Jy blaai in die argief vir 2011 Julie.

‘n Besluit.

Julie 26, 2011 in Sonder kategorie

Hier langs die Okavango weet ons dit is vrek koud in SA, vroegoggend byt die koue reg deur jou slaapsak.

So week of wat gelede laai ek Blommekind toe op in Pretoria, en ons ry toe weer al die Noord, so wye draai verby die Delta, en toe langs die pypsteel op tot by Sepopa.

Alweer die krokke. Die Amerikaners is ook hier.

Een se bagasie het iewers die pad byster geraak, en alles was vir die ander een net te veel. Ons besef nie altyd hoe intimiderend die wildernis, en die rivier, en alles vir die buitelanders is nie. Verswarende faktore is verder die traak my nie agtige houding van lugrederye oor vertraagde/verlore bagasie …… dan weer, as mens heeldag nie die gesanik moet luister verstaan ek die traakmynieagtigheid… veral as dit nie jy is wat die tasse laat wegraak het nie, maar slegs die drommel is wat na die klagtes moet luister.

So by so gebeur dit vanoggend toe dat die Amerikaners nie onder die water sou kom nie… maar die bootjie gaan nog steeds uitvaar… en ek vra vir Blommekind of sy lus is om in die rivier te klim … maar ek kon self nie saam nie, ek moes aan wal bly om die verlore bagasie te probeer opspoor.

Sy kry toe al haar duikgoed bymekaar, en die lot vaar stroom op…. en ek ry Shakawe toe… so sy is op haar eie, of ten minste op haar eie saam met die manne.. maar hulle sou nie saam duik nie

Sy is taai en ervare, en die gids ken sy storie… maar … sy is my kind… en hier is groot krokkedille….

Op pad terug van die dorp af begin ek bekommerd raak, miskien het iets verkeerd geloop …

Dit was haar eerste Okavango duik, die krokodil was 3.5 meter, ‘n goeie 10 voet dus. Sonder aarseling het sy in die water ingegly en die krok onder die water bekyk .. ek verstaan haar oe was groter as pierings… maar sy het dit gedoen, en sy was fine

Vanaand langs die vuur het almal ‘n lekker dop gedrink, en sy bevind haar in ‘n baie eksklusiewe klub.

Besluite was geneem, en gelukkig gaan dit nie kom spook nie… maar vir ‘n rukkie vandag het ek gewonder.

Scientia est Vires

Julie 13, 2011 in Sonder kategorie

 Ook wat krokodille aan betref.

 

Dit is ook nie te slegte leuse vir ‘n skool nie, maar natuurlik kan alle skole nie dieselfde leuse hê nie.

 

Kennis bly nog steeds mag, en mens moet dan maar probeer om jou hipotese te toets.

 

Omdat my nabye familie my teen hierdie tyd ken vra hulle nie meer of ek dan nou mal geword het/nog steeds is nie.

 

‘n Kar het anyway vir ouboet half des moers gejaag van sy fiets af , bekkenbeen gebreek, lank in die hospitaal ensovoorts, en Jaagduiwel het kleintyd al ook in die hospitaal beland met konstruktiewe chirurgie aan sy wangbene en so aan nadat hy van sy skaatsbord af gebliksem het. Dan praat ek nie eers oor al die ander dinge wat lede van bg groep oorgekom het nie … en hier verwys ek net na “self inflicted” gevalle.

 

Myns insiens is mense wat in Gauteng woon anyways stapelgek… so die bottomline is dat mense wat dit oorweeg om onder die water te soek na krokodille nie noodwendig maller as enige iemand anders is nie.

 

In hierdie geval was ons groepie nie die voorlopers nie, ander mense, soos byvoorbeeld ons bekwame gids het dit al voorheen gedoen. Destenieteenstaande moes ek sy arm redelik buig voordat hy ingestem het om ons te vat.

 

Soos ek voorheen gesê het, in ons groepie was ‘n paar vermaarde fotograwe, en die doel was om goeie onderwaterfotos van die krokke te kry. Die media is ‘n kompeterende besigheid, en dit sluit natuurtydskrifte ook in. Almal sou iets leer.

 

Die hipotese is dat krokodille jou onder die water nie as prooi gaan beskou nie. Dit is nou as jy ook onderwater is.

 

Die teorie – krokodille jag aan die oppervlakte. Hulle is wel amfibiese reptiele, maar hulle vang hulle prooi meerendeels aan die oppervlak, of ten minste groter prooi. Onderwater is jy dus nie ‘n potensiële prooi nie.

 

Ons weet ook dat hulle koudbloedig is, daarom kan hulle met bittermin kos klaarkom. Veral in die winter wanneer die water koud is, en hulle energie probeer bespaar. So hulle hiberneer soortvan in die winter. Winter is nou, vir in case enige van julle lesers in die noordelike halfrond sit.

 

Die krokodilnavorser in Maun is ‘n gawe engelsman, ek is seker bevooroordeeld omdat hy ‘n Matie is.

Nietemin, hy het vir my twee belangrikke brokkies inligting gehad – 1. krokodille sien vreeslik sleg onder die water, en 2. Hulle het sulke sensoriese kolletjies rondom hulle bekke , amper soos die ampullae van Lorenzini by sekere haaie.

 

Ons moes dus versigtig wees vir die voorkant van die krokodille, dis nou die kant wat byt !

 

Verder was daar ook ‘n ander stukkie logika om in gedagte te hou…. as jy nie ‘n krokodil sien nie, beteken dit nie ‘n krokodil sien nie vir jou nie. Hy lê miskien iewers tussen die riete en loer vir jou.

 

In fact, jy kan seker wees een lê iewers tussen die riete en kyk vir jou! En hier is baie fokken riete, daarvan kan ek julle verseker.

In die praktyk beteken dit dat mens in die middel van die rivier van die boot af in die water gly. Geluidloos en reguit bodem toe. Niks gehanna hanna aan die oppervlak nie. Jy sorteer jouself, jou kamera, en jou issues uit waar jy onder op die bodem sit en wag vir die ander om aan te sluit.

 

Dieselfde vir die uitklimslag, dis net 1 2 3, dan moet jy op die boot wees. In die middel van die rivier. Ver weg van die riete en papirus af. Kamera op, silinder op, jy op. Klaar.

 

” a bad workman blames his tools” Ek weet ! My fotos het nie te watwonders uitgekom nie. Kon nie ‘n metode uitwerk om die outofokus lens in die donkerte te laat fokus nie, en as die lens nie wil fokus nie, dan wil die kamera nie afneem nie, al is die kamera op “manual”gestel. Dis die verdomde lens wat nie ‘n “manual” knoppie het nie. Die fotos wat ek van ta onder in die papirus grot geneem het , het nie so lekker uitgekom nie.

 

My makkers het baie beter gevaar, en ons gids het ‘n opwindende stukkie aksie met video vasgevang.

 

 

 

Hierdie is een van my “beter” onderwater fotos.

 

 

 

Die ingang van ‘n tipiese papirusgrot.

 

 

 

 

Ta sit daar agter in die grot, maar my beligting was nie so goed nie.

 

Een van die “pro’s” het my vertel my kamera se sensor is vakkies, dit is hoekom daar so baie “geraas” op die foto is.

 

As jou verbeelding goed is, dan sal jy vir ta sien waar ek die wit pyltjies ingeteken het.

 

 

Daarom wys ek maar die foto wat my maat John geneem het net voordat ta oor hom geloop het.

 

 

 

 

Die video van die aksie.

 

 

John se mening.

 

John se blog. Sy webblad se naam is toevallig Mad Guppie. Om sy blog te lees moet jy maar deurklik na sy dagboek , en dan na die Okavango trip toe.

Op soek na die Groot Krokodil

Julie 12, 2011 in Sonder kategorie

Die een ding van die Okavango piksteel is die baie riete en papirus. Die papirus se wortels is nie vas in die grond nie, mens kry eintlik sulke drywende papirus eilande. Die papirus eilande raak verstrengel in die ander plantegroei, so mens dink daar is land…. maar daar is nie.

Land sien jy aan bome. As daar odrentlike bome groei, dan weet jy daar is land.

Intussen vleg die rivier deur al die plantegroei, eilandjies, drywende eilande en alles deur.

Ek verstom my aan ons skipper se navigasie vermoë, een stuk van een kanaal, lyk presies net soos ‘n ander stuk van ‘n ander kanaal.  Naby “4 Ways Island” kry ons toe sy kleinerige vlak lopie.  Vier van die kanale of strome in die rivier ontmoet naby die eiland, vandaar die naam.

Daar is ‘n belowende eilandjie ….. met ‘n fris krokodil op !

Die oomblik toe die boot naby kom, plons krok die water in.

Waar kruip hy weg?

Die soektog is aan ………..

lelies

Behalwe riete en papirus, is die lelies opvallend.

 

 

 

bootjie

 

Spieelbeelde

 

 

krokeiland

 

Krokodil het onder die palmboom links lê en bak.

 

 

eilandjie1

 

Mens vaar eers so bietjie stroomop, krok het klaar in die water gespring.

 

spore

 

Spoor op die sand

 

naby

 

Twee duikers soek die wegkruipplek ……

 

 

word vervolg

Okavango Delta

Julie 7, 2011 in Sonder kategorie

okavango

Die rooi streep is hoe ons van Maun af gery het. Alles teerpad. Die pyltjie is waar ons is.

Meer as 1000 km noord van Rundu in die hoogland van Angola ontspring die Cubango and die Cuito riviere. By Dirico vloei hulle saam , en word die Okavango. Vanaf Rundu vloei die rivier 200 km ver oos, en vorm die grens tussen Namibië en Angola.

 

By Divundu/Bagani draai die rivier skerp regs, en vloei Botswana in by Shakawe.

 

Die Okavango is uniek want hy loop nie uit in die see nie, maar verdwyn letterlik in die lug.

 

Die delta is nie die einde van die Okavango nie. Tydens “vloedjare” soos tans, vloei daar weer riviere uit die delta uit verder die groot Kalahari in.

 

Die Boteti voer die groot Makgadigadi panne. Gister het ek doer ver in die sentraal Kalahari die Boteti sterk en vol sien vloei. Dit was die eerste keer dat ek die normale droë loop as ‘n groot rivier gesien het.

 

Die hoofpaaie in Botswana is goed. In Maun voor die Spar en Shoprite staan al die Suid Afrikaanse “trekke”. Die osse is ‘n nuwe Fortuner of Discovery, en die wa is ‘n Venter Safari of Bushwacker of Conquerer. Baie het tweerigting radios in… dat niemand sal verdwaal nie. By die Wimpy en Nandos eet die kinders gou middagete, terwyl Ma by Shoprite inkopies doen.

 

Die lughawe is besig. Elke paar minute styg of land ‘n vliegtuig. Die buitelanders , netjies uitgevat in die nuutste safaridrag vlieg na die “lodges” toe.

 

‘n Mens kan die Okavango delta tog ook redelik goedkoop bereik, jy kan sommer in jou gewone karretjie spring en soontoe ry. Die petrol in Botswana is omtrent 30% goedkoper as by ons.

 

Die buskaartjie van Johannesburg na Maun kos R 400.

 

Jy kan ook in die Kaap op Interkaap se bus spring en by Divundu afklim, en na ‘n paar dae se kamp naby die Popa valle, ‘n lift kry Shakawe toe, en dan met die bus Maun toe ry.

 

Ek noem maar hierdie goed want mense dink jy het ‘n helse 4×4 ekspedisie nodig om in die Delta te kom …. maar eintlik is dit maklik. Geen 4×4 kan in elk geval in die hart van die Delta kom nie, daarvoor is ‘n boot nodig.

 

 

Ons het van Maun af omgery Nxamaseri toe. Dit is 20 km noord van Sepopa, en 30 km voor die

Namibië grens by Shakawe.

 

 

Hoekom ?

Julie 5, 2011 in Sonder kategorie

Dit is altyd die vraag.

Ons weet dat in sy eie omgewing sit die krokodil aan die bopunt van sy voedselketting.

maar verder … wat weet ons regtig? ……. amper niks nie.

Wie het al ooit gaan kyk wat daar onder aangaan?

Hoe gevaarlik is dit? Gaan die nare krokodil ons dadelik opvreet as ons sy domein “betree” ?

en hoekom wil ons weet.. of miskien is die plan nie om “chicken” te speel met krok nie…. miskien is ons besig om iets meer te porbeer uitvind, en in die proses miskien  die “logiese” aanname te weerle.

Ons sal moet sien.

Ek kan nie my fotos gelaai kry nie 🙁

Okavango 2

Julie 4, 2011 in Sonder kategorie

Amos die Israeli woon deesdae in San Francisco. Hy is ‘n kranige fotograaf, nie ‘n poer poer een soos die uwe nie. Dis eintlik hy wat die krokkies wou gehad het. Sy trawante ook. Daniel, die Brasiliaan, en John, die Amerikaner. Almal met mooi Bybelse name, net soos Petrus. Hulle wil die krokodille afneem.

Onder die water.

Dit behels noodwendig ‘n swemmery.

Krokodille kan nogal boosaardige dierasies wees as hulle die dag wil. Daarom moet ons baie versigtig wees.

Vir so twee maande van die jaar is die Okavango pypsteel se water hoog, helder en koud.

Koud is goed. Die krokke is dan lui, en nie baie aktief nie. Helder water is ook goed. Mens wil kan sien wat aangaan.

Hier is ook baie papirus.

Onder die papirus is donker tonnels en grotte.

lelie

DANIEL

 

 

Daniel tussen die lelies

Die lyn hier in die bos is bietjie oorlaai, so ek sal anderdag meer fotos en goed plaas.

Okavango 1

Julie 3, 2011 in Sonder kategorie

Maun het die afgelope 10 jaar “geboom”

Spar het 2 takke, en Shoprite het ‘n groot winkel. Daar is ‘n Nando’s, ‘n Galito’s, ‘n Wimpy, en baie ander winkels.

Maandag het ons toe naby die lughawe ontmoet, en drie van ons is met al die swaar bagasie en goed vort. Op ‘n ligte vliegtuigie is die bagasie beperking maar 12 kg. Drie gelukkiges het ‘n vlug oor die delta “gescore”.

Bestemming – Nxamaseri, omtrent 30 km suid van Shakawe. Nxamaseri is op die Okavango “panhandle”, baie naby aan  die plek waar Delta regtig begin.

Ons het krokodille kom soek, en laaskeer het ek mos uitgevind waar die meeste krokodille was.

boot

Ons moes toe met ‘n bootjie deur die grasse en goed vleg tot by ons blyplek

 

okavango2

Okavango

foto