ‘n Italiaanse skip sou verkies:

“There are three things I like about being on an Italian cruise ship” said Churchill. “First, their cuisine is unsurpassed. Second, their service is superb. And then, in time of emergency, there is none of this nonsense about women and children first.”

Vlieg Beijieng toe !

Januarie 16, 2012 in Sonder kategorie

Van 31 Januarie af kan jy met SAL reguit Peking toe vlieg.

Aldus ‘n e mail wat ek van SAL ontvang het, en jy kan dubble lugmyle op jou Voyager kaart ook verwerf.

So die wat wil kan China toe vlieg, en vir Francois oor nooi vir ‘n drankie, en ietsie om te eet. In ruil neem ek aan dat hy julle sal begelei om die naglewe te geniet… as’t ware ‘n kulturele gids.. en die wondere van Chinese teater, musiek ens aan julle bekend sal stel.

Francois sal nou ook makliker kan oor wip vir ‘n vinnige besoekie en gou saam met ons kom MOB.

Die Chinese sal nou baie lekker vir ons ook kan kom kuier en op safaris en jagtogte gaan.

Dink net aan die moontlikhede.. eg Suid Afrikaanse geregte van eksotiese wild diere vir die Chinese om te proe.

Ek wonder of die Dalai Lama nou vit Tutu se verkjaarsdag kan kom kuier.

O ja, ek is seker ons lugwaardinne gaan bietjie versigtiger wees as die wat die dwelms London toe gesmokkel het…

So daar is dit nou.

Alweer die weer

Januarie 14, 2012 in Sonder kategorie

My gunsteling weerwerf het die weer die afgelope twee dae verkeerd voorspel.

Eintlik nie soseer die weer nie, maar sekere aspekte daarvan. Soos byvoorbeeld die hoogte van die deining op die see. Streng gesproke is dit nie ‘n weervoorspelling nie, maar seetoestand-voorspelling.

Om die seetoestand reg te kry is vir my belangriker as reën of sonskyn, synde dat dit in elk geval nat is binne in die see.

MAAR … wind is die eintlike faktor.

Rigting, snelheid en vir hoe lank hy gaan waai, want wind regeer die see.

Anyway, Windfinder het een helse groot see voorspel, maw moerse branders en so. Vir gister en eergister nou, en dus eintlik vir vandag ook.

Nou, my vinger het nou die dag al genoegsaam herstel dat ek die krewe met volle toewyding met linker en regterhand kan gryp, en nie worry oor waar al die skerp horingkies, stekeltjies en doringkies steek nie. O ja, mens dra handskoene, my handskoene lê gewoonlik die hele plek vol dan koop ek sommer die el cheapo tuinhandskoene in Spar.. maar dan suffer jou hande.

Anyway, ek sou eergister, gister en vandag gaan krewe vang het… maar … vandat hulle die stuk see tussen die hawemuur en Ratelrivier gesluit het ry ek noodgedwonge om na De Wetsbaai toe. Dis fokken ver soontoe. ‘n Uur se ry.

en my dae van “no sea too rough” is verby.  Ek is te slapgat om in ‘n rowwe see in die donner. So ek wil nie ‘n klomp petrol uitry en sien dis ‘n helse mission met moerse branders wat in my rots sloepie in bliksem nie.

Anyway, dis ‘n mooi dag, niks wind nie, slegs matige deining.

Windfinder sê 8 knope suid. Dit beteken windstil. Môre gaan die sedoos 40 kmh waai.

Môre is die laaste dag vir kreef.

Ek gaan soek vir ‘n seekat ook, en vermoedelik gaan ‘n perlemoen my aanval, en uit noodweer sal ek moet moet doodmaak en slag.

Edit : ja, die see was toe omgekrap en heeltemal “om”. en so ontaard dit toe in ‘n  “no sea to rough” dag. En daar donner ek toe in die water in. Wat ‘n fokken mission.  Ek het alles gekry wat ek wou gekry het. Fuck it, Why not.

5 Miljoen rand boete vir twakpraat

Januarie 12, 2012 in Sonder kategorie

Laasjaar het ons die omstrede wetsontwerp oor beskerming van inligting gehad. Daardie sage sal vanjaar voortduur, maar intussen is hier ‘n nuwe wet wat veral sekere bloggers potensieël erg in die wiele kan ry. Die nuwe Weerwet. I kid you not.

Gereelde lesers sal weet dat van die bloggers hier kan toor,  kristalle het, visioene sien, en onweer kan voorspel.

Okay, baie bloggers hier kan visioene sien, dis hoekom ek so paar inskrywings gelede al my prys vir gunsteling blogger aangekondig het.. vir die mees “gerookte” blog van die week. ‘n Mens sien immers die beste visioene as jy die regte soort twak gerook het. Vra maar enige shamaan en toordokter.

Voortaan sal ons egter versigtiger moet omgaan met voorspellings, spesifiek weervoorspellings.

As jy nie SKRIFTELIKE TOESTEMMING van die weerburo het nie, en jy voorspel onweer, soos bv dat ‘n storm die pad Kleinmond toe oor 4 dae gaan wegspoel, dan gaan jy kniediep in die moeilikheid wees. Die boete is 5 miljoen rand.

Tog wil ek julle gerusstel. Die Nuwe Weerwet is net van toepassing op weervoorspellings en besoedeling soos bv ‘n olieramp.

Om natuurlik die einde van die wêreld te voorspel nav die Majas se kalender is nie ‘n weervoorspelling nie.

Ook nie dat meteoriete ons gaan tref, dat die pole gaan omdop, Elvis gaan terugkom, en die nuwe Fuhrer eersdaags ‘n staatsgreep in Duitsland gaan uitvoer nie.

Iemand het vandag ingeskryf Burger toe en voorspel dat in 2012 die WP nie die Curriebeker gaan wen nie, ‘n SA span nie die super 16 gaan wen nie, en SA beslis ook nie die 3 nasies gaan wen nie. Dan weer, dit is alles sekerhede, en geen visioen of kristalbal is nodig om dit te weet nie.

So julle kan maar lustig julle onderskeie visioene op hierdie goeie webwerf uitlê. Solank dit net nie voorspellings van onweer is nie.