Speedbump
Maart 19, 2012 in Sonder kategorie
Die oefenkamp was vir die naweek opgeskort agv Vrydagaand se rugby wat die Stormers so mooi gewen het, en die feesvieringe en jolyt daarna.
Saterdag is dit opgevolg deur ‘n helse partytjie in Saldanhabaai. ‘n Klomp oesters en vonkelwyn was betrokke . Die vonkelwyn was droog genoeg, en het vermoedelik min genoeg suiker in om nog in te pas by die lewensstyl verandering. verder het oesters niks stysel in nie, so ek is seker dit was ook toelaatbaar om hulle te verorber.
Al probleem is dat ek die naweek niks geoefen het nie.
Intussen het my fikse broer gister ook draai in die Kaap gemaak. Die een in sy middelsestigs wat redelik ernstig fietsry. Voortaan bekend as Johannes Fiks.
Hy het so pas die “Cape Outback” resies afgelê. Dit was 400 km op allerhande veldpaadjies tussen Stilbaai en Stanford.
Op dag 3, dit was Saterdag, was die skof 130 km, en totale opdraandes vir die dag was 1400 meter.(vertikale styging).
Hulle het genadiglik by Strandveld wyne oornag. Johannes Fiks het op Sondag die wyn vir sy moegheid blameer, aangesien hulle hulleself blykbaar Saterdagaand mildelik gelaaf het met die Strandveld se beste. Later sou hy erken die lafenis was nie net beperk tot een aand nie, maar het inderdaad elke aand plaasgevind want hulle was na elke dag baie moeg en dors van al die fietstrap in die fynbosse.
Gister se skof was maar net 76 km , maar die vertikale styging was meer as 1600 meter.
‘n Mens moet hierdie resies as ‘n span doen. Twee ryers is ‘n span. 50 Spanne het deelgeneem, so net 100 ryers. Nie heeletmal ‘n Cape Epic nie, maar die “Epic” is ‘n perd van ‘n ander kleur.
My Sondagpreek ek ek toe van Johannes Fiks ontvang, om my gat in rat te kry en harder te oefen. Hy reken ek behoort volgende jaar aan die Outback te kan deelneem.
Dit is nou maar al.
Hierdie week is die kerf 20km per dag op die ou fietsie, mens moet seker maar die kerf geleidelik hoër maak. Ons sal maar sien hoe dit gaan.
Dis ‘n lang pad wat voorlê.
Onlangse kommentare