Die Roeping van die See en Gay Predikante.

Desember 1, 2011 in Sonder kategorie

Die krewe roep my, maar my verkoue ontroep my weer, en ek moet ‘n ander kreefsak gaan kry, want myne het ‘n vreeslike swak ontwerp want die krewe hak vas aan die bek van die sak as ek hulle probeer instop.

Op hulle beurt hak hulle bekke weer vas aan my hanskoene, of eerder, die dôners probeer my byt. Soos gewoonlik wyk ek al weer af van my eintlike onderwerp naamlik “die roeping”.

Byvoorbeeld: die roeping van die onderwys, en veral die een wat die hoogste geag word: as God jou Roep.

Hier in my dorp is dit maklik om geroepe te voel. In die ou dae sou dit die bankbestuurder gewees het wat jou roep, “a real calling” soos hulle in engels sou sê. Telefonies. Meneer Pap! jou bankrekening is ALWEER oortrokke met tien duisend rand! Wanneer gaan jy dit regstel?  Okay, deesdae kry mens mos net ‘n sms wat basies fokjou sê, maar die gedagte is dieselfde.

Oomblikke nadat ek ‘n geroepene geword het, word ek alweer geroep. Hierdie keer is daar nie ‘n telefoon wat lui nie, ek hoor slegs ‘n stem in my kop.

“kom haal my, kom haal my!” hoor ek.

Jou wrintiewaar! dis die perlemoene wat my so vreeslik roep, en teen R 350 per kilogram hoor ek hulle stemme hard en duidelik.

Raait as ek vir die volgende 5 dae lank elke dag 20 kilogram uithaal het ek 100 kg wat ek vir R 35 000 kan swaai.

Klink vir my na ‘n ware roeping.

Of was die bankbestuurder (of klerk)  se roeping (se sms) dalk die ware een.

Ek wonder altyd oor hierdie “roeping” besigheid.

Eintlik maar net iets wat jy self graag wil doen.

Die Everest roep my of Namibië roep my.

Ek wil graag dit of dat doen, en natuurlik, dan “roep” dit of dat my. 

Ek kan dit nie help nie, ek is geroepe daartoe.

Soos ‘n hele klomp bliksems hier op my dorp wat weier om hulleself enigsins verby ‘n baie elementêre vlak te bekwaam “want ons lewe uit onse see” en “my pa was ‘n visserman, en sy pa was ‘n visserman, en ek is ‘n visserman” en ons is ” so gemaak en so laat staan”.  Ja, kan seker nie help dat hy onosel is nie, maar dom onosel?

So hoe werk dit as God jou Roep?  Ook maar ‘n stem in jou kop? Of allerhande tekens soos Gideon ontvang het? Of soos Jules in Brett se flat in Pulp Fiction?

Of is dit maar net een of ander poging om die verantwoordelikheid vir jou eie besluit gerieflik te verplaas.

O ja, die gay predikante!

Al vraag wat ek hieroor het is wanneer die Gaums tot die voorblad gesprek gaan toetree?

Die koerantbase lag lekker, ek ook, maar dis ‘n ander soort lag.

19 antwoorde op Die Roeping van die See en Gay Predikante.

  1. TS het gesê op Desember 1, 2011

    Klink of die roeping jou moet ryk maak?

  2. palamino het gesê op Desember 1, 2011

    die krewe veg vir hulle lewe

    o ja, wees op die uitkyk vir brandende braambosse .. en trek by voorbaat jou sendels uit

  3. Enige mens word geroep, maar daar is net twee roepers: Yahweh of satan. Die kuns om agter te kom wie roep.

  4. Vetjan het gesê op Desember 1, 2011

    ja nee, meer as 2 stemme in jou kop moet erg wees

  5. Vetjan het gesê op Desember 1, 2011

    nie noodwendig nie, maar as dit jou van drank kan voorsien is dit ‘n bonus

  6. Vetjan het gesê op Desember 1, 2011

    uittrek!? nee man, netnou steek iets my dalk!

  7. Mens wonder of die anonieme twyfelaars wat daardie boek geskryf het ook geroepe was…..

  8. avega het gesê op Desember 1, 2011

    Daar is verseker mense wat ‘n ‘roeping’ op hulle lewe het om iets teen die normale kultuur te doen. Ek en my man is ‘n voorbeeld daarvan. Hy het sy beroep prysgegee vir 10 jaar, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Vriende van ons van SA (in hul 60’s) bou huise in die Suide van Indië in die gebied waar die tsunami huise vernietig het, waarom dit enigsins doen as jy nie weet dat God jou geroep het vir hierdie spesifieke taak nie? http://handsonhouses.com/

  9. Vetjan het gesê op Desember 1, 2011

    Hoekom sou die huise in Indië nou hoër prioriteit geniet as elders… of voel Hy dalk skuldig oor Hy die tsoenami gestuur het om die huise weg te spoel … en toe Roep Hy Suid Afrikaners om in Indië te gaan huisbou?

  10. Vetjan het gesê op Desember 1, 2011

    roeping is ‘n “cop out”

    In gewone taal noem ons dit ‘n kak besluit of ‘n goeie een

  11. Vetjan het gesê op Desember 1, 2011

    hulle het die Stem gehoor… maar dit was nie Langenhoven s’n nie.

  12. avega het gesê op Desember 1, 2011

    Jou sarkasme oor God se redes waarom Hy sekere goed op ‘n sekere manier doen is onvanpas. Ek stem saam as ons meer geweet het waarom sekere goed gebeur sou die lewe makliker gewees het. Waarom doen jy wat jy doen in die lande waar jy dit doen? Waarom is jy nie in ‘n skwatterkamp gebore nie? Waarom neem jy krokodille onder die water af? Elke mens lewe die lewe soos hy geroep is om te doen. Maar aan die 47 weduwees wat nou al huise gekry het maak die roeping wat op Don en Margie se lewe geplaas is ‘n moerse verskil. Wat as Moeder Theresa nie Calcutta toe gegaan het nie? So by the way Don het huise ontwerp wat met betonpanele aanmekaargesit word wat tsunami bestand is, no use om hulle in Diepsloot te bou.

  13. Vetjan het gesê op Desember 1, 2011

    Ek dink weer dis onvanpas van mense om nie verantwoordelikheid vir hulle eie besluite te neem nie, maar te beweer hulle is “geroep” om dit of dat te doen.

    Ek besoek plekke en doen goed omdat ek dink dit is interresant en lekker.

  14. avega het gesê op Desember 1, 2011

    Ek dink nie dit beteken noodwendig dat hulle nie verantwoordelikheid neem vir hulle besluite nie, dis net vir hulle is die motivering ekstern en vir jou intern. Van my perspektief af maak dit hulle minder selfgesentreerd, maar dit hoef nie noodwendig so te wees nie, miskien is dit ‘n veralgemening. Anyway as jy eendag tyd spandeer met iemand soos Don en Margie en sien wat hulle doen en hoe dit mense se lewens verander sal jy miskien verstaan wat ek bedoel.

  15. Vetjan het gesê op Desember 2, 2011

    Nee, die hoogtepunt van arrogansie is mense wat beweer dat god hulle opdragte gee om dit of dat te doen nie.

    Ek het niks anders as totale minagting vir sulke dwepende bedrieërs nie.

  16. avega het gesê op Desember 2, 2011

    Snaaks genoeg is dit die nederigste mense wat ek ken wat hulle eie behoeftes prysgee en hulle lewens en resources gee vir ander. Maar jy’s geregtig om te dink wat jy wil.

  17. Vetjan het gesê op Desember 2, 2011

    Ek dink jou vriende doen baie goeie werk om vir arm mense huise te bou ens. My argument is glad nie teen hulpverlening of liefdadigheid as sulks gerig nie.

    Aleen teen die gedagte dat mense werklik dink dat hulle is so spesiaal dat hulle kommunikasie van god ontvang.

    Ek weet ook daardie gedagte berus op geloof en dat hulle nie kan “help” dat hulle so “geseend” is nie ens.

  18. As jy daai krewe nader geroep het kan jy my ook maar roep 🙂

  19. Berwick het gesê op Desember 7, 2011

    Pulp Fiction – tog steeds ‘n goeie fliek.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.